Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Medeskepper van Monthy Python (77) dood
Terry Jones by die 2015 Tribeca-rolprentfees in New York. Foto: Getty Images

Die grapjas Terry Jones, onder meer die medeskepper van die Britse komediegroep Monty Python, is Dinsdag in die ouderdom van 77 dood.

Volgens ’n familieverklaring, wat die BBC op sy webwerf gepubliseer het, is die Walliese akteur, skrywer, komediant en akademikus “ná ’n lang, ongelooflike dapper stryd, maar altyd in goeie gees, teen ’n seldsame vorm van demensie” – bekend as frontotemporale demensie – dood.

“Sy vrou, kinders, uitgebreide familie en baie van sy boesemvriende was die afgelope paar dae konstant by hom terwyl hy stadigaan in sy huis in die noorde van Londen weggeglip het,” lui die verklaring.

“Ons het almal ’n gawe, snaakse, hartlike, kreatiewe en waarlik liefdevolle man verloor, wie se onversetlike individualiteit, onverbiddelike intellek en ongelooflike humor die afgelope ses dekades miljoene mense vermaak het.

“Sy werk met Monty Python, sy boeke, rolprente, televisieprogramme, gedigte en ander werk sal vir ewig voortbestaan – ’n gepaste nalatenskap van ’n ware veelweter.”

Jones is in 1942 in Wallis gebore, maar het in Engeland grootgeword. Hy het volgens The Guardian naam gemaak as akteur in en skrywer van TV-reekse soos The Frost Report en The Complete and Utter History of Britain, voor hy Monty Python in 1969 saam met Michael Palin, John Cleese, Graham Chapman, Eric Idle en Terry Gilliam gestig het. Die groep se eerste TV-reeks, Monty Python’s Flying Circus, is van 1969 tot 1974 uitgesaai.

Michael Palin, John Cleese, Eric Idle, Terry Jones en Terry Gilliam by ’n spesiale vertoning van ‘Monty Python and the Holy Grail’ by 2015 se Tribeca-rolprentfees in New York. Monty Python se sesde lid, Graham Chapman, is in 1989 oorlede. Foto: Getty Images

Jones het ook as TV-vervaardiger van historiese dokumentêre én as rolprentregisseur van onder meer Monty Python and the Holy Grail (1975), Monty Python’s Life of Brian (1979) en Monty Python’s The Meaning of Life (1983) uitgeblink.

Hy het daarby ook onder meer 20 kinderboeke geskryf en is in 2016 met ’n Bafta Cymru-prys vir sy lewenswerk vereer.

Jones is in 1970 met die biochemikus Alison Telfer getroud, saam met wie hy twee kinders, Bill en Sally, het. Hy is in 2012, in dieselfde jaar wat hy van Telfer geskei is, met Anna Söderström getroud. Hulle is die ouers van ’n dogter, Siri.

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

Meer oor:  Komedie  |  Tv  |  Flieks  |  Terry Jones
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.