Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Nuwe superhelde vanjaar by Comics Fest geskep
’n Voorbeeld van Kwezi.

Strokiesverhale is ’n uitstekende manier om stories te vertel. Dit het baie potensiaal om mense te laat kyk en leer en boonop is daar in strokies moontlikhede opgesluit wat nie in romans te vinde is nie.

Daarom is die insluiting van strokiesverhale en hul skeppers en skrywers vir Frankie Murrey, organiseerder van Open Book, nodig en welkom op dié boekefees.

Vanjaar vind die Comics Fest gedurende die naweek van 9 en 10 September in die District Six Homecoming Centre plaas as deel van die Open Book-fees.

Daar is vanjaar geen internasionale deelnemers nie.

“Dis baie opwindend om te sien hoeveel plaaslike kunstenaars daar is wat strokies skep,” sê Murrey. Daar is vanjaar meer as 20 wat deelneem.

Volgens Murrey neem die belangstelling in die Comics Fest jaarliks toe. Baie mense wat die fees in die verlede besoek het, raak geïnspireer en wil ook deelneem. Ander gereelde deelnemers waak jaloers oor hul ruimte in die lokaal en wil jaar ná jaar terugkeer.

Murrey sê dit is baie verblydend dat uitgewers nou ook begin het om strokiesverhale uit te gee. So is daar byvoorbeeld Loyiso Mkize en Clyde Beech se Kwezi wat deur David Philip-uitgewers uitgegee word. “Kwezi” beteken ster in Xhosa en Zoeloe en gaan oor ’n 19-jarige wat uitvind dat hy supermagte het. Hy begin half as ’n antiheld, wat vasgevang is tussen die groot stad se versoekings en sy kulturele agtergrond.

’n Tekening uit Frank Lunar se Sulfur-reeks.

Soos gewoonlik gaan die Comics Fest met baie aktiwiteite gepaard. Die bekende illustreerder Andy Mason is in beheer van ’n groot “kompetisie” (Monster Battle Draw Off) wat gedurende die naweek plaasvind. Deelnemers moet op ’n uitklopgrondslag vir ses rondes lank teken. Die wenner gaan deur na die Sondag se Monster Battle 3. Die tekeninge gaan opgeveil word om geld in te samel vir slypskole vir jong kunstenaars.

Die animasie-ghoeroe Mike Scott bied werksessies aan en gee raad by die Comics Fest se demonstrasiesessie op die Saterdag en die volgende dag wys Hugh Upsher en Martin Mezzabotta hoe om ’n zine van begin tot einde saam te stel. ’n Zine is ’n kort selfgepubliseerde werk met oorspronklike teks en tekeninge wat gewoonlik met ’n fotostaatmasjien gemaak word. Dis gewoonlik een mens of ’n klein groepie wat aan so ’n produk werk.

Skoolkinders kry op 7 September die kans om uit die kreatiwiteit en ondervinding van Roberto Millan en Su Opperman te put om hul eie superheld te skep.

“Daar gaan ook ’n beperkte getal sakke wees wat in samewerking met uHlanga Press gemaak is. Kunstenaars is gevra om kunswerke te skep na aanleiding van ’n versreël uit ’n gedig van plaaslike digters. Die geld wat uit die verkoop van die sakke kom, gaan gebruik word vir Open Book se biblioteekprojek,” sê Murrey.

Kunstenaars en ateljees wat deelneem aan Comics Fest, is André Bozack, Andy Mason, Ashe Ah-Sing, Ben Geldenhuys, Ben Winfield, Caitlin Mkhasibe, Carla Botes, Clyde Beech, Danelle Malan, Daniël Hugo, Danielle Albertyn, David du Plessis, Deon de Lange, Dianne Makings, Frank Lunar, Gabriel Metcalfe, Gabriella Jardine, Hugh Upsher, Jess Bosworth Smith, Karl Schulschenk, Kay Carmichael, Kit Beukes, Loyiso Mkize, Martin Mezzabotta, Maya LeMaitre, Moray Rhoda, Nick L’Ange, Nina Pfeiffer, Readers Den, Ree Treweek, Roberto Millan, Robyn-Jade Hosking, Sector Comics, Sjaka S. Septembir, Su Opperman, Unblush Collective, Wessie van der Westhuizen, Zapiro en Ziyaad Rahman.

Vir meer besonderhede besoek http://openbookfestival.co.za/events/comics-fest. Daar is ’n volledige lys van wat die deelnemers aanbied.

Comic Fest is Saterdag 9 September van 09:30 tot 18:00 en Sondag 10 September van 09:30 tot 17:00. Bespreek vooraf vir geleenthede by Webtickets (www.webtickets.co.za).

Open Book vind van 6 tot 10 September plaas in die Fugard-teater, by die District Six Homecoming Centre, die A4 Arts Foundation, die sentrale biblioteek in Kaapstad en The Book Lounge van 10:00 tot 21:00 elke dag van die fees. Dis vanjaar die sewende jaar wat die fees aangebied word.

Meer oor:  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.