Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
OSM-reeks ’n tonekrul-program
Die Harmonic Brass Munich se lede is van links Elizabeth Fessler, Hans Zellner, Andreas Binder, Thomas Lux en Manfred Häberlein.
Kristof Baráti
Stefan Temmingh

Enigeen met ’n hart vir musiek sal moet keer of dit spring uit met die lees van vanjaar se OSM-konsertreeks. Van die beste kunstenaars keer terug en onder die eerste besoekers is musici wat jy nog altyd begeer het om in ’n lewende uitvoering te hoor. Hou veral Maart oop vir drie uitsonderlike uitvoerings.

Die Harmonic Brass Munich met sy briljante en hoogs vermaaklike kwintet koperblasers “trompetter” die maand binne. ’n Week later neem Suid-Afrika se fluitspelende Grammy-wenner Wouter Kellerman die opwinding verder wanneer hy en die Odeion-strykkwartet musiek op ’n ander vlak aanbied.

Diegene wat in 2013 na die blokfluitwonder Stefan Temmingh geluister het, sal weet hoe betowerend sy spel op dié “eenvoudige” instrument is.

Dan is daar ook nog die virtuose violis Kristof Baráti, ’n klarinetfees en laaste maar nie die minste nie, Nettle en Markham, waarskynlik die bekendste klavierduo ter wêreld.

Om die kroon te span bly die toegangsgeld die vierde agtereenvolgende jaar onveranderd. Dit wissel van R40 tot R130.

Al die konserte word in die Odeion-teater op die kampus van die Unviersiteit van die Vrystaat (UV) gehou en begin om 19:30.

Volledige oorsig van jaar se Odeion-konserte

David Nettle en Richard Markham (klavierduo).


Die volledige program vir vanjaar se OSM-konsertreeks lyk só:

  • 4 Februarie: Arnold Bosman-gedenkkonsert Nicol Viljoen, hoof van die Odeion Skool vir Musiek (OSM) aan die UV, speel werke van Mozart ter herdenking van dié dirigent wat in 2005 oorlede is. 
  • 2 Maart: Harmonic Brass MunichDie Duitse kwintet het konsertgangers in 2012 en 2014 met hul geoliede spel en humoristiese aanbieding vermaak. ’n Vroulike trompetspeler, Elisabeth Fessler, het Gergely Lukács (trompet) intussen vervang, maar die ander lede, Manfred Häberlein (tuba), Thomas Lux (trombone), Hans Zellner (trompet) en Andreas Binder (Franse horing), is steeds daar. Program: Vivaldi, Bach, Verdi, Zellner en ander. 
  • 9 Maart: Odeion-strykkwartet en Wouter Kellerman (fluit)Die UV se residentkwartet met Samson Diamond (viool), Sharon de Kock (viool), Jeanne-Louise Moolman (altviool) en Anmari van der Westhuizen (tjello) waak altyd teen stagnasie en met Kellerman as vennoot, kan vonke verwag word. 
    Kellerman, ’n Suid-Afrikaner wat die wêreld vol toer, het verlede jaar ’n Grammy vir sy CD Winds of Samsara ontvang en is vanjaar in die kontemporêre afdeling vir Love Language benoem. Hy is ’n uiters bekwame fluitspeler wat sy eie musiek komponeer en die fluit se volle spektrum van nuanses en klankkleure ontgin.
    Die Odeion-kwartet is self ’n pryswenner van onder meer ’n Kanna en word dikwels vir uitvoerings van ’n internasionale standaard geloof.
  • 18 Maart: Stefan Temmingh (blokfluit) en Erik Dippenaar (klawesimbel) Temmingh, die seun van die Suid-Afrikaanse komponis Roelof Temmingh, het in die Kaap grootgeword en woon in München waar hy ’n bedrywige loopbaan as blokfluitsolis, kamermusikus en sy eie Barok-ensemble het. Hy het al verskeie CD’s die lig laat sien –  The Gentleman’s Flute en Gentleman’s Band is twee – en word dikwels vir TV- en radio-uitsendings in Europa gebruik. 
    Dippenaar het ’n konsertdiploma in klawesimbel en klavier aan die Royal College of Music (RCM) verwerf en in 2006 en 2009 die RCM-kompetisie gewen.
    Program: Nog nie bekend.
  •  22 April: Alexander Ramm (tjello) en Pieter Jacobs (klavier)Ramm het sedert sy eerste oorwinning, in die Moskou-kompetisie vir Jong Tjelliste in 2003, tot dié van naaswenner in die 15de Internasionale Tsjaikofski-kompetisie verlede jaar, menige pryse ingeryg. Nadat hy in 2010 die naaswenner in die tjello-afdeling in die Unisa- Internasionale Strykerkompetisie was, het hy in 2012 sy vaardighede onder luide applous in Boemfontein vertoon. 
    Program: Tsjaikofski, Mendelssohn, Britten, Sjostakowitsj.
  •  6 Mei: Laetitia Grimaldi Spitzer (liriese sopraan) en Ammiel Bushakevitz (klavier)Spitzer, wat met sanglesse by Teresa Berganza begin het en haar studie met ’n meestersgraad aan Julliard in New York afgesluit het, het sedert haar debuut in die Carnegie Hall in New York in 2013 in talle konsertsale en op operaverhoë opgetree en is na ’n swetterjoel feeste genooi. 
    Bushakevitz is ’n Suid-Afrikaner wat ná sy voorgraadse studie aan die Universiteit van Pretoria hom in Europa gevestig het. Daar het hy verskeie akademiese prestasies behaal en hom veral as ’n begeleier van sangers gevestig.  
    Program: Duparc, Faure, Canteloube, Hahn.
  •  12 Mei: Nettie Immelman-gedenkkonsertInligting nog nie bekend.
  •  23 Junie: Kristof Baráti (viool), Bryan Wallick (klavier)Baráti, ’n Hongaar wat sy kinderjare in Venezuela deurgebring het, het die “Oscar” vir violiste ontvang toe hy die Paganini-kompetisie in 2010 in Moskou gewen het. Hy het twee Paganini-concerto’s opgeneem, asook Beethoven, Ysaye en Brahms se vioolsonates. 
    Wallick is ’n Amerikaanse virtuoos wat saam met sy Suid-Afrikaanse vrou in Johannesburg woon. Sy studiepad het in New York begin, gelei na die Royal Academy of Music in Londen en toe terug na Amerika, na die Cincinnatti-konservatorium. 
    Program: Schubert, Bach, Tsjaikofski, Brahms, Sarasate. 
  • 25 Augustus: Dekaanskonsert
  • 1 September: Odeion-strykkwartet
  •  4 tot 8 Oktober: Internasionale Klarinetfees
    Organiseerders van die Europese Internasionale Klarinetkompetisie staan die OSM-klarinetdosent en Buffet Crampon-kunstenaar, Danré Strydom, by met die aanbied van dié eerste klarinetfees in Suid-Afrika. Spelers van België, Peru, Frankryk en China sal uitvoerings en meesterklasse gee. 
  • 20 Oktober: Nettle & Markham-klavierduo
    David Nettle en Richard Markham gee al 30 jaar lank duo-uitvoerings, ’n vennootskap wat hulle na 35 lande geneem het, tientalle feeste en honderde radio- en TV-opnames. Hul menigte CD’s is ’n toonvenster van hul musiek wat ver buite die standaard-repertorium strek. Benewens eie verwerkings sluit hul repertorium talle werke in wat spesiaal vir hulle geskryf is. 
    Program: Schumann, Saint-Saëns, Sjostakowitsj, Puccini.
  •  10 November: Maksim Shtrykov (klarinet) en Misuzu Tanaka (klavier) 
    Albei musici is Juilliard-gegradueerdes met internasionale solo- en kamermusiekloopbane en ’n string pryse op hul kerfstok. 
    Program: Debussy, Saint-Saëns, Ravel, Widor, Poulenc.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.