Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Plaasaanval in RSG-radiodrama bekyk
Elize Cawood vertolk in die radiodrama ‘Grootpad na Kleinkop’ die rol van ’n vrou wat saam met haar man deur rowers op ’n plaas aangeval word. Foto: Argief

Beriggewing in die koerant Beeld oor plaasaanvalle het die bekroonde skrywer Lee Doubell aangevuur om ’n radiodrama oor die misdaad te skryf.

Sy eindproduk, Grootpad na Kleinkop, word binnekort vir die eerste keer op RSG uitgesaai, nadat dit in 2018 ’n finalis in dié radiostasie en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie was. Dit is ’n spanningsdrama wat hy net moes skryf, sê hy.

“Ek is al in my sestigs, so my nuus kom nog op papier. Beeld het amper elke dag ’n storie oor ’n plaasaanval wat nêrens anders bespreek word nie. Jy lees dit en hoe horribaal dit (plaasaanvalle) is, hoe dit die agtergrond van ons lewe geword het. Iemand moes net ’n storie (radiodrama) daaroor skryf.”

Dié taak het Doubell eindelik aan homself toegeëien. Sy spanningsdrama handel oor ’n paartjie in hul sewentigs wat op hul plaas deur rowers oorval word en kort daarna deur die rowers in ’n kattebak gedruk word.

“Die oumense veg eintlik om oorlewing,” sê Doubell.

“As jy ’n drama skryf, het jy altyd ’n sentrale vraag. In dié drama vra ek: As jy weet jou tyd is om, as jy weet jy gaan doodgaan, en jy’s saam met die persoon vir wie jy die liefste is, waaroor praat julle?

“Ek het heelwat mense hieroor gevra. Twee antwoorde het uitgestaan: Jy gaan eerste oor diep dinge praat ja, maar ook oor die klein goedjies in die lewe wat jou irriteer. So daar is ’n bietjie komedie, maar baie drama, ’n spanningselement, en dan die vraag: Gaan die oumense oorleef?”

Doubell het in 2017 die radiodrama Rommel, Rommel geskryf, waarmee hy in dieselfde jaar die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie gewen het. Dit is toevallig dat dié drama ook oor misdaad handel, sê hy.

Misdaad raak ons almal net. My ma is onlangs oorlede, en ’n maand en ’n half voor sy dood is, was daar ’n aanval op haar in die huis . . .
Lee Doubell

“Ek is nie ’n misdaadskrywer nie. Daar is, byvoorbeeld, geen misdaad in my volgende twee dramas nie.

“Misdaad raak ons almal net. My ma is onlangs oorlede, en ’n maand en ’n half voor sy dood is, was daar ’n aanval op haar in die huis – drie ouens het ingekom en haar rondgegooi. Misdaad is daar. Almal kan ’n storie daaroor vertel. Misdaad is (as skrywer) nie my forte nie, maar ek hou van die spanningselement; vandaar seker dat dit in Rommel, Rommel én Grootpad na Kleinkop voorkom.”

Die rolverdeling in Doubell se jongste radiodrama sluit in David Louw, Cindy Swanepoel, Thato Maphoroma en Patrick Monnana. Die veterane Elize Cawood en Anton Dekker vertolk die rolle van die paartjie wat aangeval word. Duncan Johnson behartig die regie.

Doubell sê dis ’n enorme eer dat dié span sy drama lewe gee.

“Ek het al hoeveel keer op feeste vir Elize gesien – nou gaan my woorde uit haar mond kom. Ek is net bly dat skrywers van radiodramas nie betrokke is by die opname nie – dit raak ’n mens tog ’n bietjie. Dis die lekkerte van (radiodrama)skrywer wees: Jy sit maar in jou kantoor en al die ander wonderlike mense soos Elize en Anton doen die magic. Ek is baie opgewonde om dit Donderdag vir die eerste keer te hoor.”

  • Grootpad na Kleinkop word Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodrama word nie vir sensitiewe luisteraars aanbeveel nie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.