Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Prins speel Beethoven saam met KFO
Die pianis Megan-Geoffrey Prins.

Die Covid-19-pandemie het geneem en gegee.

Hy het uitvoerende kunstenaars hul gehore ontneem, maar het ook tyd gegee vir oefen om, soos die pianis Megan-Geoffrey Prins, sy repertorium met ’n menigte werke uit te brei.

Hy het veral op concerto’s gekonsentreer en kyk net wat het hy alles onder sy vingers gekry – Brahms se klavierconcerto’s, Prokofiëf se tweede, die Grieg-concerto, Rachmaninoff se vierde en Chopin se eerste, asook ’n “interessante transkripsie van Strawinski se bekende Petrusjka”.

In die vierde en laaste van die Kaapstad Filharmoniese Orkes (KFO) se Winter Cyber Symphonies sal Prins egter geeneen van die werke speel nie, maar die Klavierconcerto nr. 3 van die meesterkomponis Beethoven.

Dié gebore Riversdaller en nou ’n klavierlektor aan die Universiteit van Pretoria, was werklik opgewonde om saam met dirigent Bernhard Gueller en die KFO op te tree en boonop met so ’n “diepreikende werk” soos die Beethoven-concerto.

“Elke keer as ek sy musiek speel, vind ek dit geestelik bevredigend,” sê hy.

Soos alle uitvoerende kunstenaars mis hy die interaksie met ’n gehoor, maar hy sê hy het darem die 50 orkeslede as ’n gehoor gehad en die toejuiging wat hulle ná die uitvoering gegee het, was vir hom veelseggend.

Prins het in die inperkingstyd enkele optredes gehad, onder meer met die Amici-kwartet, ’n opname met die Johannesburgse Filharmoniese Orkes onder leiding van Brandon Phillips en enkele regstreekse konserte, meestal in Knysna.

Soos vir die meeste mense het die lewenstempo ook vir hom afgeneem. Dit het hy gebruik om saam met sy vrou, Kerri, baie nuwe resepte uit te toets en hy kon meer lees as gewoonlik.

Hy sonder Tara Westover se Educated uit, ’n ware verhaal van ’n meisie wat onder streng Mormoonse reëls en ’n buffel van ’n pa grootgeword het. Sy is nie eens toegelaat om skool toe te gaan nie – en dit in die 1990’s in Amerika, maar het ondanks baie teenslae uitgestyg.

Prins het ’n BMus aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en is vir sy nagraadse studie na die Cleveland Institute of Music in die VSA waar hy onder Antonio Pompa-Baldi sy klavierspel geslyp en ’n doktorsgraad behaal het. In sy studiejare daar het hy verskeie pryse losgespeel.

Sy eerste groot konsertervaring was toe hy as 11-jarige sy concerto-debuut gemaak het, ’n prestasie wat hy verder gevoer het met solo-optredes in Duitsland, Botswana, Hongkong, Amerika en Suid-Afrika. Hy het sedert sy skooljare die pryse ingeryg en was in 2019 die Standard Bank Jong Kunstenaar vir Musiek.

Benewens Beethoven se Klavierconcerto nr. 3 in C-mineur, op. 37 is Mozart se Simfonie nr. 40 ook op die program, albei uitgevoer deur die KFO onder die stok van Gueller.

Die uitvoering kan van 29 Julie tot 3 Augustus op die Quicket-platform geluister word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.