Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Program bekend vir VS Kunstefees in Oktober
Corneli van den Berg, uitvoerende hoof van die Vrystaat Kunstefees. Foto: Verskaf

Nasionale en internasionale produksies is op die program van die Vrystaat Kunstefees wat vanjaar in Oktober aangebied word. Soos verlede jaar sal dit weer aanlyn geskied, wat ’n veel groter gehoor die geleentheid gee om die fees by te woon.

Corneli van den Berg, uitvoerende hoof, sê ingevolge die Covid-19-maatreëls is ’n kunstefees op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) buite die kwessie.

Dit is ook die rede waarom die kunstemark met sy gewilde stalletjies vanjaar weer as die digitale Wolkewinkel plaasvind.

Die goeie nuus is egter dat die tweede klassiekemusiekfees, Vrystaat Klank en Klassik, van 8 tot 14 November lewende verhoogkonserte in die Universitas Geloofsentrum in Bloemfontein aanbied. Dit is moontlik omdat die fees sonder oorvleueling van aanbiedings in een lokaal gehou kan word.

Die Stellenbosse pianis Nina Schumann tree in Vrystaat Klank en Klassik op. Foto: Verskaf

’n Interessante program van uiteenlopende genres, instrumentaliste en werke is saamgestel. Die musici is Nina Schumann (solo-klavier), die Charl du Plessis Trio, pianiste Paul Ferreira en Eugéne Joubert en sangers Linelle Wimbles en Aukse Trinkunas met ’n program van Spaanse liedere, Teresa de Wit (mezzosopraan) en Lesley Matthews (klavier) met ’n vokale uitvoering en die trio Danré Strydom (klarinet), Anneke Lamont (klavier) en Anmari van der Westhuizen (tjello). Die fees sluit af met Vivaldi se enigste behoue oratorium deur ’n ensemble, koor en soliste.

Die Vrystaat Literatuurfees se aanlyn inisiatief, VrySpraak-digitaal, wat reeds sedert Maart aanlyn gesprekke aanbied, gaan steeds voort, terwyl die lewende boek- en digkunsgesprekke in Oktober ook na ’n aanlyn platform geskuif word.

Michael Garbett, die fees se programbestuurder, sê gehore kan uitsien na topgehalteproduksies, waarvan hy vyf uitsonder.

Die Uitweg, gegrond op Kafka se tydlose kortverhaal Blumfeld, an Elderly Bachelor, handel oor ’n oujongkêrel wat twee balle met ’n lewe van hul eie in sy sitkamer aantref. Die balle volg hom terwyl die eensame kêrel ’n manier probeer vind om uit die vreemde situasie te kom. Die onderliggende boodskap is waarom volwasse mense sou ophou speel.

Eensaamheid speel ook ’n rol in die roerende Blomme vir Jupiter, waarin Valie, die nors nar, ’n bus na die einde van die aarde neem. Die noodlot het egter ’n ander plan om hom van sy eensaamheid te genees. Hy ontmoet die joviale Mollie en saam ontdek die twee narre die onmoontlike. Die skrywers en akteurs is Liese Kuhn en Andrico Goosen.

Aku vang ’n ster is ’n móét vir enige toneelliefhebber en ander. Jefferson J. Dirks-Korkee lewer ’n kragtoer in die rol van Aku, wat die maan as sy ma beskou en ’n diamant as ’n geskenk van die maan.

Die stuk speel af op ’n afgeleë plekkie in die Noord-Kaap waar huweliksontrou, moord en selfsug aan die orde van die dag is. Die akteurs is Peter Taljaard, Marijda Kamper, Dion van Niekerk en Hillétje Möller Bashew.

Betewu is ’n solovertoning wat die geestelike gevare en sielkundige stres verken van mans wat geleer word om nie te huil wanneer hulle verwond word nie.

Andrico Goosen en Liese Kuhn in ‘Blomme vir Jupite
Andrico Goosen en Liese Kuhn in ‘Blomme vir Jupiter’. Foto: Verskaf

Die multidissiplinêre toneelstuk Sehlabelo (opoffering) speel in drie wêrelde af met ’n ma en dogter wat met die duiwel dans. Die ma se pogings om “aan die ander kant” te kom, word deur haar frustrasies in die wiele gery.

Gabbing with Gays is ’n unieke projek wat spruit uit ’n muurtekening wat as ’n vertrekpunt vir ’n gespreksforum gebruik word. Lede van die gehoor kry die kans om met behulp van QR-kodes na die gesprekke van die LGBTQIA-gemeenskap te luister. Die projek is egter oop vir enigeen wat in emosionele intimiteit belang stel en dit wil bespreek.

Ander projekte wat ook deel van die Vrystaat Kunstefees is, sluit die Kreatiewe Praktyke-laboratorium in, ’n minikongres deur Vrystaat Kuns en Gesondheid en die Pan-Afrikaanse Kreatiewe Uitruil- Dramaturgiese Laboratorium. Intussen word ook hard aan ’n opwindende dansprogram vir 2022 gewerk.

Hou Netwerk24 asook die Vrystaat Kunstefees se sosialemedia-platforms dop vir verdere aankondigings oor vanjaar se fees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.