Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Radioteater ‘op ’n galop’ terug op RSG

Hoewel die Covid-19-pandemie RSG vroeër vanjaar verhoed het om dramas op te neem, begin die nuwe seisoen van sy gewilde Radioteater Donderdag.

“Ons is terug op ’n galop en al die regisseurs kan weer opneem,” sê Kobus Burger, uitvoerende regisseur: drama by RSG.

Kobus Burger, uitvoerende regisseur: drama by RSG Foto: Phyllis Green

’n Seisoen vol komedie, liefde, ’n lesbiese verhouding, vaderskap, ruimtewesens en weerwolwe lê voor.

“Dis net Maart, en daarna April, wat ons eerste seisoen gekelder het. Al ons ateljees is aangepas. Streng protokols is ingestel en ons het permitte gereël vir die spelers. So ons kon weer voortgaan.”

In die nuwe seisoen maak nuwe skrywers hul debuut, terwyl argiefdramas ook uitgesaai word.

“Die nuwe skrywers is Johann Smith (bekend om sy verhoogwerk), Janie Lighthelm en Hendie Grobbelaar,” sê Burger.

“Hendie het verlede jaar my praatjie tydens die ATKV se Winterskool in Potchefstroom bygewoon, bepaald ’n radiodrama geskryf en sy was met Johanna se Elvis een van die finaliste in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie verlede jaar.”

Johanna se Elvis, met regie deur Amor Tredoux, word op 5 November uitgesaai.

Smith het voorheen die verhoogverwerking gedoen van Mark Behr se roman Die reuk van appels.

Hy het in 2018 ’n Fiësta-teaterprys vir beste vertaling of verwerking van ’n bestaande werk gekry.

Sy eerste radioteks, Boetie ontmoet ’n alien, word op 26 November uitgesaai. Leon van Nierop is die regisseur.

Die seisoen begin Donderdag met Bloedmaan deur Martyn le Roux. Dit volg op sy drama Bloedlyn waarmee hy ’n ATKV-Mediaveertjie in 2016 gewen het.

Op 8 Oktober word ’n nuwe produksie van C.J. Langenhoven se teks Mof en sy mense uitgesaai, en op 15 Oktober kom Die prys deur Joey van Niekerk aan die beurt.

Huishou, gegrond op Philip Rademeyer se gelyknamige toneelstuk wat in 2018 op die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom gedebuteer het, word op 22 Oktober uitgesaai.

Nadia Valvekens is op dié fees as beste aktrise vir haar rol hierin aangewys.

Op Kersdag word Ebenezer Penniegryper, met regie deur wyle Joey de Koker uitgesaai. Dit is gegrond op Charles Dickens se boek A Christmas Carol.

Nog argiefproduksies is wyle Evert Snyman se produksie van Death of a Salesman deur Arthur Miller, en William Oosthuizen se komedie Doller as kopaf.

Dood van ’n handelsreisiger word op 19 November uitgesaai en Doller as kopaf op 31 Desember.

“Daar is ook twee radiodramas deur I.D. du Plessis,” sê Burger.

“Gawe spookverhale wat André Kotze vir die radio verwerk het. Ons verpak dit as ’n dubbeldoor op een aand as Goëlstories.”

• Die volledige program is op rsgplus.org beskikbaar.

• Radioteater word Donderdae om 20:00 op RSG uitgesaai. Die nuwe seisoen duur tot 31 Desember.

• RSG word op 100 tot 104 FM uitgesaai.

Meer oor:  Rsg  |  Kobus Burger  |  Radioteater  |  Radio  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.