Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
RSG se nuwe juwele blink oor minder as ’n maand

Die gordyne lig op 1 Desember wanneer die derde RSG Skatkis vol musiek, woordkuns en drama posvat.

Die 15 produksies op vanjaar se program sluit ses debute in met deelnemers van 13 tot 90 jaar oud wat optree, het Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur van drama, op die lug aangekondig.

Guy Buttery

Dit duur tot 3 Desember, met ’n borgskap van die Dagbreek Trust. Op 1 Desember (’n Sondag) duur die program van 15:00 tot 18:30 en op 2 en 3 Desember van 19:00 tot net na 22:00. Alle aanbiedinge is gratis en luisteraars kan wêreldwyd op RSG se webblad luister of op 100 tot 104 FM inskakel.

Die volledige feesprogram en -skedule sal later op RSG se webblad gepubliseer word. Die program is onderhewig aan verandering.

Albert Frost

Dit bestaan uit:

* En toe kom Eva, ’n debuutdrama deur Joe Kleinhans met Mandi Baard, Luan Jacobs, Louis van Niekerk, Stefan Vermaak, Johny Klein, Renske Jacobs en Martin Jansen in die rolverdeling.

Daar is haas geen mens op aarde wat nie die verhaal van Adam en Eva al iewers gehoor of gelees het nie. Kleinhans se verhaal volg wél die breë skeppingsverhaal van die eerste mense op aarde, maar met ’n bietjie humor en anachronistiese kinkels daarby.

Eva sit op Adam se kop en sy boer met haar neus in perkamentrolle wat net deur mans geskryf is – iets wat haar dwars in die krop steek. Sy sou graag meer opwinding wou beleef, maar Adam wil net hê sy moet gaan vrugte pluk en water haal.

Maar daar’s ’n uiters flambojante, romantiese vent wat by Eva vlerksleep en alles in sy vermoë doen om haar te verlei . . .

Eben Cruywagen is die regisseur.

* In Majesteit die kat: Lina Spies, ’n poësiedebuut, gesels Johan Rademan met die digter Lina Spies oor haar liefde vir katte. Die akteur en voorleser Nic de Jager lewer voorlesings uit haar werke. Spies het vanjaar haar 80ste verjaardag gevier.

Lina Spies

* Burger is die samesteller van die poësiedebuut Spoegrym waarin ’n span digters met ’n skêr en gom deur die digkuns draf. Soos die versreëls uitmekaar waai, word daar opnuut met die woord gewals en nuut geskep. En soos van die groot Beat-digters en selfs Nirvana se Kurt Cobain ontdek het, kan ’n mens met hierdie klas versnippering ’n ieder en ’n elk verras.

* In Stukkies in die legkaart van die lewe, ’n debuutproduksie saamgestel en aangebied deur Ina Strydom, kom die voorlesings en vertellings oor die invloed wat die legkaarte van die skrywer Dolf van Niekerk se lewe vorm.

Van Niekerk, wat onder meer aan die departement van landbou verbonde was, het vanjaar 90 jaar oud geword en Legkaart van ’n jong lewe, ’n bundel jeugherinneringe, is deur Protea uitgereik, wat dié kort huldigingsprogram geïnspireer het.

Dolf van Niekerk

* DEURnis (’n samevoeging van die woorde “deur” en “deernis”) is grensverskuiwende teater wat verlede jaar met die kykNET Blou Fiësta-teaterprys bekroon is vir die innoverende wyse waarop dit teatergrense oorsteek. Dit is kort, plek-spesifieke stukke waar die een akteur en een gehoorlid ’n vorm van baie intieme teater beleef.

Vyf van hierdie stukke, Net, Student, Bloos, Winkelpop en Toets, is spesiaal vir die radio verwerk, juis omdat radio so ’n intieme medium is. Die skrywers is Henque Heymans, Braam van der Vyver en Johann Smith. Die akteurs is Ben Pienaar, Juanita de Villiers, Tiaan Slabbert, Roche van Blerk en Jacques Adriaanse. Christelle Webb-Joubert behartig die spelleiding.

* In Kitaarkonings, ’n debuutmusiekproduksie, speel Schalk Joubert (regisseur), Louis Mhlanga, Loki Rothman, Mauritz Lotz, Albert Frost, Guy Buttery en Kevin Gibson slaginstrumente. Ses van Suid-Afrika se voorste kitaarspelers deel ’n verhoog om die snare na nuwe hoogtes te voer.

* Van die mooiste gedigte uit die digter Clinton V. du Plessis se bundel Verslag kom voor in die poësiedebuutproduksie Voetsoldaat van die vers wat deur Frieda van den Heever saamgestel is. Dean Balie en Cantona James lees die verse voor van dié digter wat al die “onderskatte voetsoldaat van die Afrikaanse lettere” genoem is.

Clinton V. du Plessis

* In Woorde op akkoorde, ’n musiekteater en poësieproduksie, verweef die woordkunstenaars met Diana Ferrus, Frazer Barry, Churchil Naudé, Jolyn Phillips, Deniel Barry en Hermien de Vos woorde, musiek en natuurlike elemente van die oseaan, asook rommel wat uit die see gespoel het, in hierdie magiese, musikale reis van woordkuns, sang, dreunsang, rymklets en digkuns. Die produksie is vanjaar vir drie KKNK Kanna-pryse benoem. Die musiekregie en opname is deur Ricardo McCarthy gedoen.

* Die klavier-wonderkind Mike Wang (13), verlede jaar die algehele wenner van die Hennie Joubert-klavierkompetisie, maak sy buiging op radio en speel werke van Ravel, Beethoven, Schumann, Rachmaninoff asook ’n gunsteling uit die rolprent The Sound of Music.

* ’n Regstreekse opname van die Libertaskoor met aanbieder Johan Rademan uit die Endlersaal in Stellenbosch kom ook aan bod. Onder leiding van die dirigent Johan de Villiers, Gerhard Niemand op klavier, Lionel Beukes op baskitaar en Annemie Nel op slaginstrumente word ’n spesiale keur van werke aangebied.

* Twee konserte op die Skatkis-program word vooraf in Johannesburg opgeneem. Wang tree op Sondag 24 November om 15:00 op en Kitaarkonings is regstreeks op Dinsdag 3 Desember om 20:00. Luisteraars kan dit gratis bywoon. Bly ingeskakel op RSG om uit te vind hoe en waar om plek te bespreek.

Loki Rothman
Meer oor:  Lina Spies  |  Clinton V. Du Plessis  |  Johan Rademan  |  Dolf Van Niekerk  |  Kobus Burger  |  Ina Strydom  |  Digters  |  Rsg Skatkis  |  Poësie  |  Kunstefees  |  Woordkuns  |  Skrywers  |  Drama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.