Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
SA akteur sterf aan hartaanval

Die Suid-Afrikaanse akteur Ron Smerczak, wat ook in ’n paar internasionale rolprente verskyn het, is die naweek aan ’n hartaanval dood.

Ron Smerczak

Smerczak, wat aan diabetes gely het, sou later vanjaar 70 jaar oud geword het.

Ron Smerczak sou vanjaar 70 geword het. Foto: Brenda Muller

Volgens sy vrou, Deirdré, was die hartaanval vermoedelik weens sy suikervlakke.

Die teaterregisseur Karoly Pinter is Sondag vroeg die oggend na Smerczak se huis ontbied. 

"Ek het omstreeks 09:00 daar aangekom, so hy is waarskynlik laat Saterdagaand dood," sê Pinter.

Smerczak is in Engeland gebore en het aan die Royal Academy of Dramatic Art in Londen gestudeer.

Hy het in sepies soos Generations, Isidingo, 7de Laan en Rhythm City verskyn. Hy was ook in talle toneelstukke soos Damsels in Distress, Tree Boy en Ching Chong Che deur die Afrikaanse skrywer en digter Hans Pienaar, waarin hy die rol van die Argentynse guerilla-leier Che Guevara vertolk het.

Hy het ook in Paul C. Venter se dramareeks Een Skoenlapper verskyn.

Volgens Daphné Kuhn, eienaar van die Theatre on the Square in Sandton, sal hy onthou word vir al die wonderlike werk wat hy hier opgevoer het.

Ron Smerczak as Che Guevara. Foto: Dawid Roux

“Ek was so hartseer toe ek van sy dood verneem het. Hy was ’n briljante akteur. Veral die laaste werk wat hy hier gedoen het, het uitgestaan. Hy het die rol van die dokter in die Britse toneelstuk Blue Orange vertolk. Ek het nie te lank gelede nie na ’n teksvoorlesing van hom gaan luister en hy was weer uitstekend."

Die teaterregisseur Fred Abrahamse onthou Smerczak in toneelstukke in die Baxterteater. Abrahamse was destyds die artistieke direkteur hier.

“Hy was ’n baie energieke mens om mee saam te werk. Ek onthou hom in die toneelstuk Gulls deur die Oostenrykse dramaturg Robert Hewett, waarin hy ’n middeljarige man vertolk het wat as jongmens breinskade opgedoen het. Dit was ’n briljante produksie.

“Hy het aanhoudend gewerk. Hy het dikwels baie lekker karakterrolle vertolk. Hy was baie keer die booswig, maar eintlik was hy so ’n sagte siel. Die laaste keer dat ek hom gesien het, was toe hy kom kyk het na ’n toneelstuk in die Markteater (in Johannesburg), waarvan ek die regisseur was.”

James Alexander en Ron Smerczak in Damsels in Distress.

Sy internasionale rolprente sluit in die aksiekomedie Who Am I? met Jackie Chan, akteur van Hongkong en Oosterse gevegskunstenaar, in die hoofrol.

Hy het ook in Leon Schuster se rolprent Oh Shucks! Here Comes UNTAG verskyn.

“Ek onthou nou, hy het ’n Tommie gespeel,” sê Schuster die rolprent uit die laat 1980’s.

“Hy het dit perfek gedoen. Hy was deel van die UNTAG-troepe (in die fliek) wat in Namibië kom oorneem het.

“Ek het eintlik min met hom te doen gehad daarna. Ons het nou en dan geselsies aangeknoop.

“Maar ek het lekker saam met hom aan die rolprent gewerk. Hy was baie pligsgetrou en getrou op sy pos, met ’n lekker geaardheid. My hart gaan uit na sy gesin.”

Smerczak word ook oorleef deur twee kinders, Amanda en Zak, uit 'n vorige huwelik.

Meer oor:  Leon Schuster  |  Teater  |  Televisie  |  Reekse  |  Akteur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.