Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Slemon het sooie help spit vir nie-rassige teater in Kaapstad
John Slemon in 2017. Foto: Verskaf deur Dónal Slemon

John Slemon (84), eertydse direkteur van die Baxter-teater in Kaapstad, het verlede Saterdag – ’n week voor die teater se 44ste verjaardag – aan Covid-19 gesterf. Laetitia Pople het met teaterlui gepraat oor Slemon se bydrae.

John Slemon het van 1977 as bestuurder en later van 1984 as direkteur van die ikoniese Baxter-teater teen die hange van Tafelberg gewerk. In die donker jare van apartheid het hy die teater met sy visie en doelgerigtheid ingerig as ’n vergaderplek waar almal welkom gevoel het.

Vandag, dekades later, is dit steeds die stemming in daardie teater.

Hy het sy ewe onstuimige vaderland, Ierland, en sy werk in die welbekende Abbey-teater in Dublin agtergelaat om hier te kom werk.

“My pa was baie lief vir sy aangenome land en die potensiaal wat dit bied. Sy groot drang was om ware Suid-Afrikaanse stories op die verhoog te vertel,” sê sy oudste seun, Dónal.

Sy pa het in Simonstad gewoon voordat hy hom later in Noordhoek gevestig het.

“Die afgelope drie jaar was hy gestrem, maar steeds positief en vol grappies. Hy is uiteindelik aan Covid-19 dood. Ek is bly sy liggaam is nou bevry. Ons gaan hom baie mis. Hy het ’n groot liefde vir ons vier kinders en sy vier kleinkinders gehad.”

Die Baxter-teater in Rondebosch, Kaapstad.

Sy vrou, Maura, is in 2009 dood. Sy was ’n kunstenaar en pottebakker.

Sy pa het met eerlikheid geleef en het enige misbruik van mag verpes. Hy was gekant teen onregverdigheid in sake en die lewe.

“Dit kan dalk wees omdat sy geboorteland ’n land met ’n lang geskiedenis van verdrukking en onreg is,” het Dónal gesê.

Die regisseur Fred Abrahamse, wat as artistieke direkteur by die Baxter gewerk het, onthou sy eertydse baas as ’n teaterreus, ’n omstrede figuur wat sy mening gelug het, maar altyd heel eerste erken het wanneer hy verkeerd was. “Ek sal altyd dankbaar wees teenoor John en sal nooit vergeet wat hy vir my as regisseur, ontwerper en mens gedoen het nie.”

Danksy sy groot dryfkrag het hy die teaterlandskap in Kaapstad verander, meen Abrahamse.

“Hy het die Baxter behendig bestuur en kon ’n fyn balans handhaaf – daar sou byvoorbeeld ’n Strindberg-drama in die Konsertsaal, ’n musiekspel in die Teater en ’n splinternuwe werk in die Studio wees. Daarby het hy die grense uitgedaag en hy was altyd bereid om te eksperimenteer.”

‘Miss Julie’

Die genoemde Strindberg was die omstrede produksie van Miss Julie, wat Slemon in 1985 saam met die regisseur Bobby Heaney opgevoer het.

Slemon het Heaney genader met die plan om ’n swart akteur (John Kani) in die rol van die werker te plaas en Sandra Prinsloo in die rol van die plaaseienaar se dogter. Daarin soen Kani en Prinsloo, liefde en hartstog oor die kleurgrens was teen die wet en ongehoord in die tyd van apartheid in Suid-Afrika.

Dit het die koerantopskrifte gehaal en in Johannesburg het die hele gehoor opgestaan en uitgeloop. Dit is later ook met groot sukses in die teaterfees in Edinburg, Skotland, opgevoer.

“Die belang van die stuk weerklink 40 jaar later steeds. Ek is genooi om in September vanjaar na ’n teaterkongres in Kopenhagen te gaan om oor my en John se Miss Julie te praat,” het Heaney gesê.

“Min mense kry die opdrag om ’n teater oop te maak. Danksy Slemon het die Baxter ’n primêre teater in ons land geword, ’n teater met ’n internasionale reputasie, wat tot vandag gerespekteerd is.

“Ek het drie produksies saam met hom gedoen. Artistiek is ek vir ewig diep in die skuld by hom. Hy het kanse gewaag en het teater ten diepste verstaan. Hy was ook ’n goeie vriend, as jy iets gehoor het van partytjies in die kroeg, ek was by ’n paar van hulle,” het Heaney afgesluit. Die produksies was Wild Honey, Miss Julie en Death of a Salesman met die ontslape akteur Bill Flynn. Al drie word allerweë as seminale teaterhoogtepunte beskou, al drie se speelvakke het uitverkoop.

Die dramaturg Paul Slabolepszy vertel in ’n inskrywing op Faceboek dat Slemon in 1978 omtrent die helfte van die destydse sensuurraad van Pretoria afgevlieg het omdat hulle sy (Slabolepszy se) eenmanstuk Hey, listen! verbied het. Slemon wou hê dat hulle minstens een vertoning daarvan moet sien, en daarna kon Slabolepszy voortgaan.

Volgens Abrahamse het die gebeure in Suid-Afrika ’n groot effek op Slemon gehad en hy wou help om verandering mee te bring. Hy het ’n groot bewondering vir die werk van die nie-rassige Space-teater in Kaapstad gehad.

“Hy was bewus daarvan dat die swart stem op verhoë van die Mark-teater in Johannesburg tot in die Baxter in Kaapstad gehoor word, maar waar was die bruin stem? Hy was besorg oor die demografie van Kaapstad en die stil bruin stem, die grootste deel van die Kaapse bevolking wat nie op verhoë gehoor word nie.”

Abrahamse sê Slemon het op ’n dag met ’n teks na sy kantoor gekom. Hy was duidelik opgewonde.

“Ek dink ons kan hiermee iets doen, lees dit dadelik en sê my wat jy dink. Ons móét dit doen,” het Slemon gesê. Die teks was ’n vroeë weergawe van Taliep Petersen en David Kramer se District Six, The Musical.

“En soos hulle, sê die res is geskiedenis,” sê Abrahamse.

Daarna het opvoerings van Adam Small en Ronnie Govender se toneelstukke gevolg, die produksies Lavender Hill Blues, Buckingham Palace, District Six, Rosa, werke van Peter Braaf en die Cape Flats Players, The Bo Kaap Players, The Golden City Dixies en Peter Butler se Dying Breed, onthou Abrahamse.

Geleenthede vir jong skrywers en akteurs

Die teaterskepper en musikant Kramer loof Slemon vir die geleenthede wat hy vir jong skrywers en akteurs geskep het. “Hy was dinamies en visioenêr. Ons is aangemoedig om ons eie stories te vertel en danksy sy visie het die werk wat in die Baxter opgevoer is, die groter Kaapse gemeenskap weerspieël. Onder sy leierskap het die Baxter ’n nierassige teater geword in die apartheidsjare.”

Om te sê dat Slemon hom gehelp het om ’n loopbaan te vorm, is ’n geringskatting, sê die akteur, skrywer en regisseur Basil Appollis.

John het die Baxter 22 jaar gedien. Hy het ’n groot passie vir die teater gehad en het geweldig baie vir die Baxter, kunstenaars en die kunste in die donker dae van apartheid gedoen.
Fahiem Stellenboom

Slemon het hom in Londen gebel om die rol van Bottom in A Midsummer Night’s Dream in die Baxter te vertolk. “Ek het getwyfel, want ek het pas ’n werk in Londen vir ses maande gekry en dit sou my ’n wettige werkende kunstenaar in Londen maak. Hy was so oortuigend dat ek hom selfs die geld vir ’n kaartjie terug Londen toe gevra het. Net as ek bewys kry jy jou kaartjie hierheen, was sy antwoord. Ek het Bottom gespeel en daarna ander rolle. Toe vra hy dat ek werk aan ’n stuk oor Richard Rive, ná die moord op hom, dit (My Word! Our Buckingham Palace) sou my later na die West End neem. John wou al die stemme van Kaapstad op die planke hê in die Baxter, hy het dit reggekry.”

Fahiem Stellenboom, bemarkingsbestuurder van die Baxter beaam dit.

“John het die Baxter 22 jaar gedien. Hy het ’n groot passie vir die teater gehad en het geweldig baie vir die Baxter, kunstenaars en die kunste in die donker dae van apartheid gedoen.”

Stellenboom het sy onnutsige Ierse humor geniet, en sê Slemon word dikwels onthou vir sy omstredenheid en lewendigheid, en hy was iemand wat ’n partytjie kon geniet.

Geen engel

Sy pa was nie ’n engel nie, sê Dónal. Volgens van die toneelspelers was dissipline en stiptelikheid vir Slemon uiters belangrik en hy het mense gedryf.

“Hy was soms nie ’n maklike mens om mee saam te werk nie of mee saam te leef nie. Hy het dit nie ontken nie, en was bewus van sy foute. Die meeste mense het dit in hom gerespekteer. Onder die teatergemeenskap was hy ook bekend vir groot partytjies met openingsaande, met dikwels ’n bietjie te veel drank,” het Dónal gesê.

Slemon het in Junie 1976 van Ierland na Suid-Afrika geëmigreer. Die opstande in die land het die vurige Ier nie afgeskrik nie, sê Abrahamse.

Hy het bebloed vir sy eerste vergadering met die ontvangskomitee by die halfklaar geboude Baxter opgedaag.

Met sy aankoms het hy op pad van die lughawe na Kaapstad die bestuurder gevra oor die sinkgeboue langs die pad. Slemon wou dadelik sien hoe ’n township lyk. Sy bestuurder het hom gewaarsku dat dit gevaarlik is en hy is toe met ’n baksteen gegooi.

“Hy het bebloed vir sy eerste vergadering met die ontvangskomitee by die halfklaar geboude Baxter opgedaag.

“Ek voel nou eintlik tuis,” het hy gesê. In Ierland was hy gewoond aan opstande, en die behoefte van mense om ’n verdrukkende regering omver te gooi. Abrahamse sê daar bestaan verskillende weergawes van dié baksteenstorie.

Ná sy inspeksie van die halfvoltooide gebou, was hy ontsteld, want, aldus Abrahamse, was daar nie ’n ruimte aangewys vir nuwe en eksperimentele teater of ’n repetisiekamer nie. Hy het dus die plan vir die dakrestaurant met die panoramiese staduitsigte gestop, en die eksperimentele Studio-teater daar laat inrig. Hy het ook die plan om die hoofteater se verhoog te laat rondbeweeg, stopgesit om eerder ’n repetisiekamer in te rig.

Slemon het die Fleur du Cap vir sy lewenswerk in 1987 en later die Moira Fine-prys vir sy bydrae tot teater in Suid-Afrika ontvang.

Volgens Dónal beplan hulle later ’n private gedenkdiens vir sy pa. As mense sy pa wil gedenk, kan hulle ’n bydrae tot die Teaterbystandfonds maak, het hy gesê.

Benewens Dónal, word Slemon oorleef deur nog drie kinders, Deirdre, Maeve en Sean, asook vier kleinkinders.

Meer oor:  Teater  |  Baxter  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.