Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Sterbelaaide stuk lui Fugard se 10 j.-viering in
Die drie akteurs in Master Harold and the Boys is van links Kai Luke Brummer, Desmond Dube en Siya Mayola.Foto: Verskaf

’n Sterbelaaide opvoering van Master Harold and the Boys lui in Februarie die Fugard-teater se viering van sy tiende bestaansjaar in.

Kai Luke Brummer vertolk Hally, Desmond Dube sal hom in die karakter Sam verdiep en Siya Mayola sal die skoene van Willy volstaan.

Brummer sal volgende jaar ook te sien wees in Oliver Hermanus se nuwe rolprent Moffie, wat op verskeie filmfeeste in Europa bekroon is en op 13 Maart juis in die Fugard-teater bekend gestel word.

Dube het min bekendstelling as akteur en TV-aanbieder nodig. Die laaste keer toe hy in die Fugard opgetree het, was in die musiekspel King Kong.

Mayola het sy eie produksiemaatskappy en is ’n skrywer, regisseur en vervaardiger. Hy is ’n deurwinterde film- en verhoogakteur met TV-reekse soos Amaza, Isikizi en Sara se geheim op sy kerfstok.

Master Harold and the Boys is nie sonder rede as openingstuk vir die tienjaarviering gekies nie. Die drama is geskryf deur Athol Fugard na wie die teater genoem is.

Die stuk verken die vriendskap tussen die jong wit seun Hally en twee volwasse swart mans, Sam en Willy, saam met wie hy grootgeword het. Dit speel af teen die agtergrond van die onderdrukkende en verdelende apartheidswette en is in ’n teekamer in 1950 in Port Elizabeth geplaas.

Sam het Hally in die grootmenswêreld ingelyf deur hom bewus te maak van die werklikhede en ongeregtighede van die wêreld, terwyl Hally op sy beurt sy skoolkennis aan Sam oordra.

Hally ontvang in die vriendskap vaderlike leiding wat hy nie by sy alkoholis-pa kry nie.

Op die reënerige middag gesels Sam en Willy onder meer oor hul droom om ’n baldanskompetisie te wen en hul versugtinge om vir hulself ’n beter wêreld te skep.

Die vrede word vernietig wanneer Hally se pa besope tuiskom en sy bekrompenheid in ’n woede-uitbarsting op Hally uithaal.

Greg Karvellas (The Road to Mecca, The Father, Shakespeare in Love, Statements After An Arrest Under The Immorality Act) is die regisseur, Wolf Britz is die beligtings-en-stelontwerper en Widaad Albertus skep die kostuums.

* Van Dinsdag 4 Februarie tot die Saterdag om 20:00, asook Saterdag en Sondag om 15:00. Bespreek by die Fugard-kaartjieskantoor by 021 461 4554 of aanlyn by www.thefugard.com.

Meer oor:  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.