Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Stories borrel uit as Gerrie praat

Gerrie Pretorius fokus meer op reis.Dis nie so vreesaanjaend soos die verhoog nie, sê hy aan Maretta Bellingan.

Gerrie kuier vir ’n paar dae by sy ouers in Tergniet.

Ons gesels so half skelm oor ’n lang gin of drie, want hoewel dit “werk” is, is sosiale kuiers mos nog nie regtig toelaatbaar nie. Hopelik ignoreer die bure die vragmotor wat in my oprit staan en met ’n reuse-advertensie aankondig die aanbieder van Leef jou reis is in die nabye omgewing.

“Ek het darem ’n spesiale permit om verfilming te doen,” sê die man wat vir die eerste maand van die inperking iewers op ’n plaas in die Tsitsikamma uitgespan het.

Vir iemand wat ’n goeie agt maande van die jaar nié in sy eie bed slaap nie, was dit nie veel van ’n opoffering nie.

“So lank daar genoeg rooiwyn en hout is,” sê hy. “En op die plaas kon ’n ou darem beweeg.”

Trek die aardbol nader, hier kom Gerrie

Die ewige reisiger Gerrie Pretorius vertel hy kom nooit tot rus nie. Foto:

Daar is kwalik ’n meer gepaste woord om Gerrie Pretorius mee te beskryf as “beweeg”. Op sy agterent sit is gewis nié ’n kuns wat hierdie 41-jarige jongman bemeester het of ooit sal nie.

“Ons het net begin met die opnames vir die agtste reeks toe dinge gebeur. Einde Februarie was ons nog in Lapland en was eintlik op pad Indië toe. Daarna sou ons Malta toe gaan en van daar af sou ons Miami toe vlieg onderweg na Alaska. En daar val alles soos ’n kaartehuis inmekaar.”

Oor die afgelope dekade het hy sowat 80 lande besoek vir die meer as honderd opnames wat hy reeds vir die gewilde Leef jou reis gedoen het. Tussendeur doen hy ook private toere, en hy erken die gebeure van die laaste maande het sake lelik deurmekaar gekrap.

“Ek sou nou my eerste groep Passiespele toe geneem het. Daar is mense wat letterlik jare lank spaar om so ’n reis te kan onderneem en meteens is dit van die baan af. Ek het nagte deurgewerk om mense te kontak en die reëlings te verander.

“Gelukkig is ek baie goed met krisisbestuur. My heel eerste werk was as ’n eiendomsontwikkelaar en dit het my behoorlik voorberei op enige stres en krisisse wat wag,” sê die man wat erken niks is so vreesaanjaend as om op ’n verhoog te klim nie.

Sing is moeiliker as reis . . .

Gerrie het oor die jare meer as tien goue en platinum-albums gemaak, letterlik honderde kere op die verhoog gestaan, plaaslik sowel as in die buiteland, maar die innemende sanger wat die woorde “Annemarie, my skat” vir ewig in ons geheue gevestig het, het nie selfvertroue as kunstenaar nie.

“Ek tree die afgelope drie jaar omtrent glad nie meer op nie. Ek is verskriklik gespanne op ’n verhoog en voel ongelooflik minderwaardig as kunstenaar. Hoe meer ek bry hoe meer gespanne raak ek. Maar musiek is steeds my eerste liefde, al fokus ek meer op reis. Ek is verslaaf aan reis.”

Gerrie vertel ’n storie wat hom so 14 jaar gelede afspeel om sy geesdrif vir reis te illustreer.

“Ek het ’n dokumentêr gesien oor die sangeres Maria Ika, wat op Paaseiland, een van die mees afgeleë eilande ter wêreld, woon, en besluit om haar te gaan soek.

“Ek het Chili toe gevlieg en na die eiland gereis, maar kon haar nêrens kry nie. Een aand sit ek in ’n kroeg en ’n vrou begin sing, so mooi ek is omtrent in trane. Dit was Maria se dogter.

“Ek het toe omtrent ’n week by hulle gekuier. Dié gebeurtenis het ’n groot invloed op my lewe gehad en die besluite wat ek steeds neem.

“Ek bestee omtrent al my geld aan reis. Ek gaan beslis arm doodgaan, maar ten minste sal ek ’n boek vol stories hê.”

Die skoonheid van ons eie land

Wanneer jy vir hom vra oor sy gunstelingbestemmings en ervarings, raak hy skoon liries as hy die natuurskoon in die Sentraal-Kalahari beskryf.

“Jy sit by jou vuurtjie by die Matopi-pan en net hier anderkant brul ’n leeu.

“Ek is maar baie onopgesmuk, jong. Afrika is in my bloed.

“Nog ’n ervaring wat ek nooit sal vergeet nie, is toe ek die laaste vaart van die ou posboot na St. Helena-eiland meegemaak het. Dit was baie spesiaal en die eiland is soos iets wat in die 1980’s vasgevang is. Daar’s nog videowinkels en ’n tiekieboks.

“Iets wat ook in my geheue vassteek, is ’n besoek aan ’n vulkaan in die Atacama-woestyn in Chili. Ag, daar is soveel ongelooflike plekke en mense, dit voel soms vir my asof ek nooit genoeg tyd gaan hê om by alles uit te kom nie.”

Natuurlik verloop dinge nie altyd volgens plan nie. Soos die keer toe ’n lid van sy toergroep in Istanbul oorlede is weens ’n hartaanval. Die reeds traumatiese situasie is vererger toe die lykshuis die man per ongeluk aan ’n plaaslike gesin toegeken het wat hom plaaslik begrawe het.

“En een keer was ons op pad terug ná ’n opname met prinses Charlene in Monaco. Ons het iewers stilgehou om net vinnig nog ’n paar skote te neem toe hulle by ons voertuig inbreek en ál ons toerusting steel, ook alles wat reeds verfilm is.

“Maar jy kan nie bekostig om uit te haak nie. Jy moet eenvoudig kophou, soos nou met die virus en alles wat gekanselleer is. Kyk, ek doen alles vir my toere. Ek bespreek die kaartjies, die verblyf, ek reël die dagtoere, my kop werk 24/7.

“Dis beslis nie die ideale tyd om deel te wees van die reisbedryf nie, maar ek is vol vertroue dat ons sterker aan die ander kant sal uitkom. Dinge gebeur om ’n rede.

“Een aand, ’n paar jaar gelede, is ek en my kameraman op pad terug van die Kongo af deur dronk soldate voorgekeer. Daai regte Blood Diamond-tipe wat die AK 47’s in jou gesig druk. Daar is tye in ’n ou se lewe waarop jy met groot dankbaarheid en verligting terugkyk.”

Stilsit is nie ’n opsie nie

Hoewel hy op sy loopbaan as televisieaanbieder en toeroperateur fokus, het hy darem nie musiek heeltemal afgeskryf nie.

“Ek het verlede jaar die CD Jou hart is weer myne vrygestel. My groot liefde is jazz en ek mag dalk nog eendag ’n nuwe rigting inslaan.”

Hy was al in verskeie ernstige verhoudings, maar meen sy lewenstyl maak dit baie moeilik om ’n verhouding te hê.

“Ek dink nie ek is troumateriaal nie. As die gier my pak, wil ek môre op ’n seiljag kan klim en om die wêreld vaar.”

Gerrie het oor die laaste jare verskeie ondernemings, waaronder ’n gastehuis, bedryf.

“Ja, jong, ek is woelig. Jack of all trades and master of none,” spot die man wat erken sy kop kom nooit tot stilstand nie. “Saans drink ek maar ’n wyntjie en ’n slaappilletjie, anders skakel ek glad nie af nie.

  • “Maar ek het ’n goeie lewe. Ek smag wel soms na meer rustigheid en sal graag eendag my eie plasie wil hê. Met beeste en ’n werf vol hoenders. Waar ek my eie groente kan kweek. Maar dis eers eendag . . .”Leef jou Reis word Saterdae om 19:30 op kykNet (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Meer oor:  Gerrie Pretorius  |  Praat  |  Stories
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.