Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Topvermaak in Gauteng in Desember

Die klug The Play That Goes Wrong is net die beste medisyne vir neerslagtigheid. Dit word vir ’n tweede speelvak in die Pieter Toerienteater by Montecasino in Fourways, Johannesburg, van 7 Desember tot 6 Januarie. Die regisseur is Alan Committie met onder meer Louis Viljoen, Craig Jackson, Roberto Pombo en Russel Savadier in die rolverdeling. Dit handel oor ’n groep amateurs wat ’n riller opvoer, maar alles loop verkeerd.

Kaartjies kos R100 tot R240. Bespreek by Computicket.

The Play That Goes Wrong duur van 7 Desember tot 6 Januarie.

Snow White, Janice Honeyman se 31ste pantomime, word tot 23 Desember in The Mandela in Braamfontein opgevoer. Honeyman gee dié kindersprokie ’n Suid-Afrikaanse aanslag en probeer alle kulture betrek en bevredig. Daar is gedurig verwysings na die politiek (wat by kinders kan verbygaan), maar ook ’n skouspel asof iemand ’n verfkwas geneem en dit oor die verhoog afgeskud het op ’n noukeurig beplande en georganiseerde manier. Spelers sluit in Desmond Dube, Ben Voss en John Robbie. Kaartjies kos R115 tot R375.

Snow White duur tot 23 Desember.

Die produksie met Koos du Plessis se musiek word vandeesmaand twee keer in Pretoria opgevoer.

Jacques Botes en André Kempen voer hul produksie Koebaai Koos, Koebaai ... op 6 en 8 Desember in die Pierneefteater in Pretoria op.

Volgens Botes, ook omroeper by Pretoria FM, is die lewensvrae in die ontslape sanger en liedjieskrywer Koos du Plessis se werk nog net so toepaslik vandag.

Botes het in 2012 die album My hart se kamers – Die Koos du Plessis-storie uitgereik.

Du Plessis, wat in 1984 in ’n motorongeluk dood is, was bekend om liedjies soos “Sprokie vir ’n stadskind”, “Najaarsdroom”, “Skielik is jy vry”, “Gebed” en “Kinders van die wind”.

Vertonings op 6 en 8 Desember begin om 19:00.

Bel 012 329 0709 of stuur ’n e-pos aan info@pierneefteater.co.za om te bespreek.

André Kempen en Jacques Botes voer die musiek van Koos du Plessis uit.

Skilderye deur Mariki van Graan, wat onlangs dood is, word tot 15 Desember in die Tina Skukan-galery uitgestal. In die uitstalling Odyssey of Light, wat uit gemengdemedia-werke bestaan, gaan die werk van Erika Pienaar, Van Graan se vriendin, saam met dié van Van Graan uitgestal word. Hoewel hulle albei ’n voorliefde vir die natuur het, volg hulle verskillende benaderings. Die adres: Hoewe 6, Koedoebergweg, Faerie Glen, Pretoria. Skakel 012 991 1733 of stuur ’n e-pos na rex@tinaskukangallery.co.za vir meer inligting.

Oggend in die populierbos deur Mariki van Graan.

Joburg Ballet bied in Desember Cinderella vir die derde keer aan. Dit is die eerste vollengte produksie wat Iain MacDonald, artistieke direkteur van Joburg Ballet, gechoreografeer het.

Dié keer is dit in die Teatro by Montecasino in Fourways, Johannesburg, op die planke omdat hul gewone lokaal, die Joburgteater in Braamfontein, gedurende hierdie tyd die pantomime Snow White aanbied. MacDonald het Cinderella die eerste keer in 2013 en daarna in 2016 aangebied. Die jongste speelvak met balletdansers soos Nicole Ferreira-Dill, Shannon Glover, Leusson Muniz, Sanmarie Kreuzhuber en Ruan Galdino duur van 14 tot 23 Desember.

Cinderella bevat ook die enigste musiek wat die Oostenrykse komponis Johann Strauss vir ’n ballet gekomponeer het.

* Gehoorlede word aangemoedig om ’n geskenk te bring wat in die portaal in ’n groot geskenkboks geplaas sal word wat daarna aan ’n liefdadigheidsorganisasie sal gaan. * Vertoontye wissel. Kaartjies kos R150 tot R450. Bespreek by Computicket.

Shannon Glover en Ruan Galdino in Cinderella. Foto: Lauge Sorensen
Meer oor:  Tina Skukan-Galery  |  Teatro  |  Joburgteater  |  Montecasino  |  Teater  |  Visuele Kuns  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.