Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
TV: Oelofse maak slimpraatjies met kinders
Die akteur De Klerk Oelofse uitgevat as aanbieder van die kykNET-reeks ‘Kyk wie praat’.

TV-kykers het De Klerk Oelofse leer ken in die gewilde kykNET-dramareekse Die Boekklub, Fynskrif, Sara se Geheim en die humoristiese Hotel. Van volgende week is hy in ’n splinternuwe rol te sien, as aanbieder van Kyk wie praat.

Dit sal die eerste keer wees dat Oelofse nie agter ’n karakter kan wegkruip nie, maar hy sê hy was as kind mal oor die Britse reeks Small Talk en het nog altyd gedink dis die een program wat hy bereid is om aan te bied.

Kyk wie praat is op dié reeks geskoei met Oelofse wat sy woord moet ken tussen onvoorspelbare kinders en ernstige volwassenes wat om pryse meeding.

Elretha Britz het die vrae gevra en De Klerk Oelofse het geantwoord.

Hoe het jy die rol as TV-aanbieder gevind?

Dit was nogal ’n uitdaging. Gewoonlik kry ek ’n teks, so as die kameras rol, weet ek presies wat om te sê en het in ’n mate ’n karakter agter wie ek kan wegkruip. Met aanbieding is dit net jy en alles gebeur onmiddellik en jy’t nie ’n idee wat volgende by jou mond gaan of moet uitkom nie.

Hoe het dit gebeur dat jy in die situasie beland het?

Dit was my idee om die speletjiesprogram te maak omdat ek so baie van Small Talk gehou het. Ek het my vriend Jaco Nothnagel daarvan vertel, kykNET het die konsep aanvaar en hy en Marche Media het dit toe vervaardig.

Hoe het julle die kinders gekeur?

Ek is versigtig vir die woord keur of oudisie. Ek glo vas elke klein mensie het ’n unieke uitkyk op die lewe en raak die een of ander tyd iets snaaks kwyt. Die eintlike uitdaging was om kinders te kry wat gemaklik genoeg is om voor ’n kamera te sit en met ’n vreemdeling te gesels. Ons het ouers en onderwysers gevra vir kort video’tjies waarop die kinders ’n paar vrae antwoord. Daaruit het ons ’n kortlys saamgestel (eintlik ’n LANG lys) en hulle voor ’n kamera in ’n ateljee gesit. Uit die hordes wat ons gesien het, het ons 62 gebruik.

Verduidelik die formaat van die reeks.

Elke episode bestaan uit sewe rondes met nege kinders en vier volwasse deelnemers. Die deelnemers kry punte deur te raai wat die kinders se antwoorde op sekere vrae gaan wees. Hulle hoef darem net ja of nee te antwoord. Dié met die minste punte word gegroet totdat net een oorbly. Die laaste deelnemer kies dan vyf kinders wie hulle glo hulle die beste ken. ’n Wegbreeknaweek en ’n moontlike R10 000 is op die spel. Elke R10 000 wat nie gewen word nie, gaan na die boerpot en die vier deelnemers met die meeste punte word teruggenooi om in die laaste episode om die boerpot mee te ding.

Wat is die grootste uitdagings om met kinders vir opnames te werk?

Dit is juis die uitdagings wat die program spesiaal maak. Die kinders se onvoorspelbaarheid is nie net vir die deelnemers ’n uitdaging om te probeer raai wat die antwoord is nie, maar ook vir die kameraspan, wat daardie antwoorde moet vasvang. Soms is hulle al moeg gepraat en ander kere kry ’n mens hulle nie om in die raam stil te sit nie. Ek dink die magic lê in die volwassenes wat dink voordat hulle antwoord, terwyl die kinders spontaan sê wat hulle dink.

Vertel ’n staaltjie wat agter die skerms afgespeel het en ons nie op skerm gaan sien nie.

Ons sit soms boeties en sussies saam om vrae te beantwoord. Caleb en Aiden het mekaar egter glad nie geken nie. Die een woon in Hermanus en die ander in Durbanville. Dié twee het so lekker met mekaar in die speelkamer gespeel dat die fasiliteerder voorgestel het ons gebruik hulle as ’n paartjie. Dit is een van die wonderlike vriendskappe wat ’n mens in die loop van die reeks sien ontwikkel het. Hulle is besig, vrek snaaks en gek oor mekaar. Dit is vir my so lekker om te hoor hulle is selfs ná die verfilming steeds beste maats.

Wat is op jou horison wat werk betref?

Ek vermoed toneelspel op die verhoog gaan nog ’n ruk lank net ’n vae droom wees. Ek, Dean Balie en Cintaine Schutte speel wel met die idee om huisteater te skep – ’n klein storievertel-vertoning by mense in hul tuin of ’n vertrek waar die gaste sosiale afstand kan handhaaf. Ons hoop om in die lente daarmee te begin.

Verder verskyn ’n besondere dramareeks einde Augustus op kykNET waarvan ek deel is. Nêrens, Noord-Kaap deur Nico Scheepers is gegrond op die toneelstuk waarin ek, Albert Pretorius en Geon Nel gespeel het. Hulle is ook in die TV-reeks te sien. Dit was ’n baie spesiale ervaring.

Die Covid-19-regulasies het die vermaakbedryf ernstig geknou. Wat is jou ervaring?

Kunstenaars en teatermakers kry baie swaar, maar hoewel teater nou na asem snak, glo ek vas dat ons ná die pandemie ’n bloeitydperk gaan beleef. Ek glo mense gaan uitgehonger wees vir ’n ervaring en wat is teater dan anders as dit?

* Die reeks begin op 22 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.