Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Vanjaar se woordsmede vir werk vereer
Irma Joubert se liefdesroman blink uit.
Gilbert Gibson is vereer vir poësie.

Die ATKV se hoogste eerbetoon is Vrydagaand aan die sangeres Amanda Strydom oorhandig.

Sy is saam met sestien woordtowenaars by die luisterryke ATKV-Woordveertjies by D’Aria in Durbanville naby Kaapstad vereer.

Strydom het die ATKV Prestige prys ontvang vir ’n loopbaan wat oor vier dekades strek.

Debbie Loots ontvang die ATKV-prosaprys vir haar debuutroman, Split. Kirby van der Merwe, een van die beoordelaars in die kategorie, beskryf die roman as “onvergeetlik, die skrywer ken haar karakters van binne, die karakterontwikkeling word enduit volgehou en dit wil gedoen wees!”

Die roman volg die lewe van die dogtertjie Lien en haar gebroke gesin wat rondtrek in die “ou Suid-Afrika”. Die ander benoemdes was Schalk Schoombie vir Boomkastele en Chris Karsten vir Die verdwyning van Billy Katz.

Irma Joubert wen die kategorieprys vir die liefdesroman met haar historiese roman Immer Wes – dit is die eerste boek in ’n nuwe oorlogstrilogie van dié skrywer. Dit volg die lewe van Hildegard deur twee wêreldoorloë en waar sy uiteindelik, via Suid-Afrika, in Namibië aankom. Joubert is in die kategorie saam met Juanita Aggenbach vir Toe Elvis ophou sing het en Gelyke kans van Santie van der Merwe benoem.

Gilbert Gibson, wat vroeër vanjaar met die Elisabeth Eybers-prys bekroon is vir vry-, sy vyfde digbundel, behaal ’n tweekuns met die prys vir poësie vir vry-. Johan Myburg, een van die beoordelaars, beskryf vry- as nie net ’n hoogtepunt in Gibson se oeuvre nie, maar ook ’n baken in die Afrikaanse letterkunde. “Die woorde is geweeg, die verse is geslyp en vernuftig in ’n bundel aangebied wat op die oog af intellektueel voorkom, maar wat die leser ewenwel behaaglik innooi. Die gedigte smeek – inhoudelik, konseptueel en verstegnies – vir oor en oor lees. Dit is onder meer dié bemoeienis met die leser wat dié bundel bó uitsonderlik maak.”

Elsa Winckler se Liefde in laslap is die wenner van die prys vir romanses. Martin Steyn se Skuldig is vereer met die prys vir spanningslektuur.

Die dramaturg en teaterskepper Nico Scheepers ontvang die prys vir dramateks vir Rooivalk.

Die wenner van die Woordwys-toekenning vir woordeboeke en taalgidse is Legal Terminology: Criminal Law, Procedure and Evidence/Regsterminologie – Straf-, strafproses- en bewysreg (2015). Dis saamgestel deur die Sentrum vir Regsterminologie in Afrikatale. John Nicholson van die Omegaview-gemeenskapsontwikkelingsprojekis vir leesbevordering vereer..

Wenners van die ATKV-kinderboektoekennings vir 2016:

In dié afdeling stem die kinders self.

Voorleeskategorie: gr. RR tot gr. 1

  • Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – Moenie die knoppie druk nie
  • Illustreerder: Chris Venter (LAPA Uitgewers) – Moenie die knoppie druk nie

Selfleeskategorie: gr. 2 tot gr. 3

  • Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – My ouma is ’n film-ster
  • Illustreerder: Stephen Wallace (LAPA Uitgewers) – My ouma is ’n film-ster

Selfleeskategorie: gr. 4 tot gr. 5

  • Skrywer: Fanie Viljoen (LAPA Uitgewers) – Bravo, Lulu
  • Illustreerder: Elsbeth Eksteen (LAPA Uitgewers) – Bravo, Lulu

Selfleeskategorie: Gr. 6 tot gr. 7

  • Skrywer: Troula Goosen (Protea Boekhuis) – Spooksoene

Selfleeskategorie: Gr. 8 tot gr. 10

  • Skrywer: Santie Nel (Human & Rousseau) – Liefde is ’n sprokie
Meer oor:  Amanda Strydom  |  Atkv
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.