Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Venter se ‘Stam’ fokus op ‘ongewenstes’ wat heil soek in Kaapstad
Louw Venter is die regisseur van ‘Stam’.

Kaapstad met sy verval én towerkrag is die doek waarteen die akteur Louw Venter se debuutprent, Stam afspeel. Hy het 13 jaar aan dié rolprent gewerk.

Die prent, waarin vyf uiteenlopende karakters se verhale in die stad saamloop, word vroeg in Oktober op Boxoffice uitgereik.

Dit is pas bekend gestel op die kykNET Silwerskermfees-webinaar en van 10 tot 20 September word dit op die internasionale rolprentfees in Durban vertoon. Teen einde September kan fliekvlooie inskakel op die KKNK (Klein Karoo Nasionale Kunstefees) se digitale platform om dit te stroom. Daarby wink oorsese rolprentfeeste.

Die idee van die prent is geprik deur die tallose hawelose kinders in die stad. Venter, self ’n pa en die ster van prente soos Semi-soet en Jimmy in pienk, wou lig werp op die lewe wat hy in sy tuisstad naas sy eie ontdek het.

Die idee van ’n kind alleen in die stad, het hom geruk. “Ek het in ’n stadium geld ingesamel vir die MyLife Foundation toe hulle nog in Kaapstad was. Dit was ’n organisasie wat hawelose kinders van die strate in Kaapstad help om te oorleef ondanks armoede, mishandeling, die hardhandigheid van sekere private sekerheidsmaatskappye en die polisie.”

Hy het verplig gevoel om lig te werp op die wêreld wat hy ontdek het.

“As ’n ouer kon ek nie verwerk wat met die ‘ongewenstes’ gebeur nie. So is die eerste weergawe van die storie oor die seuntjie Jonah, wat verlore en alleen in ’n ongenaakbare wêreld gebore is.”

Dit het nege jaar se skryfwerk en navorsing geverg om die eerste weergawe van die prent te voltooi.

“Ek het deur foto’s gesif, onderhoude gedoen en tekste gelees. Die eerste mens aan wie ek die teks gewys het, was die vervaardiger Steven Markowitz. Die prent was nog ’n kortprent in daardie stadium en Steven het my aangemoedig om eerder ’n vollengte prent te skryf. So het die idee van ’n klomp verhaallyne wat saamloop ontstaan.” Dit is later deur sy vriend John Trengove (regisseur van die bekroonde prent Inxeba (Die wond)) opgeraap nadat hulle saam aan die televisiereeks Swartwater gewerk het. “Hy het die prent na die vervaardiger Urucu gebring. Ek is vreeslik geseënd om uiteindelik vervaardigers te ontdek wat soos ek dink.”

Stam handel oor ’n klompie mense wat drome droom in ’n konteks van geweld en ingrypende sosiaal maatskaplike werklikhede. Die prent se invalshoek is veel anders as die gebruiklike plaaslike aanbod. Dink Venter Suid-Afrikaanse prente het ’n spesifieke inslag?

My frustrasie lê by die verhouding tussen befondsing, die gehoor en rolprentmakers. Daar is baie spesifieke neigings na “plattelandse” stories, ’n soort sentimentele uitdrukking van Afrikaanse “heilsaamheid” en nostalgie, vir iets wat ek nie seker is ooit eens bestaan het nie, politieke drama wat swoeg om vrede te maak met ons onmoontlike geskiedenis en dan ligte romantiese komedies, wat die strewe na ’n hip, ongeskonde nuwe Suid-Afrikaner of Afrikaners uitbeeld. Daar is natuurlik baie ander ook, maar as ’n wit middeljarige Afrikaanssprekende man val ek gereeld in een van hierdie kampe.”

“Ons het uiteraard spesifieke invalshoeke in die land. My frustrasie lê by die verhouding tussen befondsing, die gehoor en rolprentmakers. Daar is baie spesifieke neigings na “plattelandse” stories, ’n soort sentimentele uitdrukking van Afrikaanse “heilsaamheid” en nostalgie, vir iets wat ek nie seker is ooit eens bestaan het nie, politieke drama wat swoeg om vrede te maak met ons onmoontlike geskiedenis en dan ligte romantiese komedies, wat die strewe na ’n hip, ongeskonde nuwe Suid-Afrikaner of Afrikaners uitbeeld. Daar is natuurlik baie ander ook, maar as ’n wit middeljarige Afrikaanssprekende man val ek gereeld in een van hierdie kampe.”

Weens die Covid-19-pandemie word mense nog meer gedwing om na die betekenis en belangrikheid van menslike verhoudinge te kyk. “Dit is ’n tema wat die kern van die rolprent is, die pandemie het bewys dat daar onlosmaaklike magte is wat ons aan mekaar verbind, magte wat kragtiger is as wat ons ooit sou kon dink. Ons is almal deel van mekaar se stories.” Stam kan beskryf word as ’n ontginning van die onsigbare kettings wat mense aan mekaar bind. “Verbintenisse en verhoudings wat baie verder as bekendheid, die ekonomie, geslag, ras of sosiale aansien strek,” het Venter in ’n verklaring gesê.

Vir hom as rolprentmaker is daar altyd die uitdaging om befondsing te kry of organisasies “wat glo dat ons gehore slegs vir sekere tipe rolprente kans sien”, anders te oortuig.

“Ek wil graag weet watter prente ons (rolprentmakers) kan maak as ons nie so behep is met ander mense se tone nie.”

As hy kon het hy al lankal sy eerste prent voltooi. “Hierdie storie moes ek vertel. Ek moes ’n proses voltooi. Ek voel nou eers oud genoeg om die verhaal te vertel.” Hy werk reeds aan ander projekte, wat ook al jare by hom broei. “Ek is ’n rolprentmaker. Wanneer ek op ’n rolprentstel is, bestudeer ek almal om my en wat hulle doen. Ek probeer verstaan wat mense doen, hoe hulle dit doen, en waarom. Ek het my hele lewe geskryf, foto’s geneem en geteken. Dit voel vir my alles soos een proses. Ek wil mense roer.”

“Ek wil praat oor die waarheid. Ek wil stories vertel wat die wêreld ontbloot eerder as verdoesel. Rolprente het die enormiteit van menswees aan my gewys. Die nuanse van emosie, die geweldige maar ontasbare dinge wat tussen mense gebeur. Om een of ander rede kan ’n mens aan hierdie dinge vat met ’n rolprent. Hoe ongelooflik is dit nie?”

Stam kan kykers nog sulke tipe stories uit sy pen verwag.

“Ek wil praat oor die waarheid. Ek wil stories vertel wat die wêreld ontbloot eerder as verdoesel. Rolprente het die enormiteit van menswees aan my gewys. Die nuanse van emosie, die geweldige maar ontasbare dinge wat tussen mense gebeur. Om een of ander rede kan ’n mens aan hierdie dinge vat met ’n rolprent. Hoe ongelooflik is dit nie?”

Venter glo dat sy ervaring met toneelspel hom in staat stel om ruimte vir spelers op stel te skep. “So kan hulle by diep plekke in hulself uitkom. Ek probeer om vir ander akteurs die stel te skep waarna ek nog my hele loopbaan soek.”

Die indrukwekkende rolverdeling van Stam bestaan uit onder meer Inge Beckmann (The Dark Tower en Troy: Fall of a City), Gideon Lombard (Suidooster), Tarryn Wyngaard (Noem my Skollie en Arendsvlei) en Niza Jay (Inxeba). Armand Aucamp, Nicola Hanekom, Jill Levenberg en Oscar Peterson is ook te sien.

*Stam is met die ondersteuning van M-Net, kykNET, die Departement van Handel en Nywerheid van Suid-Afrika (SHN), die Nederlands Filmfonds, die Nederlands Film Incentive en die Nasionale Rolprent- en Videostigting vervaardig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.