Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Wen R100 000 in Netwerk24 se luisterdrama-kompetisie
Luisterdrama.

Netwerk24 nooi skrywers uit om ’n luisterdrama vir Netwerk24 te skryf.

Die luisterdrama moet in die formaat van ’n radiodrama geskryf word. Dit sal opgeneem word en op Netwerk24 uitgesaai word.

En die prysgeld? ’n Stewige R100 000!

“Ek onthou nog hoe almal destyds na Wolwedans in die Skemer oor die radio geluister het. ’n Luisterdrama is ’n besonderse manier om ’n storie te beleef, want dit gee jou die 'kruk' van klank wat jou soms ander beelde laat oproep en ander emosies laat ervaar as wanneer jy lees,” vertel Henriëtte Loubser, redakteur van Netwerk24.

“Ons sien uit na hierdie geleentheid om Afrikaanse kreatiwiteit op nog ’n manier te bevorder en vir ons Netwerk24-gehoor ’n gerieflike manier te gee, nommerpas vir ’n digitale platform, om enige tyd en enige plek hul Afrikaanse vermaak te kry.”

Reëls vir die kompetisie

1. Oorspronklikheid van die teks

  • Die teks wat vir hierdie kompetisie ingeskryf word, moet oorspronklik wees.
  • Dit kan nie ’n verwerking van ’n bestaande teks wees nie.
  • Dit moet ’n nuwe luisterdrama wees wat nog nooit voorheen opgevoer, opgeneem of gepubliseer is in enige formaat nie.
  • Geen teks wat voorheen in ’n ander kompetisie of kunstefees ingeskryf is, sal aanvaar word nie.

2. Die teks

  • Die kompetisie het nie ’n voorgeskrewe tema nie. Die skrywer kan self besluit waaroor die luisterdrama handel.
  • Die drama moet tussen 40 en 60 minute lank wees. Dit is ongeveer 45-60 bladsye in die korrekte formaat van ’n radiodrama. (Sien pro forma voorbeeld-teks).
  • Die drama mag nie meer as agt karakters insluit nie. Die skrywer kan wel minder as agt karakters gebruik.
  • Volg asseblief die presiese formaat soos in die pro forma voorbeeld-teks. Tekste wat nie hieraan voldoen nie, sal gediskwalifiseer word.
  • Maak seker elke sin is betekenisvol en dra by tot die storielyn.

3. Taal

  • Slegs Afrikaanse tekste kwalifiseer vir die kompetisie.
  • Verskillende dialekte van Afrikaans of streektaal mag gebruik word. Taalvermenging is toelaatbaar as dit natuurlik gebruik word.
  • Let asseblief op die taalversorging van jou teks. Goeie taalversorging van die teks sal in ag geneem word wanneer die wenner gekies word.

4. Eksklusiewe lisensie

Met jou inskrywing aanvaar jy en stem jy uitdruklik daartoe in dat, indien jou teks as die wenner gekies word, jy ’n geskrewe ooreenkoms (“die Ooreenkoms”) met Media24 sal aangaan, ingevolge waarvan:

  • Media24 die eksklusiewe, ewigdurende en onherroeplike lisensie vergun word om ’n klankopname van die teks te produseer.
  • Media24 die teks mag aanpas volgens sy diskresie vir doeleindes van die klankopname.
  • Alle reg, titel en belang in die klankopname in Media24 sal setel en dat die wenner geen aanspraak daarop sal hê nie.
  • Media24 geregtig sal wees om die klankopname te gebruik en te eksploiteer op enige wyse, insluitende die reg om aanpassings daaraan te maak, sonder enige vergoeding aan die skrywer.
  • Die wenner onderneem om geensins die geskrewe teks op enige wyse en in enige formaat hoegenaamd te gebruik of te eksploiteer nie vir die duur van die maand waarin die klankopname vir die eerste keer deur Media24 gepubliseer of uitgesaai word, asook vir ’n tydperk van drie maande ná afloop daarvan.

Met jou inskrywing aanvaar jy en stem jy uitdruklik daartoe in dat die aanwysing van ’n wenner en toekenning van die prysgeld onderhewig is aan die voorwaarde dat die wenner die bogenoemde Ooreenkoms met Media24 aangaan.

Met jou inskrywing aanvaar jy ook dat indien die wenner sou weier of versuim om die bogenoemde Ooreenkoms met Media24 aan te gaan, Media24 geregtig sal wees om die benoeming te herroep, die inskrywing te diskwalifiseer en om ’n nuwe wenner aan te wys.

5. Algemene riglyne

  • Deelnemers mag net een teks per skrywer inskryf.
  • Die sluitingsdatum om vir die kompetisie in te skryf, is 16 November 2019.
  • Stuur die teks sowel as ’n verkorte CV of biografie (1 bladsy) en ’n inskrywingsvorm aan anika.marais@netwerk24.com
  • Die wenner sal deur die loop van Desember 2019 of vroeg in Januarie 2020 op Netwerk24 bekend gemaak word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen gesprek of korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Met jou inskrywing bevestig jy dat jy oor alle regte, insluitende intellektuele eiendomsreg en kopiereg, in en tot die luisterdrama beskik en dat Media24 die wenner se luisterdrama mag gebruik soos in die Ooreenkoms met die wenner uiteengesit sal word, en onder geen verpligting, finansieel of van watter aard ook al, teenoor jou is ten opsigte van die gebruik, publisering en aanwending van jou luisterdrama nie.
  • Media24 aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade wat mag spruit uit deelname aan die kompetisie nie.
  • Geen werknemer van Netwerk24 se redaksie of van NB Uitgewers sal in aanmerking kom vir enige prys nie.

6. Prysgeld

  • Daar is slegs een prys in een kategorie.
  • Netwerk24 kies die luisterdrama wat hulle wil opneem en dié wenner ontvang R100 000.
  • Netwerk24 behou egter die reg voor om nie ’n prys toe te ken nie, indien die beoordelaars van mening is dat die inskrywings nie op standaard is nie.
  • Omdat dit ’n kontantprys is, sal Netwerk24 sekere persoonlike dokumentasie volgens wetgewing van wenners vereis om sodoende die prysgeld te kan oorbetaal. Media24 onderneem om geen van sodanige persoonlike inligting van deelnemers aan derde partye te verskaf nie.

7. Keuringsproses

  • Die keuringsproses vind in November en Desember 2019 en in Januarie 2020 plaas.
  • Die wenner word deur ’n paneel kenners en beoordelaars van Netwerk24 en NB Uitgewers gekies.
  • Die opname van die wen-luisterdrama vind plaas in Februarie of Maart 2020.
  • Die wenner moet bereid wees om saam met ’n regisseur veranderinge aan die drama aan te bring soos verlang.
  • Die wen-luisterdrama sal in Maart of April 2020 op Netwerk24 uitgesaai word.

8. Kriteria

Die beoordelaars sal na die volgende kyk wanneer die tekste oorweeg word:

  • Relevansie van die tema en die storie
  • Karakterisering en inkleding van die karakters
  • Natuurlike dialoog en onderskeiding van dialoog tussen die karakters
  • Die struktuur van die drama
  • Korrekte formaat
  • Taalversorging
  • Lengte
  • Algemene indruk

9. Verdere vrae

Vir enige navrae oor die kompetisie stuur ’n e-pos na anika.marais@netwerk24.com

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.