Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Video
Kyk: Gemmerkat en renostertjie beste maters
Mewie en Nandi op hul daaglikse stappie. Foto: Jamie Traynor/The Rhino Orphanage
Jamie Traynor, bestuurder van The Rhino Orphanage, voer Mewie, haar gemmerkat, met ’n bababottel. Foto: The Rhino Orphanage

Dié twee se vriendskap was dalk onwaarskynlik, maar nou gaan die een nêrens sonder die ander.

Jamie Traynor, bestuurder van The Rhino Orphanage in Limpopo, sê die vriendskap tussen haar gemmerkat en ’n renosterwesie het onverwags gebeur.

Sy het Mewie sowat ’n jaar gelede in ’n township in Atteridgeville in die weste van Pretoria gekry waar ’n inwoner hom borsmelk gevoer het.

Jamie Traynor, bestuurder van The Rhino Orphanage, gee vir Nandi, ’n weesrenostertjie, ’n bottel melk kort nadat sy in Desember verlede jaar by die sentrum aangekom het. Foto: The Rhino Orphanage

Mewie was skaars drie weke oud toe Traynor hom aangeneem het.

“Hy is nes ’n hond. Hy gaan orals waar ek gaan. Ek het hom hier by die sentrum grootgemaak.”

In Desember het Nandi, wat liefde in Zulu beteken, by die sentrum aangekom nadat stropers haar ma doodgemaak het.

Sy was toe net twee maande oud.

Die drie musketiers. Jamie Traynor, Mewie, die kat, en Nandi, die weesrenostertjie. Foto: The Rhino Orphanage

Dis waar sy en Mewie bevriend geraak het.

Met die dat hy Traynor orals volg, was dit dalk so bestem.

Mewie was ook glad nie deur dié groot baba geïntimideer nie. “Mewie is glad nie bekommerd oor die verskil in grootte tussen hom en Nandi nie,” sê Traynor.

Nandi moes onlangs ’n operasie vir koliek by die Universiteit van Pretoria se fakulteit veeartsenykunde by Onderstepoort ondergaan en daarom moet daar nou 24 uur oor haar gewaak word.

Traynor en ander vrywilligers by die sentrum maak beurte om saans by die renostertjie te slaap.

Mewie slaap natuurlik ook daar as sy ounooi daar slaap. Hoe dan anders?

As daar gestap word, stap hy natuurlik ook saam.

Traynor sê daar word nou twee keer per dag met Nandi gestap.

“Dit gee haar ’n kans om te wei en rond te hardloop, maar sy is meer as gelukkig om ook tydens die stap of daarna ’n slapie in te kry.”

Ná so ’n stappie moet Traynor egter vir Mewie terugdra, want die stappery put hom te veel uit.

Arrie van Deventer het The Rhino Orphanage, ’n organisasie sonder winsbejag, in 2012 gestig.

Dié weeshuis is die eerste gespesialiseerde, toegewyde, niekommersiële sentrum wat na wees- en beseerde renostertjies omsien om hulle later weer in die natuur vry te laat.

Dit is juis op die been gebring weens ’n tekort aan ’n gespesialiseerde plek om renostertjies groot te maak. Hulle sien hier na verskeie weesrenostertjies en ander diere om.

Weens die aard van hul werk word die getal weesdiere en die ligging van die sentrum nie bekend gemaak nie.

The Rhino Orphanage het al verskeie renostertjies grootgemaak en hulle suksesvol in die natuur vrygelaat.

Dit sluit ’n babarenoster in wat 23 keer met ’n panga gekap is en daar voorgestel is dat sy eerder van kant gemaak moes word.

Vrywilligers word daagliks opgelei in die rehabilitasie van dié renostertjies en werk saam met ’n veeartsenykundige kollege om hul kennis oor renosters uit te brei.


Meer oor:  Limpopo  |  Beste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.