1. Biesmillah Restaurant

“Ek maak die kos wat die mense van die Bo-Kaap elke dag by die huis eet,” sê Momeena Osman, die mede-eienaar van een van die oudste Maleise restaurant in Suid-Afrika. 

Probeer gerus die bobotie met gegeurde geelrys (R95). As jy nie tyd het om te sit nie, kry ’n lamsvleissalomie (kerrie in ’n roti) by hulle wegneemete-winkel langsaan. 

Waar? Waalstraat 2
Kontak: 021 423 0850; biesmillahrestaurant@gmail.com



2. Batavia Café

 

    

Die geur van Deluxe-koffie wink jou tot binne hierdie kobaltblou gebou. Batavia is ’n hip koffiewinkel met ’n ontspanne atmosfeer, waar jy aan ’n cappuccino kan teug ná ’n uitputtende dag. “Ek wou ’n plek skep waar jy daai “huis weg van die huis”-gevoel kry,” sê die mede-eienaar Zayaan Rasdien. 

Tradisionele Maleise disse is op die spyskaart, asook broodjies, burgers en slaaie. As jy soggens in die ronde is, bou jou eie ontbyt: Die Crafty Board is ’n doen-dit-self-storie waar jy per item betaal. 

Waar? Kerkstraat 114
Kontak:  021 422 2272; facebook.com/bataviacafe



3. Bo-Kaap Kombuis

  

Lê weg aan tradisionele Maleise disse soos lamsosatietjops (R95) of “artepil porring” (R35) (’n tradisionele aartappelpoeding) met mooi uitsigte van Tafelberg en die stadskom. En as jy sukkel om te kies: Bestel ’n proebord (vanaf R145) wat bobotie, lam, hoenderkerrie, rys en roti insluit. 

Waar? Auguststraat 7 (draai van Waalstraat af); gesluit op ’n Maandag. 
Kontak: 021 422 5446; bokaapkombuis.co.za