1. Vang jou eie aandete

Hier kan jy op byna enige manier hengel: As jy die regte boot het, kan jy diepsee toe gaan (en seesiek raak) of rivierop vaar. Nie ’n boot nie? Dan kan jy van die oewer af ingooi met spinners, of selfs ’n bietjie dieper inwaad vir vlieghengel.

Almal droom van ’n kabeljou wat so groot is soos Ricky Januarie, maar jy kan net so in jou noppies wees met ’n gespikkelde knorder of ’n Kaapse stompneus. Maar onthou: Die hengelregulasies is streng en seespietkops hier is knaend – moet dus nie te veel of ondermaats vang nie. 

En sorg ook dat jy jou boot- en hengelpermitte by ’n poskantoor koop. 


Gaan groot!

Jy kan nie wéér jou skoonpa na die Curriebekereindstryd vat vir sy verjaardag nie. Verras hom met ’n diepseehengel-uitstappie.

Kontak dié ouens: Witsand Charters. Pryse is by navraag beskikbaar.


2. Gaan kerk toe

Jy sal die van “Barry” oral in dié geweste teëkom – dis ’n handelaarsfamilie wat van die middel tot laat negentiende eeu sake in die Overberg oorheers het.

In daardie dae was dit omtrent ’n gedoente om goedere per ossewa na en van Kaapstad te vervoer. Maar die Barrys het ’n blink plan gehad: Hulle het ’n stoomboot, die Kadie, in Skotland laat bou en dié het tussen Witsand en Tafelbaai gevaar.

Anders as seilbote kon die Kadie die sandbanke in die riviermonding beter pypkan, by Port Beaufort (waar die Breede River-lodge vandag is) vasmeer, en ook verder rivierop stoom tot by die Barrys se winkel by Malgas, waar die boere hulle produkte kon laai en ook aankope doen. Dié stoomskip het 7 jaar diens gedoen en 142 vaarte voltooi voordat dit in 1856 by die monding op die rotse geloop het. 

Die mooi klipkerk in Hoofstraat is ook te danke aan die Barrys. Dis in 1849 gebou toe Port Beaufort gewoel het. Gaan neem laatmiddag ’n foto, wanneer die lig die mooiste val. Dit is ook die beste tyd van die dag om ’n draai te gaan stap – die wind het dan al gaan lê. Vat jou verkyker saam, want jy mag dalk net walvisse in die baai sien baljaar.


3. Ry vlieërplank


Terwyl die meeste van ons teen die wind wil skuil, is daar sommige siele wat die suidooster geniet – die ouens met vlieërplanke. Witsand is al jare een van die wêreld se top-vlieërplankplekke. Die weer in die somer is puik vir vlieërplankry volgens die mense by Pili Pili, ’n restaurant-en-watersportsentrum. Die riviermonding kyk suidoos, direk in die wind in, en in die beskutte gebied agter die sandbank kan jy vir byna 2 km rieme neerlê.

Pili Pili het ’n instrukteur wat besoekers kan touwys maak. Jy kan ook jou eie toerusting saambring as jy al ’n bietjie ervaring het. Of huur ’n SUP-bord. SUP staan vir “stand-up paddle” – dis daai lang branderplank waarop ’n mens regop staan en jouself met ’n lang spaan vorentoe roei. 

Kontak 028 537 1783; pilipili.co.za

Foto's: Jon Minster