Vaas du Plessis vertel:

"Ek gebruik al jare lank hierdie veeldoelige patent as ek in die bos kamp. Dis in die eerste plek ’n stort wat maklik werk.

Tweedens kan jy ook maklik jou voete daarmee afspuit as jy in modder moes uitklim of op sand rondgeloop het. En derdens kan jy dit ook as brandblusser rondom die kampvuur inspan.

Al wat jy nodig het, is ’n gewone tuinkompressiespuit soos dié wat jy gebruik om vrugtebome te besproei. Gebruik tog net ’n nuwe een wat nog nie gif ingehad het nie! Hierdie spuite kan gewoonlik tussen 5 en 8 liter water vat.

Ek gebruik ’n Sun Catcher-sak om water te verhit deur dit in die son te laat lê en maak dan die tenk hiermee vol.

Al wat jy nodig het, is ’n gewone tuinkompressiespuit soos dié wat jy gebruik om vrugtebome te besproei.

Jy pomp die handvatsel ’n paar keer en gebruik dan die spuitstuk om jouself af te spuit. Dit werk baie maklik. Die water loop nie heeltyd nie en spuit slegs wanneer jy die meganisme druk. 

Vyf liter water is genoeg vir twee mense om te stort. Dit gebruik geen gas of enigiets om die water warm te maak nie, en is ook dus ’n baie goedkoop stort.

Ek het ook al gras wat onder ’n kar se onderstel versamel en begin smeul het, hiermee natgespuit en sodoende gekeer dat ’n ryding uitbrand."