Die ryhuisgogga het Chris, ’n afgetrede rekenaarstelseltegnikus van Lydenburg, en sy vrou, Elsa, gebyt toe hulle drie kinders uit die huis is. Ná drie dekades van tent- en woonwakamp het hulle ’n ryhuis gekoop en by ’n ryhuisklub aangesluit.

Chris het op klubsaamtrekke met verlangende oë na die nuwerwetse ryhuise gekyk – hy wou ook een hê, maar van die waens was vir hom te groot... én te duur. Toe besluit hy om sy eie een te bou.

Sy ryhuis se planne was klaar nog lank voor hy die regte voertuig daarvoor kon opspoor. Uiteindelik het hy ’n tweedehandse Peugeot Boxer aangeskaf, en hy en Elsa het hulle droomryhuis binne net 3 weke gebou en ingerig. Hulle het dadelik die pad Kaap Vidal toe gevat.

’n Mens kan maar sê hulle het hulle 30 jaar kampervaring in die Boxer ingebou. En hulle kamp van dag een af lekker in hulle Boxer-wa, vertel Chris...

Van tent tot ryhuis

“Ons gesin het in 1984 begin kamp met ’n Volkswagen Mikrobus en een van daardie pasgemaakte Kombi-tente waaronder jy ingery het. Ons heel eerste kamp was by Swadini.

Sedertdien het ons die volle kampsirkel voltooi. Ons kinders, Elana, Jaco en Christiaan, het bygekom en groter geword, en die tent het plek gemaak vir ’n woonwa –  ’n Sprite Sprint. Later, toe die kinders die een ná die ander uit die huis is, het ons weer afgeskaal en met ’n Venter en ’n tent gekamp. Dit was kleiner en makliker.

Toe dit weer net ek en Elsa in die huis was, het ons ’n Companion-ryhuis aangeskaf wat op die Mitsubishi L300 se onderstel gebou is. Ons het ons by ’n ryhuisklub aangesluit en hulle saamtrekke bygewoon. Só het ons 8 jaar lank gekamp en gekuier.

Hulle is mooi, maar...

Die Companion was lekker kompak en sy sitplekke, beddens en stort-en-toilet goed uitgelê. Hy het in die voetspoor van ’n gewone kar gepas en dit was nooit moeilik om hom te parkeer of bêre nie. Jy het ook nie gesukkel om die klein agterpaadjies te ry nie.

Tog het ek by elke ryhuissaamtrek met verlangende oë na die nuwerwetse ryhuise gekyk. ’n Mens maak jou wys dat ons maar almal onder dieselfde hemel in die buitelug kamp, maar ek het besef die tye en tegnologie verander, en met die nuwer waens kamp jy geriefliker én ry jy gemaklik.

Maar, ek het ook oor die jare geleer groot beteken nie altyd voortreflik nie. Dis makliker om vir ’n naweek met ’n kleiner wa weg te breek. Hoe groter jou wa, hoe meer tyd bestee jy aan uitstoot, aanhaak, sleep en staanmaak.

Die groter nuwegeslagryhuise (met hulle nóg groter prysetikette) het my ook nie aangestaan nie. Ons het gehou van die Vista-ryhuis op die Fiat Ducato-paneelwa se onderstel, maar hy was te duur vir ons.

Selfdoen is die antwoord...

Dis toe dat ek op selfbou besluit. Ons het planne gemaak en ons wa se spesifikasies uiteengesit. Hy moes ’n vaste uitleg hê, sonder afsonderlike dag- en nagverstellings en kussings wat afgeslaan moet word om te sit of slaap. Ons wou ook ’n eilandbed of iets soortgelyks hê sodat ons nie oor mekaar hoef te klouter as ons gaan slaap of opstaan nie.

Verder het ons besluit op slegs ’n ingeboude toilet sonder ’n stort, want die plekke waar ons kamp, het altyd voldoende en skoon ablusiegeriewe. Alles wat ons inpak en saamry, moet ook maklik in die hande gekry word, sonder dat ons hoef te kniel, kruip of buk.

Ons het besluit teen ’n gasinstallasie, en het ’n  induksiestoof en ’n draagbare gasstofie gekies.

Die beplanning was lekker. Ons kon ons jare lange kampervaring gebruik om te onderskei tussen wat nodig en onnodig is.

Die voertuigsoekery was effens moeiliker. Ek het amper ’n jaar lank op die internet gesoek na ’n goeie tweedehandse voertuig. Ek het na ’n klompie Fiat Ducato’s gaan kyk, maar hulle was nie in ’n goeie toestand nie. In Februarie verlede jaar het ek besluit om maar te kyk of ek nie ’n Peugeot Boxer in die hande kan kry nie. Dieselfde dag nog het ek ’n Boxer by ’n tweedehandse verkoopswerf in Gezina, Pretoria, gekry. Die vorige eienaar het hom gebruik om veteraandmotorfietse te skou. Die Boxer het 48 000 km op die klok gehad en my R240 000 uit die sak gejaag.


Timmer en skaaf

Terug by die huis het ek die Boxer onder die afdak getrek en het ons dadelik aan die werk gespring.

Ek en Elsa het al ons kennis bymekaargegooi en alles self gedoen. Ek kon die ervaring gebruik wat ek in my loopbaan as tegnikus opgedoen het en die houtwerk wat my pa, Lieb, my geleer het. Elsa se ouers, Toy en Bettie Slabbert, het destyds meubels oorgetrek en sy is goed met stoffeerwerk, naaldwerk en verf.

Met alles wat ons in die wa wou hê, was die uitleg ’n taamlike uitdaging. Die oplossing was ’n binneruimafskorting sowat 250 mm van die agterkant af. In die leefruimte is dit die bedkopstuk, en aan die ander kant, agter die Boxer se twee groot swaaideure, die hang- en pakplek.


Om genoeg ruimte te hê vir die bed – wat in die lengte van die wa afloop – het ons een sitplek by die tafeltjie opgeoffer. Die voetenent van die bed dien as die tweede sitplek. Onder die bed het ons twee laaie ingebou wat na buite by die swaaideure uitskuif om die in- en uitlaaiery te vergemaklik.

Ons het die Companion verkoop en met van die geld dinge soos die yskas, stoof en seilafdak gekoop. Ons het by Fiamma en Dometic gekoop, omdat hulle goeie ryhuisprodukte maak. Die yskas is ’n Waeco (12 V-220 V).

Die 55 l-watertenk word in die laairuim agter volgemaak en daar is geen kans dat water in die leefruimte gaan stort nie. Dit was ook nie nodig om ’n gat in die bakwerk te sny vir die vulprop nie. Dieselfde geld vir die kassettoilet, wat van die laairuim af leeggemaak word.

Saam met die koopprys vir die paneelwa het ons ryhuis ons altesame R309 000 gekos.

Daar gaat hy!

Die werk was binne drie weke klaar en ons is vir 11 dae Kaap Vidal toe. Ons het lekker gekamp en daar was nie veel wat moes verander nie. Ek het net die wasbak ’n entjie geskuif omdat die afvoerpyp teen die borde in die eetgereikas gekap het; die houtwerk afgerond; en ons het ’n paar ekstra liggies ingesit.

Met sy voorwielaandrywing het die Boxer ’n lae vloerpan, wat die in- en uitklim maklik maak. Sy vering is doeltreffend en op ongelyk paaie is daar nie sprake van bakrol nie. Hy is aërodinamies en jy voel skaars die wind. Maar die kersie op die koek is sy brandstofverbruik: Ek kry gemiddeld 10 l/100 km terwyl ek gemaklik bult-op en bult-af 100 km/h handhaaf.

Ons het nou al met die Boxer van Nelspruit en die Krugerwildtuin tot in Groblersdal gaan kamp, en binne twee weke 6 000 km gery om blomme te te gaan kyk – ons is Jeffreysbaai en Kaapstad om, deur Springbok en Pofadder en toe terug huis toe. Ons bespreek nie vooraf kampplek nie. Voor dit donker word, kyk ons op die internet watter lekker kampplekke daar in die omgewing is.

As ek in die Boxer ry, wil ek al die pad sing. Dis verreweg ons lekkerste kampding nóg.”