Jy kan hierdie panbrood as ’n bykos eet, maar kan dit ook op sy eie as ’n ligte kampete voorsit.


Jy benodig

(maak 1 ronde brood) 

• 200 g spek, gesnipper
• ½ hoeveelheid basiese brooddeeg (sien die resep op bl. XX)
• 2 koppies (500 ml) gerasperde cheddar
• 2 teelepels (10 ml) kruie-en-knoffelgeurmiddel
• ¼ koppie (60 ml) olyfolie


Só maak jy

1. Braai die spek tot dit goudbruin is.

2. Rol die deeg uit in ’n plat, smal en lang reghoek van 15 x 60 cm en pak die spek bo-op gevolg deur die kaas en geurmiddel. Vou die lang kante van die deeg na mekaar toe en knyp al die kante goed toe. Rol die gevulde deeg versigtig nog langer uit, maar wees versigtig sodat die kaas nie uitpeul nie.

3. Vou die string plat deeg in die middel en vleg die twee helftes oor mekaar. Bring dan die twee punte na mekaar toe en druk hulle aan mekaar vas om ’n deegwiel te vorm.

4. Verhit die olyfolie in ’n pan met ’n deursnee van so 30 cm oor louwarm kole of ’n matige gasvlam, en braai die brood vir sowat 15 minute aan elke kant. (Sit die pan se deksel op of bedek dit met foelie terwyl die brood braai – en moenie dat die pan te warm word nie.)


WegSleep sê: Dié brood is gaar as jy met die kneukel van jou wysvinger teen hom klop en hy klink hol.