Jy benodig

(genoeg vir 4-6)

• 1 teelepel kardemomsaad 
• 1 teelepel koljandersaad
• 1 teelepel vinkelsaad
• 1 teelepel peperkorrels
• 1 teelepel droë tiemie 
• 2 teelepels paprika
• 2 eetlepels kookolie
• 1 kg skaapstowevleis (soos nek, kneukels of stowetjops)
• 2 gekapte uie
• 3 knoffelhuisies, fyngekap
• 2 teelepels gerasperde vars gemmer
• 5 lourierblare 
• 1 kaneelstokkie 
• 1-2 teelepels growwesout
• 4-6 groot aartappels, geskil en in kwarte gesny
• 1 kg vars tamaties, in kwarte gesny
• 2 blikke (400 g elk) heel geskilde tamaties
• 2 koppies beesaftreksel

Só maak jy

1. Stamp die sade en peperkorrels saam fyn en meng die droë tiemie en paprika by. As jy nie ’n stamper en vysel tussen jou kampgoed het nie, kan jy jou tentpenhamer en snyplank gebruik – was net die hamer deeglik en draai dit met ’n laag of drie kleefpastiek toe.

2. Verhit die kookolie in jou pot tot dit goed warm is. Braai die skaapvleis tot dit mooi bruin is. Voeg die ui, knoffel, gemmer, speserymengsel, lourierblare en kaneelstokkie by en braai die mengsel tot die uie redelik sag is. Geur die pot met sout.

3. Voeg die geblikte tamaties (met die sous) by gevolg deur die beesaftreksel en laat die potjie stadig vir 1½-2 uur prut met die deksel op.

4. Pak die vars tamaties bo-op die vleis gevolg deur die aartappels en laat die potjie vir nog sowat ’n uur prut tot die aartappels sag is. Jy roer glad nie die potjiekos terwyl dit kook nie, en lig die deksel slegs op om te kyk of daar nog genoeg vloeistof in die pot is. Vul die sous aan met beesaftreksel indien nodig. 

WegSleep sê: Wanneer jy vir 4-6 mense ’n potjie maak, is ’n nr. 3-pot ’n goeie roep.