Jy kan dié strand nie van die pad óf selfs van die parkeerterrein af sien nie. Dis eers as die steil voetpaadjie jou onder op die spierwit sand uitspoeg dat jy voel soos Leonardo de Caprio in The Beach.

Die bordjie sê Dappat se Gat, maar ek ken dit as Caves. Die versteekte strandjie in Koeëlbaai, langs die mooi Clarence-kuspad tussen Gordonsbaai en Rooi-Els, is hoofsaaklik ’n surf- en hengelstrand met sterk strome – baaiers moet maar ligloop.

Die loodregte rotswande sluit jou af van die beskawing doer bo, en jy kan lánk na die bulderende, glashelder branders sit en staar. Met laagwater kan jy die skeure en spelonke aan die oostekant van die strand verken (hier is selfs ’n klein waterval), maar hoogwater keer jou vinnig tussen die groot rotse vas –hou dus ’n fyn oog op die gety.

Die berugte suidooster word mos in dié geweste gebore, maar dié strand is besonder goed beskut. As die wind in die Strand woed, kan jy hier in vrede deur jou tydskrif blaai terwyl die kleuters vir Pa onder die sand begrawe.


Wat nog? Koeëlbaai se 4 km lange hoofstrand en kampterrein lê aan Rooi-Els se kant van die Gat. Dis ’n paar honderd meter se stap oor spoelklippe soontoe. Dis veiliger om hier lyf nat te maak, maar slegs as menseredders aan diens is.

Waar bly ek? Die Sunbird-gastelodge is 5 km noord op die kuspad. Koeëlbaai se kampterrein is op sy kop (en teenaan die hoofstrand), maar dis bedrywig oor naweke.

Prys: Sunbird-gastelodge: vanaf R375 p.p.p.n. (ontbyt ingesluit), en R600 p.n. vir selfsorg (vir 2 mense). Koeëlbaai-kampeerterrein: R190 p.n. per staanplek binne seisoen.

Kontak: Sunbird-gastelodge 021 856 1740; Koeëlbaaikampterrein 021 856 9622