As jy al langs Hermanus se kransvoetpad gestap het, het jy al die groot getypoel gesien skitter in die son onder die Marine Hotel. Dit lyk baie mooi, maar die bodem is besaai met skerp rotse en om hier te swem is soos om op kole te loop.

Dis veral moeilik vir kleintjies. Mik eerder vir Fick se Poel in die stiller deel van die dorp. Die ouer garde kan op die rotse bak terwyl die kinders rondplas.

Die getypoel se bodem is sag en sanderig en dit raak geleidelik al hoe dieper na die keermuur se kant toe.

Waar? Die hoek van Marinerylaan en Pleinstraat. Volg die bordjies na Fick se Poel van die Hoofweg af soos jy Hermanus inry.