Dis vakansie .... Ons het ’n lys van allerhande doengoed in Gauteng, van plekke waar Sussie ’n bokkie kan vryf tot waar Ouboet skaatsplanktoertjies kan doen. 


Elkeen van dié doendinge word volledig onder bespreek! 

1. Aktiwiteite:

Pretoria: Acrobranch, Honeydew Mazes | Johannesburg: Adventure golf, Critical Mass | Boksburg: Wild Waters | Hartbeespoort: Ama Zwing Zwing, Harties-kabelkar 

2. Diere, voëls en goggas:

Johannesburg: Johannesburgse dieretuin, Lion Park, Monte Casino-voëltuin | Hartbeespoortdam: Hartbeespoortdam Snake and Animal Park,  Elephant Sanctuary, Monkey Sanctuary | Pretoria: Pretoriase Dieretuin 

3. Kultuur en wetenskap:

Johannesburg: Die Planetarium, Sci Bono Discovery Centre, Nasionale kinderteater | Sterkfontein: Wieg van die Mensdom

4. Parke: 

Krugersdorp: Walter Sisulu- botaniese tuin 



Pretoria | Acrobranch | 3+


Dis ’n hindernisbaan tussen ’n lotjie bloekombome, wat plankiespaaie, kabelglye en touleertjies insluit. Hier’s vier bane, van die matige Captain Hook vir die kleuters tot die Blackbeard-baan vir ouer kinders en natuurlik grootmense.

Waar? Dis op hoek van Nelson- en Glenstraat in Olifantsfontein.

Koste Vanaf R100 p.p.

Kontak 086 999 0369 (bespreek vooraf); acrobranch.co.za



Pretoria | Honeydew Mazes | Alle ouderdomme


Hier is vasvra-stasies versprei deur die doolhof en elke deelnemer wat voor die plek sluit, by die doolhof uitkom, wen ’n roomys! 

Hulle is net oop op naweke en openbare vakansiedae. 

Waar? In Bolandstraat, uit Beyers Naude in Honeydew, Pretoria.

Koste R150 p.p. en R100 per kind (o. 16). Gesinskaartjie (4 mense) R420. Dit duur sowat 90 minute.

Kontak 073 795 2174; honeydewmazes.co.za



Johannesburg | Adventure golf | 2+


Nie alle putt-putt-bane is ewe opwindend nie, maar dié een is op steroïede! 

Hier drie bane (met 9 putjies elk). Jy mik onder deur grotte en verby watervalle. En jy speel selfs ’n sethou op (glo) die wêreld se langste setputjie – ’n hele 68 m! 

Waar? By Brightwater Commons-winkelsentrum in Republiekweg in Randburg. Daar is ook bane in Fourways Malls, en die Parkmeadows- en Stoneridge-sentrum.

Koste R90 p.p.; R75 vir kinders o.16. R60 vir pensioentrekkers en kinders o.7.

Kontak 011 447 3045; adventuregolf.co.za



Johannesburg | Critical Mass | 10 +


Critical Mass is ’n koel nuwe fietsrysaamtrek wat in stede wêreldwyd plaasvind op die laaste Vrydag van ’n maand. Dit het in 1992 in San Francisco begin as ’n protesaksie deur fietsryers wat hulleself meer wil laat geld op dié stad se paaie. Dis diep, maar dis ook pret vir die hele gesin. Die roete in Johannesburg is sowat 25km en sny deur onder meer Braamfontein, Maboneng en selfs Hillbrow. 

Waar? Almal kom bymekaar op die hoek van Juta- en De Beer-straat in Braamfontein om 6 nm. Daar is ook saamtrekke in Durban en Kaapstad. 

Koste Gratis, Kontak criticalmass.co.za



Boksburg | Wild Waters | 2+


Moet jou nie steur aan al die Boksburg-grappies nie, Wild Waters is een van die koelste plekke in Gauteng! Ja, dié waterpark is dalk waar Vernon Koekemoer destyds ontdek is, maar dis gróót pret vir die hele gesin. Hier is tjoepritte, glybane en selfs ’n branderpoel (maar dis meer soos ’n dam op ’n winderige dag as die see). 

Waar? Jan Smutslaan  

Koste R155 p.p.; R85 vir kinders 2-6. 

Kontak 011 826 6736; wildwatersboksburg.co.za



Hartbeespoort | Ama Zwing Zwing | 7+


Gee jou kind ’n smakie van hoe dit voel om te vlieg op dié kabelglytoer. Kabelgly is eintlik maar net ’n fênsie foefieslaaid, en jy’s met ’n harnas vas om te keer dat jy val. Die toer bestaan sewe glye (1,3 km in totaal). Die platforms waarvan jy gly is tussen 2 m en 14 m hoog. 

Waar? Dis by die Amanzingwe Lodge, sowat 15 km suid van Hartbeespoort.

Koste R400 p.p.; R280 vir skoolgaande kinders (verversings en middagete ingesluit)

Kontak 082 803 7731; ziplinehartbeespoort.co.za



Hartbeespoort | Harties-kabelkar | Alle ouderdomme


Dis nie net Tafelberg wat ’n kabelkarretjie het nie. Die Harties-kabelkarloop al – aan en af – van 1973 tot bo op die Magaliesberg. Teen 1,2 km is dit glo die langste enkelspoorkabelkar in Afrika (Tafelberg is ook so ver, maar dis ’n dubbelspoor, man). Terwyl jy opry, kyk jy uit oor dié berge en die Hartbeespoortdam. En as die rit boontoe jou honger gemaak het, is hier piekniekplekke en ’n restaurant op die plato.

Waar? Reg langs die Hoërskool Hartbeespoort en die Villa Paradiso-hotel.

Koste R195 p.p.; R115 vir kinders tussen 4 en 14.

Kontak 072 241 2654; hartiescableway.co.za





Johannesburg | Johannesburgse dieretuin | Alle ouderdomme


Hier’s meer as 320 spesies, insluitend die wêreld se eerste twietende ratel (volg vir BG op Twitter by @zootweetslive). Die dieretuin is gróót – 81 ha – dra dus gemaklike skoene. Kinders kan vir ure aaneen staar na die groot diere (olifante, seekoeie) en kleineres (die slange is ’n groot gunsteling, dis langs die dwergseekoeie). Hier’s ’n plaasdieredeel vir die jonger kinders, en krokodille en leeus vir die wat reg is vir diere met skerper tande. 

Waar? Die hoofingang en parkering is in Erlswoldweg in Forest Town.  

Koste R80 p.p.; R50 per kind (3-12 jaar). 

Kontak 011 646 2000; jhbzoo.org.za



Johannesburg | Lion Park | Alle ouderdomme


Dié leeupark is in 2012 deur die tydskrif Newsweek aangewys as een van die top- 100 toerismebestemmings in die wêreld. Hier kan jy saam met jagluiperds stap, kyk na wildehonde en ’n witleeu hoor brul. 

En dis nie een van daai plekke waar die diere in knap hokkies bly nie. Hier is groot weiding waar sebras, kameelperde en blesbokke gras kou en ook die groot katte het ruimte om te hardloop. 

Waar? Op die hoek van die R114 en Malibongwe-rylaan.  

Koste Pryse wissel na gelang van wat jy wil doen. Om self deur die kampe te ry, kos R175 p.p. en R150 vir kinders 4-12. 

Kontak 087 150 0100; lionandsafaripark.com



Johannesburg | Monte Casino-voëltuin | Alle ouderdomme


Die tuin is basies ’n groot voëlhok, met nette wat hoog genoeg gespan is sodat die voëls steeds kan rondvlieg. Die kinders kan ook die helder lorikiete voer. 

Ander gediertes wat hier bly is paddas, akkedisse en ’n 6 m lange luislang.

Waar? Hoek van William Nicol-rylaan en Montecasino Boulevard in Fourways.

Koste R70 p.p.; en R39 per kind jonger as 10.

Kontak 011 511 1864; montecasino.co.za



Hartbeespoortdam | Hartbeespoortdam Snake and Animal Park | Alle ouderdomme


Kyk, ons almal wil diere in hulle natuurlike omgewing sien, maar ’n Kruger-vakansie is duur en die kinders kan krapperig raak met die lang ryery in die kar. As jy hulle ’n lewendige leeu wil wys, gaan draai by die park: hier is van wildehonde en kransaasvoëls tot sjimpansees, en ja, leeus. En as die diere jou nie aanstaan nie, kan jy op ’n plesierboot op die dam gaan vaar! 

Waar? Die oostelike oewer van die dam in Scott-straat net voor die tonnel en die dammuur. 

Koste R100 p.p. R50 vir kinders 3-12. Kinders o.3 gratis. Bootritte kos ’n ekstra R50 p.p. R20 vir kinders 3-12. 

Kontak 012 253 1162



Hartbeespoort | Elephant Sanctuary | 4+


Ja, die Addo-olifantpark is fantasties, maar Wesseltjie gaan nie sommer daar aan ’n olifant kan vat nie. By die Elephant Sanctuary kan jy hand-aan-die-slurp met ’n olifant gaan stap, of op hulle rûe ry.  

Waar? Sowat 2 km wes van die damwal langs die R512. Daar is ook ’n Elephant Sanctuary in Plettenbergbaai en Hazyview.

Koste R695 p.p. vir “olifant-interaksie”. R295 vir kinders 4-14. R495 p.p. as jy wil olifantry. R325 vir kinders 8-14. 

Kontak 012 258 0423/9906;  elephantsanctuary.co.za



Hartbeespoort  | Monkey Sanctuary | 4+


Kinders is nou maar eenmaal lief vir apies. By die Bush Babies Monkey Sanctuary kan jy die jongspan neem op ’n begeleide toer van ’n uur en ’n half op verhewe plankpaadjies in ’n inheemse woud. Kyk uit vir verskeie primate soos ’n eekhoringaap, ringstertlemur, kapusyneraap en natuurlik die nagapie. Ná die tyd kan julle iets eet en drink by die koffiewinkel of op die grasperk ontspan met ’n piekniekmandjie. Die ervaring skud jou beursie, maar dit is elke sent werd. 

Waar? Langs die R104, sowat 6 km wes van die Hartebeespoortdam.

Koste R275 p.p. (volwassenes) en R170 p.p. (kinders tussen 4 en 14).

Kontak 012 258 9908; monkeysanctuary.co.za                                                                                                           

                                                                                                                                      



Pretoria | Pretoriase Dieretuin | Alle ouderdomme


Teen 85 ha is dit die grootste dieretuin in Suid-Afrika! Hier’s die ou bekendes soos die Groot Vyf, asook ’n Bengaalse tier, Noord-Amerikaanse bere en ’n paar okapi’s. Behalwe vir dierekyk, kan jy ook vir sowat 7 minute in kabelkarretjie die diere van bo af bekyk. 

Jy kan ook die kinders bring vir ’n nagtoer waar hulle die nagdiere kan dophou en julle gesin kan ook kom kamp tussen die diere. 

Waar? Boomstraat 232

Koste R110 p.p. en R70 per kind o.15.

Kontak 012 339 2700; nzg.ac.za




Johannesburg | Die Planetarium | 5+


Wie sou kon dink dat die stad een van die beste plekke is om te leer van die sterrehemel? Ja, skakel jou selfoon af en kyk op na die koepel van die Planetarium. Die Space Travel-vertoning is vir vyf- tot agtjariges bedoel (die saamsingery kan dalk vir die grootmense ’n uitdaging wees). Tieners kan kyk na die “Sky Tonight” waar hulle kan sien watter sterre en konstellasies hulle tans vir hulle meisie kan uitwys. As die weer dit toelaat kan hulle ook na die maan kyk deur ’n teleskoop.

Waar? Die universiteit van die Witwatersrand se ooskampus 

Koste R45 p.p.; R30 per kind. Gesinskaartjie (maksimum twee volwassenes) R160.

Kontak 011 717 1390; planetarium.co.za



Johannesburg | Sci Bono Discovery Centre | 5+


Die enorme pakhuis propvol uitstalling is soos ’n pretpark vir jou brein – hier is stralers wat uit die dak uit hang, lewensgroot dinosoursse wat brul en ’n klomp interaktiewe gismos wat wetenskap sommer na vet pret laat lyk! 

Kleiner kinders is gek oor die bouperseel met skuimbakstene, waar hulle mure kan bou en omdinges; ouer kinders kan eksperimenteer met ligaamshitte-sensors, magnetiese krane en plasmakoepels/lampe – of leer hoe om ’n menslike battery te maak, deur met hulle eie liggame ’n elektriese stroom te skep en te gelei. Hallo Einstein!

Waar? Hoek van Miriam Makeba en Presidentstraat in Newtown. Gratis parkering voor die gebou.

Koste R45 p.p. en R30 per kind. Gratis vir kinders jonger as 6. 

Kontak 011 639 8400; sci-bono.co.za



Sterkfontein | Wieg van die Mensdom | 6+


’n Mens is nooit te jonk om ’n wetenskaplike te wees nie. Matthew Berger was maar nege jaar oud toe hy die twee miljoenjaar oue geraamte van die Australopithecus sediba – bekend as Karabo – ontdek het, terwyl hy en sy pa, die paleoantropoloog dr. Lee Berger, in die Wieg gestap het.

In die Maropeng-besoekersentrum kan kinders sien waar die mens vandaan kom en hoekom ons so indrukwekkend is. Dis meer soos ’n temapark as ’n musuem – kinders sal nie eens agterkom hulle leer iets nie. 

 En die wat lus is vir iets meer Indiana Jones-agtig kan gaan stap, skuur en kruip deur die Sterkfonteingrotte. 

Waar? Maropeng-besoekerssentrum, draai af van die R563-Hekpoortpad in Sterkfontein. 

Koste R120 p.p.; R65 per kind (kinders o. 4 is gratis) vir Maropeng of kry ’n kaartjie wat die Sterkfontein-grotte insluit: R190 p.p. en R125 per kind tussen 4-14. Dié kaartjies moet voor 1 nm. gekoop word.

Kontak 014 577 9000; maropeng.co.za 



Johannesburg | Nasionale kinderteater | 4+


Vertel vir jou kinders die “teater” is ’n outydse soort 3D-film – die karakters is regte mense en jy kan selfs met hulle praat! Boonop hoef jy hoef nie daai simpel bril te dra nie.

Die wat van die kollig hou, kan op Saterdae ’n drama-slypskool bywoon. 

Waar? Junctionlaan 3 en Parktown.

Koste Jy betaal per sitplek – ’n stoel kos R120 en ’n kussing voor die verhoog R100. 

Kontak 011 484 1584; nationalchildrenstheatre.org.za 





Krugersdorp | Walter Sisulu- botaniese tuin | Alle ouderdomme


Die Walter Sisulu- botaniese tuin kry byna jaarliks die toekenning as Beste Piekniekplek in Gauteng (aangewys deur die Best of Joburg Readers Choice Awards). Kom vind uit hoekom en hou piekniek naby die tuin se pronkstuk – die Witpoortjie-waterval waar ’n broeipaar witkruisarende teen die kranse hou. Met staproetes, groot grasperke, sowat 220 voëlspesies en die kans dat ’n bergskilpad vir Boetie gaan bekruip, is hierdie tuin ’n top bestemming vir die hele gesin.

Waar? Die ingang is in Beacon Road, sowat 5 km wes van Krugersdorp. 

Koste R40 p.p. (volwassenes) en R15 p.p. (skoliere). Gratis vir kinders jonger as 6. 

Kontak 086 100 1278; sanbi.org/gardens/walter-sisulu