Jy kan nie die Suidkus in KwaZulu-Natal besoek en nié strand toe gaan nie, maar wátter strand? Jy wil die see ruik, nie ’n elfvisserman se aasemmer nie. Hier is ons keuse:



FOTO: Jon Minster



Vir die gesin. Jy kan nie beter as Uvongo nie. Die beskutte baaitjie se swemplek, waterval én ’n strandmeer maak dié strand al ’n gunsteling sedert die dae toe mense nog bloomers eerder as boardshorts gedra het. En as die kroos klaar geswem het, gaan eet julle slaptjips by die kêffie. (GPS S30.83465 E30.39606).

Scottburgh het ook ’n lekker swemstrand. As die see troebel is, swem in die swembad reg langs die see en span ná die tyd uit op die gras (GPS S30.28108 E30.75930).

Vir die witbroodjies. Hier is ’n hele paar mooi, stil baaie al langs die kus vir paartjies. Baie van hulle is langs riviermondings. Ons gunsteling is Peter Pan-baai, ’n goue perdeskoenbaaitjie net langs Leisure-baai se hoofstrand. (GPS S31.02429 E30.24463).


FOTO: Jon Minster



Vir surfers. As die weer saamspeel, breek daar by St. Michaels, net noord van Uvongo, ’n tonnelbrander (uh, barrel) na regs van die getypoel (na links as jy van die strand af kyk) – ’n puik right hand break. Daar is ook branders by die Happy Wanderers-oord net suid van Scottburgh. Gaan kyk by www.wavescape.co.za vir nog lekker branderrykolle.
(GPS S30.82124 E30.40555)