Daar is sekerlik al meer foto’s geneem van dié ikoniese getypoel as van Charlize Theron. Trouens, poskaarte met die rooi, geel en blou Victoriaanse badkamerhuisies is te koop in bykans elke toerismewinkeltjie in die land!

Die getypoel is langs ’n groot wit strand waar toeriste én Kapenaars in die son baai. Dis groot en meestal vlak met ’n lae keermuur waaroor groter branders elke dan en wan die soutwater aanvul.

Hier’s ook ’n ablusieblok en verskeie restaurante en kafees (visplakkies welkom!) al langs die pad in Kalkbaai se rigting.

Waar? Net voor die St. James-stasie. Parkeer in Hoofweg en stap deur die duikweg. Jy kan ook parkeer by Muizenbergstrand en die 2 km tot by die getypoel stap of met die trein ry.