FOTO's Sam Reinders

Instagram gaan jou lewe in ’n japtrap verander. Dié gratis app werk op jou Apple of Android-foon en is ’n baie magtige platform om foto’s te deel en sosiale netwerke te bou.

Die app het ’n groot verskeidenheid filters wat selfs ’n foto van jou marmot sal laat lyk asof ’n beroepsfotograaf dit geneem het. Jy kan ook ’n raam vir jou foto’s kies, die kleur opkikker en op ’n kreatiewe manier die foto verdof.

Met Instagram redigeer jy daar en dan jou foto’s en hulle word in ’n spesifieke lêer op jou foon gestoor. Wanneer jy jou foto’s wil ontwikkel, laai net die foto’s in dié lêer op jou geheuestokkie en vat dit of stuur dit met vonkpos na jou naaste fotografiewinkel.

Só neem jy puik Instagram-foto’s

1. Hou dinge eenvoudig


Net omdat jy die kleur kan opkikker of jou foto kan verdof, beteken dit nie jy móét dit doen nie. Hou dinge eenvoudig. Maak gebruik van ’n filter wat ooreenstem met hoe jy die toneel beleef het.

2. Vat ’n kans

Moenie jouself onderskat nie. As daar ’n fotogeleentheid is, neem ’n foto, selfs al is die lig swak of jy moet deur ’n nat voorruit in die donker neem. Dit gaan oor die gevoel en die herinneringe, en ook die hulp wat jou sagteware jou bied...

3. Moenie lui wees nie


Met Instagram kan jy nie inzoem nie; jy moet dus wérk vir jou foto’s. Moenie net daar staan en die knoppie druk nie – speel rond met komposisie, en die hoek waaruit jy die foto neem.

4. Dink vierkantig

Tensy jy dit stel op reghoekige vorm, sny Instagram outomaties jou foto’s af (1:1 in fotografieterme). Dit na-aap die outydse Polaroid- en Instamatic-foto’s. Daarom is die reël van derdes minder belangrik as wanneer jy iets reghoekig afneem. Partykeer werk dit om jou voorwerp in die middel te plaas.


Skryf in vir ons nuwe aanlyn-fotokursus

Skryf hier in

Wil jy weet wat elke knoppie op die kamera beteken, en soek jy nóg wenke?

Ons is almal mal oor mooi foto’s, maar het nie noodwendig ure se tyd om daai dik kamera-handleiding te probeer ontsyfer nie.

Weg bied al ’n paar jaar lank fotografieslypskole reg oor die land aan, waar lesers by een van ons kenners leer hoe om hulle eie kameras beter te verstaan en beter foto’s te neem.

Met dié aanlyn-fotokursus wil ons dit vir amateurfotograwe nóg makliker beter foto's te leer neem. Nou hoef jy nêrens heen te reis nie, jy kan die lesse in jou eie huis (en teen jou eie pas!) onder die knie kry én dis heelwat goedkoper as om ’n slypskool by te woon.

Koste: R950 (eenmalig) 

Lees meer hier