ONDER REDAKSIE VAN JON MINSTER

Reptiel-padkafee

Piet Grobler

Fuji Finepix H20EXR

PIET SKRYF: Langs een van die paaie naby die Olifantsruskamp in die Kruger is daar ’n laagtetjie waar daar ná swaar reën ’n dam water bly staan. ’n Mens sien dikwels moerasskilpaaie daar, en nou en dan selfs ’n klein krokodil. Omdat toeriste hulle voer, storm dié reptiele op jou af wanneer jy naby die poel stilhou. Maar as jy hulle niks gee nie, sluip hulle terug water toe.

JON SÊ: Voor ek Piet se storie gelees het, het ek gedink die krokodil smul aan ’n moerasskilpad-buffet! Krokodille is die grootste gevaar vir ’n moerasskilpad, maar in dié geval was die krokodil dalk nog te klein, óf die voerdery het die orde van die voedselketting op sy kop gekeer.

Piet kon die komposisie van die foto effens sterker gemaak het: Die krokodil is ’n aks te naby aan die bokant van die raam, en op die voorgrond kan jy ’n stukkie van die kar se deur sien.

Daar is ook ’n paar reëndruppels op die lens. Maar as daar elf glibberige reptiele op jou foto is, maak sulke goedjies seker nie te veel saak nie. En asseblief, dit maak nie saak hoe groot die versoeking is nie: Moenie wilde diere voer nie.


Kruger-klimraam

Dries Van Schalkwyk

Canon Powershot SX30 IS

JON SÊ: Dries het hierdie foto geneem langs die S28, ’n paar kilometer buite Krokodilbrug in die Kruger. Leeus klim nie gewoonlik boom nie, maar elke nou en dan stuur ’n leser vir ons ’n foto van ’n leeu in ’n boom in Tanzanië of Umfolozi.

Ek moet erken dis die eerste keer dat ek dié gedrag in die Kruger sien. Maar hoekom sal ’n leeu boomklim? Die meeste kenners reken dis om liggaamstemperatuur te reguleer – die grond is warm en dis eenvoudig net koeler om in die lug te wees. In hierdie geval kan dit ook wees dat dié klomp jong leeus ontdek het boomklim is vet pret.

Die een heelbo lyk net ongemaklik, maar hy hou uit, want al sy vriende doen dit. Goeie foto, Dries!


’n Saak van lewe en dood

Chris Hall

Canon 7D; Canon 400 mm-lens

CHRIS SKRYF: Een oggend laat op ’n wildkykrit in Mala-Mala het ons op ’n trop van 18 leeus afgekom wat besig was om ’n koedoe te bekruip. Die koedoe het reguit op ons afgepyl, met ’n jong leeu kort op sy hakke. Die sagte riviersand het die koedoe net genoeg laat spoed verloor sodat die leeu op sy rug kon spring en die yslike dier plattrek.

JON SÊ: Oorlewing is soms ’n morsige storie, en Chris se foto som dié stryd goed op. Dit maak nie saak of jy weet die koedoe het die stryd verloor nie; in hierdie hierdie breukdeel van ’n sekonde is dit nie duidelik wie die oorhand het in die jagtog nie.

Die koedoe is vasgevang in die sagte sand en die angs is duidelik op sy gesig, maar die leeu loop ook die gevaar om geskop of gegaffel te word. Dis min dat ’n mens ’n jagtoneel van voor af waarneem – dis iets wat jy gewoonlik van die kant af sien gebeur – en in dié geval het dit gewerk om die gesigte van die diere op die voorgrond te plaas.

’n Mens kan sommer die koedoe se benoudheid aanvoel, maar ook die leeu se bloeddorstigheid. Maar belangriker nog is daai oomblik waarin van die aksie – danksy Chris se vinnige sluiterspoed van 1/3 200 van ’n sekonde – vasgevang is. Die middagson is dalk aan die fel kant en die raam effens te beknop, maar die aksie gryp jou só aan dat jy dit nie eens oplet nie. Dit lyk my koedoebiltong is dié Mala-Mala-trop se voorland…


Jou ou grapjas

Christopher Graupner

Nikon D300; Nikkor-300 mm-lens met ’n 2x-omsetter

CHRISTOPHER SKRYF: Ek het dié foto naby die Stevenson Hamilton-gedenkteken in die Kruger geneem. Met só baie voëls op die sebra se rug was dit ’n goeie fotogeleentheid. En toe het die sebra nog op die regte oomblik dié koddige gesig getrek.

JON SÊ: Hierdie is ’n snaakse foto. Maar hoekom? Ek is nie eintlik seker nie, maar dit het iets te doen met die spanning tussen die sebra se verspotte gesigsuitdrukking en die renostervoëls se skelrooi snawels. Hulle lyk soos toeriste wat laat is vir hulle vlug, en die sebra is die sorgelose busbestuurder wat net nie ’n duit omgee nie.

Die sentrale komposisie werk goed, en die sagte sonlig beklemtoon dít wat binne die raam uitgelig moet word.

Die enigste ding wat pla, is die renostervoël links van die sebra se kop, maar dankie, Christopher, dat jy dit nie uitgehaal nie. Nie dat ons sou weet as hy dit gedoen het nie, maar sodoende bly die foto se integriteit behoue.


Is dit Hestrie daai?!

Gavin Durell

Canon 500D; Sigma 500 mm-lens

GAVIN VERTEL: Op ’n nagwildsrit in die Sanbona-wildreservaat in die Wes-Kaap het ons dié bok gesien wat wel, bokspronge maak...

JON SÊ: Opwaarts en voorwaarts! Hierdie is om ’n paar redes ’n uitstekende foto: Dis eenvoudig, dit léwe, en dis nie van ’n springbok nie. ’n Eland is ’n groot stuk vleis – bulle kan tot 840 kg weeg.

Gavin het daarin geslaag om die bok op die hoogste punt van sy sprong vas te vang – met die buitelyne duidelik teen die lug afgeëts. Ek is mal oor die stert – asof dié ywerige poging tot balans die bok langer in die lug gaan hou. Gelukskoot? Glad nie!


Vatso, jou swerkater!

Elana Erasmus

Nikon D3S; 200- 400 mm-lens met ’n 1.4x-omsetter

ELANA VERTEL: Ek het hierdie foto in Etosha geneem. Die muishond het keer op keer uit die boom geval terwyl hy die boomslang aanval. Hy het maar net elke keer opgestaan, homself reggetrek en wéér aangeval. Maar ná ’n paar valle het hy tou opgegooi en aanbeweeg. Die slang het oorleef, maar hy het gehawend gelyk.

JON SÊ: Dis nie net die groot diere wat mekaar bykom nie – soms is die bloedigste gevegte tussen die kleiner spesies.

Hierdie is ’n swartkwasmuishond. Volgens die natuurkenner Duncan McFadyen bestaan sy stapelvoedsel uit insekte, maar hy vang ook akkedisse, knaagdiere en nou en dan ’n slang.

Hulle is beter boomklimmers as baie ander muishonde en sal baie dikwels voëls jag of hulle neste plunder.

Elana het dit goedgedink om spasie om die aksie te los, wat konteks aan die geveg gee. En die fokuspunt – hulle bekke wat teen mekaar stamp – is in ’n goeie posisie volgens die reël van derdes. Welgedaan!


Die denker... en die kiewiete

Erna Pote

Nikon D40; 70-300 mm-lens

JON SÊ: Erna het dié foto in die Kruger geneem. Toe die digter en natuurkenner Eugène Marais meer as ’n eeu gelede bobbejane bestudeer het, het hy agtergekom hulle raak teen skemertyd stil en swaarmoedig – ’n toestand wat hy hesperiese neerslagtigheid genoem het.

Erna se foto lyk asof dit Marais se waarneming staaf. Hierdie ou lyk asof hy ernstig selfondersoek doen. Maar dis die kiewiete op die agtergrond wat die foto maak – dit lyk asof hulle koppe bymekaar sit oor hoe om dié ou op te beur.

Ja, ek vermenslik dalk nou die toneel – die bobbejaan krap maar dalk net sy tone terwyl hy aan ’n groot, sappige mango dink – maar Erna se slim raming van dié toneeltjie laat ’n mens se verbeelding op loop gaan. En dít is die teken van ’n goeie foto.

Kry 10% afslag op ons aanlynfotokursus!

Ons almal is dalk nou meer binnenshuis met meer tyd op hande vir dáái projek wat jy nog altyd wou aanpak. Daar kan seker nie ’n beter tyd as nou wees om ’n aanlynkursus te doen nie, of hoe?

Doen Weg se aanlynfotokursus – ideaal vir enige fotograaf wat hulle vaardighede wil slyp. Jy kan dit voltooi in jou eie tyd en eie pas, in Afrikaans, en gerieflik by die huis. Jy het lewenslange toegang tot die lesse, sluit aan by ons eksklusiewe Facebook-groep vir leerders, en meer!

Gebruik die koeponkode WegFoto om 10% afslag te kry: Klik hier om die kursus-oorsig te sien en/of in te skryf.