Uitgawe: Februarie 2018

Foto: Erns Grundling

Erns vertel: "Dit was ’n Vrydagmiddag in Februarie 2017. Ek, Toast Coetzer en die Weg Agterpaaie-span het deur die Karoo gery. Ná ’n propvol dag van fossielspore kyk op Fraserburg en ’n bergfietsrit oor etenstyd was ons teen sononder naby Merwewille.

"Ons was effens agter skedule en wou graag voor donker in Merweville aankom. Maar toe ons op ’n grondpad buite die dorp sien wat die sonsondergang inhou, het ons onmiddellik stilgehou. Die regisseur en kameraman Christiaan Kritzinger het begin foto’s neem. Sy profiel het dié mooi silhoeët teen die horison gemaak. Dit was een van daai magiese Karoo-aande: Windstil met wolke wat soos bolle spook-asem in die dag se laaste lig dryf terwyl ’n stilte om jou neerdaal." 


Uitgawe: September 2017

Foto: Edward Duckitt

Edward Duckitt neem gewoonlik trou- en portretfoto’s, maar toe ’n seldsame donderstorm Kaapstad nader, het hy geweet hy het die geleentheid om ’n unieke landskaptoneel vas te vang. Kapenaars is nie gewoond aan donderweer nie – in die Moederstad is ’n gesous meer aan die orde van ’n wintersdag. Met die eerste teken van die storm is Edward na Vlaeberg en het hy sy kamera en driepoot opgestel om noordoos oor Tafelbaai te kyk.

Hy het agtereenvolgende foto’s geneem met ’n sluiterspoed van 13 sekondes elk en gehoop om soveel as moontlik ligslae vas te vang. Dié foto is ’n samevoeging van drie foto’s. “Die storm het na die weste van die baai beweeg, en nie eens ’n druppel het op my geval nie.”


Uitgawe: November 2017

Foto: Willem van der Berg

In die middel van daai driehoek is die Namibvallei van ’n Duisend Heuwels. Dis ’n skouspelagtige wildernis op die rand van die Namib-Naukluft- nasionale park. Dit was egter minder indrukwekkend toe Willem van der Berg, sy vrou en drie vriende een middag hier opgedaag het.

Die groep was effens laat omdat Willem ’n afdraai gemis het. Hulle wou kamp, en ’n vreeslike wind het gewaai. Tent opslaan was ’n nagmerrie. Genadiglik het die wind in die nag bedaar en die kampeerders is die volgende oggend deur dié sonsopkoms gegroet.

“Elkeen van ons was verstom,” vertel Willem, “en ek dink nie ek het al ooit só ’n magiese sonsopkoms gesien nie.”