Foto: Sophia van Taak

Uitgawe: Januarie 2018

Sophia het douvoordag op die R357 van Nieuwoudtville af in die rigting van Loeriesfontein gery om die kokerboomwoud langs dié pad met sonsopkoms af te neem. Enkele kilometers buite die dorp vang haar oog ’n stofwolkie wat uit die veld aankom: ’n Skaaptrop op pad na die watertrog hier teen die draad.

Sy’t stilgehou, oor die draad gespring en haarself gaan klein maak agter die trog. Maar dit het nie die skape geflous nie – die voorstes het onmiddellik vasgesteek toe hulle die vreemde skepsel by hulle drinkplek gewaar. Die agterstes was egter nog dorstig en volspoed op pad en het ’n stoffie opgeskop – dit het hulle silhoeëtte mooi teen die agtergrond laat uitstaan.

Danksy hulle bolronde lyfies en bak ore spel dié skaduvorms onmiskenbaar “skaap”. (Veral die een heel regs wie se oorplaatjie so mooi afgeëts word.) Nadat sy ’n paar foto’s geneem het, het Sophia haar uit die voete gemaak sodat die diere kon drink. Die son was toe reeds lankal hoog en haar plan met die kokerbome daarmee heen. 


Foto: Sam Reinders

Uitgawe: November 2016

Dis vroegoggend in die voetheuwels van die Swartberg naby Prins Albert, en Terblanche le Grange maak bokke in ’n kraal bymekaar vir ’n haarafspraak. Hulle gaan gewas en gekam word voor ’n veiling later die middag.


Foto: Sam Reinders

Uitgawe: November 2015

Elkeen van ons het ’n gunsteling-agterpad, en dié een is myne. Dis aan die voet van die Swartbergpas, aan Prins Albert se kant. Dié grondpad loop parallel met die voue van die berg en strek loop 45km tot by ’n boord vyebome op die Weltevrede-vyeplaas. 

Hierdie pad se stof het al in elke vou en speling in my kar én in my kamera se gleufies ingekruip en dit kan nog moeilikheid veroorsaak, maar eintlik hou ek daarvan om te weet ek ry dit saam..


Foto: Nakkie van Wyk

Uitgawe: April 2015

Die son gaan lê oor die plaas Gannabos – tussen Nieuwoudtville en Loeriesfontein in die Hantam-Karoo – terwyl Hendrik Vyver ’n pas geskeerde trop skape kraal toe aankeer.