Foto: Toast Coetzer.


Desember 2017

Is dit die toilet in Afrika met die mooiste uitsig? Ons dink so!

Nyiragongo (3 470 m) is ’n aktiewe vulkaan net noord van Goma in die Demokratiese Republiek van die Kongo. Hierdie is die uitsig van die rand van die hoofkrater af, soos ’n mens verby ’n kleiner krater kyk in die rigting van Goma, wat
toegewikkel is in die vroegoggendmis. Nyiragongo is deel van die Albertynse skeurvallei, wat op die grens tussen die DRK en Rwanda lê.

Die gebou regs onder op die foto is waar portiere slaap. Toeriste bly in A-raamhutte op die kraterrand, met ’n ontsagwekkende uitsig oor die borrelende lawapoel. Dit vat sowat vyf uur om teen die berg op te stap en dit raak baie koud aan die bopunt; vlae sneeu is nie ongewoon nie. Nietemin, jy het dié uitsig van die toilet af om na uit te sien!

Foto: Toast Coetzer.

Maart 2015

‘Brug van God’

In Swahili word dié natuurlike rotsbrug “Daraja la Mungu” genoem. Dit beteken “Brug van God” – dalk omdat dit rivier kruisings soveel makliker maak vir die mense wat hier woon. Dit strek oor die sterk Kiwirarivier in die bergagtige suidwestelike hoek van Tanzanië naby die dorp Rungwe. Die uitgetrapte voetpad bo-oor is getuienis van hoeveel eeue dié wonderbrug al diensdoen. Dis waarskynlik gevorm deur erosie nadat water die sagter rots onder dié harder lawa-uitvloeisel weggevreet het.

Toegang is gratis, maar kry ’n gids by die Bongo-kamp (bongocamping.com). Dis die beste blyplek in die omgewing, op ’n dorpie naby die brug.

Foto: Albie Venter.

Januarie 2016

Dié toneel is amper so oud soos die savanne self: ’n Leeumannetjie bekyk sy grondgebied van naby ’n plat groendoringboom terwyl troppe bokke in die verte wei. Die foto is geneem in Kenia se Masai Mara- nasionale reservaat. Dié reservaat is ’n opregte Afrikasafaribestemming: Die oop landskap en groot getalle diere maak dit een van die vasteland se beste plekke om wild te kyk. Was jy nog nie daar nie? Mufasa wag...

Foto: Albie Venter.

Februarie 2014

Stormvoëls

In min wildreservate in Afrika word so baie foto’s geneem soos in die Masai Mara in Kenia. Die oop vlaktes, die oorvloed diere, die Masai-krygers in hulle kenmerkende rooi gewaad, en die treffende sonsondergange sorg byna altyd vir ’n goeie foto, dit maak nie saak waarna jy jou lens mik nie. Omdat die reservaat op die ewenaar is, is daar ook gereeld reën in die lug.

Vir fotograwe is die reën ’n tweesnydende swaard: Dit maak die lig dof, maar laat ook die gras groei, wat weer die diere lok…

Ek lei soms fotografiesafari’s daarheen. Een middag het ons besluit om ons nie te laat onderkry deur die slegte weer nie. Ons het wegbeweeg van die skares en die tot barstens toe vol wolke gaan afneem. Hierdie plat boom was net die regte voorwerp om die dramatiese lug te komplementeer. Die storm het ál nader gekom en dit het ál donkerder begin word. Skielik het die son deur ’n venster in die wolke geloer, net toe ’n klomp aasvoëls na die boom vlieg. ’n Tipiese toneel was skielik uniek.