Hang gou aan ’n tak...

Sy moes die kinders douvoordag uit die bed kry – op ’n wintersoggend – maar Idene Doyer van Welgemoed in Kaapstad is beloon met ’n wenfoto.

“In Julie laasjaar vertrek ons saam met vier ander gesinne na Namibië. Sossusvlei is die hoogtepunt vir ons – op dié spesifieke koue oggend staan ons douvoordag op, vóór die son opkom oor die Big Daddy-duin, die hoogste duin in die Sossusvlei-omgewing. Hierna kies ons koers na die Dooie Vlei waar my drie kinders, Amorie, Ockert en Lila, die eeue oue ballerinaboom soek. Op die foto kry hulle hulle staan langs die boom en boots die boom se skaduwees na. Dit was ’n heerlike dag, ons het stories uitgeruil en gewonder hoe dit ’n duisend jaar gelede hier gelyk het.”

Die Dooie Vlei is ’n wonderlike plek vir foto’s – soveel so dat ’n mens al weet hoe dit daar lyk, selfs al was jy nog nie self daar nie.

Op hierdie foto gaan Idene ’n stappie verder en gee dit ’n persoonlike kinkel deur haar kinders langs die boom te rangskik. Hulle skaduwees lyk soos dié van die boom se takke en verleen ’n ekstra dimensie aan die foto.

’n Mens sou verwag die boom is die fokuspunt (omdat hy so groot is), maar die groepie kinders langsaan trek eerste ’n mens se aandag, waarskynlik omdat daar ’n interaksie tussen hulle is. Jou oog spring dus tussen dié twee sterk elemente en jy voel hoe mens en natuur mooi by mekaar inpas.

As jy fyner kyk, is daar nóg mensfigure op die foto. Hulle is klein en versteur nie die fokuspunt nie, maar brei eerder die diepte van die foto verder uit. Daar is in der waarheid drie toeriste op die agtergrond en minstens nóg drie op die duin. As ’n mens oor iets moét kla, is dit die flikkerstrepe uit die boonste deel in die raam. Dit voel amper of die son in jou oë wil skyn, maar dit dra by tot die spontane oomblik toe die foto geneem is. 


Skud jou vere reg

Om sy nuwe kamera te toets het Paul Jonker van Randjesfontein digby Midrand ’n swaan in sy tuin afgeneem.

Ek het die foto laatmiddag geneem met my nuwe Nikon P900. ’n Mens kan sien die swaan is nog nie volwasse nie, want sy vere het so ’n ivoor skynsel. Ek skat hy is seker 2-3 jaar oud. Met dié foto kon ek die fyn besonderhede van die veertjies op die voël vasvang.”

As ’n mens na die detail op Paul se foto kyk, lyk dit omtrent of die swaan pas uit die bed opgestaan het. ’n Swaan op ’n afstand is ’n elegante dier, maar dié foto verklap interessante visuele inligting as jy die voël van so naby af bekyk.

Die vere wat so effens orent staan, tref gewis die oog eerste, maar verder is dit bloot ’n portret van ’n swaan.

Om die foto meer van ’n artistieke gevoel te gee kan ’n mens die raampie om die foto nader trek. Jy kan ook die foto na swart-wit omskakel, want die kleure dra nie veel by tot die oorspronklike foto nie. Só kan ’n mens steeds sien dis ’n swaan, maar die vere op sy kop wys fyner besonderhede – selfs die saal op die neus is nou prominenter.


A, ’n bietjie lafenis!

Dit het nie veel gereën op Piet Plessis waar Jana van Wyngaardt woon nie, maar sy kon sien daar is ’n ligte bui oor hulle plaas net buite die dorp. Sy móés net gaan kyk.

Dis maar dor en droog hier by Piet Plessis in die Molopo. Wanneer ’n boer die dag reën sien val op sy plaas, wil jy by al die kampe omry om te sien hoeveel water die aarde gekry het. Anderdag kom ’n reënwolk oor en ek en my man, Jan-Hendrik, ry plaas toe. Ons skat dit het so 5 mm gereën... en dis toe dat ons die skilpad sien stilstaan in die plas water – in wat gewoonlik ’n  droë pan is. Hy het die water soveel geniet dat hy nie eens sy kop teruggetrek het nie.”

’n Mens kan maklik die situasie op die foto saam met die beskrywing van Jana voor jou sien afspeel. Vir ’n oomblik herinner dit jou watter belangrike rol water in die natuur speel.

Ons almal sou hier jou selfoon uitgehaal het om die toneel af te neem sodat jy dit met ander mense kan deel. Maar sonder dat jy dit dalk agterkom, kan die oorspronklike foto nie heeltemal getrou wees aan dít wat jy op die toneel waargeneem het nie.

Een van die groot sondaars is kleurveranderinge in skadugedeeltes, of soos hier waar daar as gevolg van die wolke geen direkte sonlig is nie. Dit gee aan die foto ’n blou skynsel – wat jy nie sien wanneer jy daar staan nie.

’n Mens kan die kleur op die foto meer realisties maak deur dit met fotosagteware warmer te maak. As jy self die kleur kan kies om die blou teen te werk, maak die foto effens geler (geel is die teenoorgestelde van blou in die kleurspektrum).

Jy kan ook die kontras effens lig om die swart beter te wys, en maak ook sommer die boonste deel van die foto donkerder sodat jy al die detail in die wolke beter kan sien.

Só sit jy met dieselfde toneel voor jou, maar dit is waarskynlik ’n getrouer weergawe.

Stuur jou foto vir ons en ons plaas dit dalk hier.

Ons soek nie die tradisionele “kompetisiewenners” nie; net doodgewone foto’s wat vir jou mooi is. Van ’n foto wat jy dadelik as jou nuwe tuisbladfoto op Facebook gebruik regdeur tot kinders wat in die swembad plas. Of dit met ’n gróót kamera of jou selfoon geneem is, dit maak nie saak nie.

IDENE DOYER wen ’n Ry & Sleep-kamerasak ter waarde van R520 met haar foto – veels geluk! Stuur jou foto’s na  leon.botha@media24.com