Af, af, af...

Wanneer hy en sy gesin al die pad van Mooinooi af ’n draai maak in die Kaap, laat Anton Truter nie ’n besonderse fotogeleentheid deur sy vingers glip nie.

“In Oktober laasjaar het ons ’n draai gemaak by die Zeitz MOCAA-museum in die Kaapse Waterfront. My vrou, Theona, is ’n kunstenaar en wou graag na die uitstalling van William Kentridge gaan kyk. Hierdie wenteltrap op die foto is ook in die museum waar ons seun, Kai, staan en poseer. Dis te mooi!”

Anton se foto neem tipiese vakansiefoto’s ’n stap verder met slim komposisie en ’n duidelike fokuspunt. ’n Mens sien Kai eerste raak en jou oë staan om twee redes effens langer stil hier: Sy gesig staan uit tussen al die donker dele rondom hom, en dan kyk hy boonop stip in die lens, so asof hy jou direk in die oë kyk. Eers dan sien ’n mens die sirkelvorms van die wenteltrap. Jy word omtrent by die donkerte ingeslurp en dit voel of jy sélf teen die trappe afbeweeg. Maar wanneer jou oog by die onderpunt kom, is daar nie veel verder te sien nie, en jou oog spring outomaties terug na Kai.

Dis op dié punt dat ’n mens iets voel pla: Kai self is nie mooi in die middel op die 12 uur-merk nie, maar kantel effens oor na regs. Dit gee die foto ’n effense ongemak en verbreek die simmetrie, wat maak dat jy oor en oor na die foto kan staan en kyk.

Die lig self is net so besonders. Dis ligomstandighede wat ’n kamera se ligmeter maklik kan flous met al die swart dele, maar Anton se kamera is in die kol, want jy sien detail in die lig én donker dele.

Die oorspronklike foto is in ’n horisontale formaat geneem met Kai min of meer op dieselfde plek op die foto. Maar Anton het die raampie slim rondom Kai getrek... wat dit in ’n wenfoto omskep. 

Voor in die spoor

As die weer nie wil saamspeel nie, slaan Gerhard Thiart van Worcester en sy gesin bloot ’n ander rigting in.

Gedurende die Desembervakansie het ek, my vrou, Mascha, en ons twee kinders, Vera en Erasmus, weens die gure weer in Struisbaai besluit om ’n draai te maak by De Mond. Dis teen die kus, tussen Waenhuiskrans en Struisbaai. Een stuk is ’n oop vlakte met sand en water, en ’n mens voel skoon afgeleë. Ons was van die eerste mense die dag wat oor die sand loop, want hier was nog nie ander voetspore nie. Vera en Erasmus het op die sandbank tussen die riviermonding en die see vooruit geloop. Ek het my 5 jaar oue selfoon byderhand gehad en vinnig ’n foto geneem. Eers terug by die huis het ek besef hoe mooi die foto is. ’n A2-afdruk hang nou in ons huis.”

’n Mens sien sommer die afdruk teen die muur, want dit is beslis waar die foto tot sy reg sal kom. Die foto is natuurlik ook vir Gerhard meer spesiaal, want dit is sy kinders op die foto en hy kan omtrent die dag herleef as hy daarna kyk.

Wat die foto besonders maak, is hoe maklik ’n mens dieselfde toneel anders kan aanbied en net so ’n treffende foto lewer. As jy nie omgee om met fotosagteware in te spring nie, kan ’n mens byvoorbeeld die kante langs die kinders vertikaal afsny. Jy verloor nie regtig belangrike detail nie, maar só skep jy eerder ’n “gangetjie” soos die kinders se voetspore onder in die raampie begin. Omdat die foto nou langwerpig is en boonop regop staan, trek dit dadelik die aandag.

Komposisiegewys balanseer die ruimte van die wolke met die sandgedeelte – net soos in die geval met die oorspronklike foto – met die fokuspunt steeds in die middel. As ’n mens nóg verder wil gaan, kan jy die foto in ’n kunswerk omskep. Met die horison wat deur die middel van die foto loop – én die kinders wat omtrent op die horisontale lyn loop – is die komposisie passief. Indien ’n mens die onderste derde afsny en ontslae raak van die kleur, verander die prentjie. Verhoog nou die kontras en al die weggesteekte detail in die wolke spring uit – soveel so dat dit soos stukke skaapwol lyk.

Stuur jou foto vir ons en ons plaas dit dalk hier.

 Ons soek nie die tradisionele “kompetisiewenners” nie; net doodgewone foto’s wat vir jou mooi is. Van ’n foto wat jy dadelik as jou nuwe tuisbladfoto op Facebook gebruik regdeur tot kinders wat in die swembad plas. Of dit met ’n gróót kamera of jou selfoon geneem is, dit maak nie saak nie.

  • Anton Truter wen ’n Ry & Sleep-kamerasak ter waarde van R520 met sy foto – veels geluk!

Stuur jou foto’s na  leon.botha@media24.com