Duideliker as dít is die natuur en die mense sewilskrag om weer te begin. Sophia van Taak was daar.


Eers was dit ’n stryd om onafhanklikheid teen die Portugese kolonialiste, daarna ’n burgeroorlog wat – toe Suid-Afrika, Amerika, Rusland en Kuba ook betrokke raak – die Grensoorlog geword het. Dié bakleiery het ’n hele generasie Angolese verwond en die ganse land se ontwikkeling gestuit. Waar reuse-troppe olifante en buffels eens beweeg het, en mense sorgeloos met hulle beeskuddes kon rondskuif en uit die volop riviere tiervis trek, het die oorlog blywende letsels in die landskap en siel kom kerf.

Die Cuando Cubango-provinsie het reeds in die Portugese se tyd al Terras do Fim do Mundo geheet – die plek waar die aarde ophou. Dis ’n ongetemde ruigte van miombowoud en bosveld-savanne. Maar hier woon mense. Mense wat voor die oorlog hulle ongestoorde gang gegaan het, en ná die oorlog verwilder en vermink aan hulle eie lot oorgelaat is.

Dis steeds ’n risiko om hier te kom rondry – Angola het immers steeds meer landmyne as landsburgers. Maar tog beur dié mense moedig die toekoms in. Só lyk die daaglikse lewe in anderman se realiteit. 

Selfs in hierdie bitter ylbevolkte uithoek van die land is steeds genoeg ouens om twee spanne bymekaar te maak vir ’n sokkerwedskryd voor die son sak. ’n Mens sien gereeld sulke informele speelvelde, asook houtbankies wat onder ’n boom uitgepak staan: opelug-klaskamers.
Langs die EN140-hoofpad wat van die Katwitwi-Cabo-grenspos af noord loop Menongue toe, lê ’n paar gehuggies waarvan Savate seker die grootste is. Of altans, hier’s darem ’n winkeltjie waar die plaaslike inwoners seep, klere en ander noodsaaklikhede kan aanskaf. Victoria Paulu en Helena Georgio was op pad water toe met hulle wasgoed en het ’n rukkie in die winkel se skadu vertoef.
Van die teerpad tussen Menongue en Longa af draai daar kort-kort ’n tweespoortjie weg na ’n dorpie, oftewel bairro, iewers in die ruigtes. Die mense wat hier woon, leef in armoede en is afhanklik van hulle karige oes uit die aarde. Mense soos Dominga Marth wat hier mahangu stamp vir meel.
Die brug by die samevloeiing van die Cuito- en Cuanavale­rivier was die agtergrond waarteen een van die grootste slae van die Grensoorlog afgespeel het. Dis hier waar die Suid-Afrikaanse Weermag maande lank moes walgooi om eers die People’s Armed Forces of Liberation of Angola-magte (FAPLA) en die Kubane térug oor die rivier te druk, en hulle toe daar te probeer hou. Die rivier-oewers neffens die brug is vele se bad- en wasplek, selfs al is hier steeds landmyne. In 2017 alleen is 2?000 myne in ’n radius van slegs 300?m rondom die brug verwyder.
’n Beeswagter en sy hond op hulle pos in die veld. Op die punt van sy kort spies sit ’n paar kiwano’s, ’n soort stekelrige komkommer – sy veldkos.
’n Motorfiets blyk die platteland se verkose vervoermiddel te wees. In besonder Bajaj se Discover- en Boxer-model.
Langs die hoofroete van Menongue na Cuito Cuanavale lê heelwat oorblyfsels van die oorlog en roes: tenks, amfibiese voertuie, kanonne... Dié Russiese Mil Mi-24-aanvalshelikopter is ’n unieke gesig. UNITA-magte het dit neergeskiet.
Christina Chiuga woon saam met haar ma en babasussie in hierdie hut iewers in ’n bairro naby die plek waar maj. Ed Every se Mirage F1AZ op 20 Februarie 1988 neergeskiet is. Op daardie noodlottige dag kon ’n reddingspan dit in die hitte van die stryd nie naby waag nie. Weens die impak (die vliegtuig is teen 1?111?km/h in die grond vas) was daar ook nie veel oor nie en die ongelukstoneel is eers laasjaar “ontdek” danksy die mense van Christina se bairro wat verwronge stukkies metaal in die veld opgemerk het.
Dis ’n Saterdagoggend in Cuito Cuanavale en by Edu Monteiro se kroeg heers reeds ’n joligheid op die voorstoep.
In Cuito Cuanavale is ’n imposante monument wat FAPLA en hulle Kubaanse medestryders se sege gedenk. ’n Mens se siening van wie werklik gewen het, mag dalk verskil, maar oor een ding kan niemand stry nie: Dié 55?m hoë marmertoring in die vorm van ’n AK47-aanvalsgeweer en die koperstandbeeld (17?m hoog) van twee soldate wat die lourier van oorwinning omhoog hou, ís indrukwekkend. ’n Besoek aan die monument en oorlogsmuseum kos sowat R45?p.p.
Die dag breek oor die Cuitorivier, ’n entjie suid van die dorpie Nankova waar dié rivier met die Longa se waters saamvloei. Nou-nou sal die seekoeie in die koeligheid van die dieper poele sluimer en die omliggende bairros se mans in hulle mokoro’s uitvaar om tiervis te vang. Hier – aan die einders van die aarde – is die lewe vas van plan om aan te gaan.

Lees die artikel oor Sophia se reis deur Suid-Angola in Weg se 2019-Namibië-gidsboek wat in April te koop sal wees.