Lugdrama

Met geduld agter die kameralens kan jy met ’n wenfoto beloon word – kyk maar na Vanessa Kruger van Polokwane en die rooijakkals wat sy afgeneem het.

“Ek het ’n reeks foto’s van ’n rooijakkals geneem by die Cubitje Quap-watergat net noord van Nossob in die Kgalagadi-oorgrenspark. Die hele oggend wat ek hom sit en dophou het, het hy herhaaldelik probeer om sy prooi langs die watergat vas te trek. Vir elke poging het hy die water van die regterkant af bekruip, en dan gewag dat die duiwe hulle sit kry. Daarna het hy skielik deur die lug geduik in die rigting van die voëls – dit het gelyk of hy weet die voëls gaan opvlieg. Die jakkals het nie moed opgegee nie, en ek was gelukkig genoeg om sy vangs vas te vang.”

Heelwat van die 11 raampies wat Vanessa vir ons gestuur het, is ’n meesterstuk in eie reg. Hierdie foto is maar een voorbeeld en dit trek ’n mens se aandag om verskeie redes. Eerstens is dit nie ’n alledaagse gesig om ’n jakkals te sien jag nie – as jy gelukkig is, sien jy hoe een loop en aas.

Tweedens verwag ’n mens nie lewendige duiwe op ’n jakkals se spyskaart nie.

En laastens is jy nie seker wat volgende gebeur nie. Op die foto lyk dit of die voëls wegkom en die jakkals tweede kom, maar hy het sowaar met dié duikslag een beetgekry.

Hier is ’n paar positiewe dinge: Daar’s die lae lig wat van agter Vanessa af kom, haar ordentlike beligting, en die foto wat ongelooflik skerp is. Maar een van die belangrikste dog subtiele elemente is die vlak fokusdiepte.

Vanessa het ’n 600 mm-lens op sy grootste lensopening – f4 – gebruik, wat die skerp jakkals en duiwe mooi teen die agtergrond uitlig. Die duif heel regs, die een wat reg langs die jakkals opvlieg – is wel uit fokus en maak ’n deel van die jakkals toe, maar ’n mens wonder nie vir ’n oomblik daaroor nie. Dit dra by tot die drama en jy kan sien hoe die duif vlug vir sy lewe.

Heel simbolies kan ’n mens wel die duidelike skaduwee van dié duif op die grond onder die jakkals sien. ’n Mens kan nog heelwat sê oor die foto, maar ons sal volstaan met “briljant”. Vanessa kan haarself gerus op die skouer klop. 

Sit ’n bietjie daar

Water bring vrede, iets wat ’n mens skaars beter kan afrond as met ’n salige sonsondergang. Kyk maar net na die foto wat Johan Nortjé van Midrand geneem het.

Ek het die foto by die Klipdas-boskamp anderkant Parys teenaan die Vaalrivier geneem. Toe ek en my vriend Paul Jonker hier aankom, kon jy nog so van die een rots na die ander oor die rivier loop. Maar water is hoër op in die rivier losgelaat en het die rotse verswelg. Hier sit Paul die laaste stuiptrekkings van ’n sonnige dag langs die Vaal en geniet.

Soos ons al voorheen uitgewys het, trek enige menslike figuur op ’n foto jou aandag. Sonder die silhoeët op dié foto word dit maar net nóg ’n sonsondergang oor water. Maar wat die foto ’n bietjie meer skop gee, is die weerkaatsing van die son wat soos ’n pyl tot teen die figuur loop.

Al sien ’n mens waarskynlik met die eerste oogopslag die son eerste raak, neem die weerkaatsing jou onmiddellik na die fokuspunt toe. Omdat die figuur weg van die straal af kyk, veroorsaak dit ’n effense ongemak, maar jy wonder tog waarna die persoon kyk of waarmee hy besig is.

Daar is interessante detail in die wolke, maar die detail in die donker dele in die voorgrond dra nie veel by tot die foto nie. Vir ’n sterker foto kan ’n mens gerus ’n deel van die voorgrond afsny.

’n Vis vlieg verby...

Dis nie aldag dat ’n mens ’n voël afneem en ’n vis kom verby gevlieg nie. Maar Neels Meyer van Hartenbos het dit met sy eie oë “gesien”. En gelukkig was sy kamera byderhand.

Ek en my vrou, Elma, was in die Krugerwildtuin en het net anderkant Letaba krokodille en seekoeie sit en dophou. ’n Lepelaar aan die oorkant van die dam – seker so 50 m ver – het my aandag getrek, en ek het my kamera sommer as verkyker gebruik om beter te kan sien. Net toe ek die foto neem, spring ’n vis uit die water!”

Net soos Vanessa se foto kan ’n mens dié een ook nie beplan nie. Maar as jy ’n vinnige vinger het, vries jy ’n oomblik wat jy andersins waarskynlik nooit sou sien nie.

Neels is effens beperk met sy toerusting, maar dit neem nie te veel weg van ’n interessante foto nie. Die foto is omtrent deurgaans skerp en ’n mens sien selfs die kiewiet daar tussen die lepelaar en die vlieënde baber.

Uiteraard het iets die baber laat skrik, en die gevolg is iets ongewoons. Die baber is wel ietwat uit fokus, maar dis waarskynlik weens die beweging.

Tog, omdat dit so ’n besonderse oomblik is, pla die effense wasigheid ’n mens glad nie. Danksy Neels se foto weet ons nou ’n baber kan soms in ’n vreemde vlieënde voorwerp ontaard.

Stuur jou foto vir ons en ons plaas dit dalk hier.
Ons soek nie die tradisionele “kompetisiewenners” nie; net doodgewone foto’s wat vir jou mooi is. Van ’n foto wat jy dadelik as jou nuwe tuisbladfoto op Facebook gebruik regdeur tot kinders wat in die swembad plas. Of dit met ’n gróót kamera of jou selfoon geneem is, dit maak nie saak nie. Vanessa Kruger wen ’n Ry & Sleep-kamerasak ter waarde van R520 met haar foto – veels geluk! Stuur jou foto’s na  leon.botha@media24.com