Dit maak nie saak hoe slim jou kamera is nie, daar sal ’n tyd kom wat die kamera ’n foto nie reg belig nie. Dis dan wanneer beligtingskompensasie jou beste vriend word.


Wat is dit?

Die beligtingskompensasieknoppie of -wieletjie laat jou toe om self die toneel ligter of donkerder te maak. Dis ’n uitstekende funksie wanneer jy in outomatiese modus foto’s neem.

Die kamera besluit self op die nodige beligting, maar as jy nie 100% gelukkig is nie, kan jy die volgende foto se lig verstel.


Wanneer gebruik ek dit?

Wanneer jy ’n toneel afneem waar die lig nie wil saamspeel nie, soos ’n persoon wat in ’n donker deuropening staan. Jou kamera se beligtingsmeter sal moontlik net die donker dele meet en die persoon sal oorbelig word. Om die kamera te dwing om die person reg te belig moet jy die beligtingskompensasie na minder as nul stel. As jy ’n foto neem van die Visriviercanyon teen sonsondergang, sal die helder uitspansel maak dat die canyon te donker en eentonig lyk. Stel die beligtingskompensasie na die positiewe nommers en die kamera sal die daaropvolgende foto effens oorbelig om die groewe en klippe in die canyon uit te lig.

PROBEER DÍT

Oppas vir helder tonele

As jy ’n digitale foto oorbelig, kan jy niks doen om die detail in die foto duideliker te maak nie. Onderbelig dus eerder wanneer jy digitale foto’s neem. Dis makliker om met ’n fotoprogram detail in donker dele ligter te maak as om detail te probeer red wat oorbelig is.