Die uitkykdek oor die watergat by die Senyati Safari Camp naby Kasane moet een van die beste uitsigte in die noorde van Botswana hê. Dié dek het ook ’n gesonke voëlskuiling aan die voorkant genaamd Elephant Bunker, wat fotograwe ’n unieke blik op diere se doen en late gee.

Saans is die watergat verlig, en dis tóé dat die fotograaf en safarigids Albie Venter hierdie foto geneem het, met die volmaan in die agtergrond. Gaan na senyatisafaricampbotswana.com om na Senyati se kampplekke en chalets te kyk.

FOTO: ALBIE VENTER


Semonkong is ’n dorpie in Lesotho, noordwes van Qacha’s Nek. Die naam beteken “plek van rook,” en sodra jy by die Maletsunyane-waterval kom, sal jy gou sien hoekom dit so gedoop is.

Die rivier stort 192 m oor ’n basaltrotslys, wat ’n bol kondensasie veroorsaak wat in die ravyn hang... Annéne het die Bergkoninkryk die eerste keer in April besoek; dit was aan die einde van die reënseisoen.

Sy en ’n vriend was op ’n staproete toe hulle iets hoor wat soos donderweer raas. Later het hulle om ’n draai op hierdie toneel afgekom: Die Maletsunyane-waterval in vloed, kompleet met “rookborrels”.

FOTO: ANNÉNE MARÉ