Sabi Sand

Die dag het soos gewoonlik begin: pak ’n krat met koffie en versnaperinge, teken geweer uit, ontmoet kliënt by die lodge...

Ek en my spoorsnyer het reeds vier dae lank die kliënt op ’n private fotosafari in die Londolozi- private wildreservaat in Sabi Sand gelei.

Dié oggend het ons reeds baie gesien, insluitend ’n luiperdmannetjie voordat ons by ’n watergat stilgehou het.

Ek besoek dié watergat gereeld. Gewoonlik is dit ’n goeie plek vir voëlskyk, en dis ver van die kamp af. Toe ons nader kom, kon ’n mens aanvoel iets is nie pluis nie. Nog voordat ons daaroor kon bespiegel, het ons ’n gevlekte hiëna by die water sien lê.

By nader ondersoek het ons ’n klein waterbok in die opdrifsels van die waterrand sien skuil. Daar was ’n duidelike wond aan sy nek, maar ons was nie seker wat gebeur het nie.

Ná n paar minute het hy opgestaan en tot by die rand van die water gestrompel.

Die hiëna was onmiddellik op sy hoede en het na die swak kalf geloer. Dit het gelyk asof die waterbok ’n ontsnaproete soek, maar sy enigste opsie is deur die hiëna versper.

Foto: Mike Sutherland
Foto: Mike Sutherland

Elke keer wat die waterbok probeer ontsnap het, was die hiëna op sy stert en het hom weer die water in gejaag. Hulle het dan na mekaar gekyk en dan sou die hiëna weer gaan lê.

Foto: Mike Sutherland
Foto: Mike Sutherland

Foto: Mike Sutherland
Foto: Mike Sutherland

Die toneel het hom ’n paar keer afgespeel met die hiëna wat die waterbok weer in die water jaag.

Foto: Mike Sutherland
Foto: Mike Sutherland

Om die een of ander rede was die hiëna huiwerig om sy prooi tot in dieper water te volg. Toe ons twee uur later ry, was die bok pootuit.

Foto: Mike Sutherland
Foto: Mike Sutherland

Ons het later teruggekeer. Die dikgevrete hiëna het in skadu gelê, met geen waterbok in sig. Dit was moeilik om die gebeure in te neem. Ek wou hê my foto’s moes wys deur watter uitdagings wilde diere elke dag in die gesig gestaar word.

Ons wou die waterbok help, maar ons werk as gidse is om die diere se gedrag aan die gaste te verduidelik. Ons mag nie met die natuur se gang inmeng nie.

Mike Sutherland, Johannesburg

Foto: Mike Sutherland
Mike Sutherland

Ek is in KwaZulu-Natal gebore en getoë. My grootouers het ons kleinkinders van vroeg af reeds geleer om lief te wees vir die bos. Ná universiteit het ek as gids by &Beyond in die Phinda-wildreservaat in KZN begin werk. Later het ek drie jaar in Sabi Sand as gids gewerk voordat ek weer stad toe getrek het.

Die afgelope vier jaar werk ek as ’n private gids. Ek en ’n vriend bedryf ’n safari-maatskappy Escape Safari Co wat luukse safari’s in Afrika aanbied.

Elke dag is verskillend en geen twee wildritte is dieselfde nie. Die bos stimuleer my geweldig en my loopbaan as gids is baie bevredigend.

WAT HET JY AL MET JOU EIE OE¨ GESIEN?
Stuur jou vertelling en reeks foto’s van iets ongewoons wat jy in die natuur gesien het na toast@weg.co.za