FOTO’S: SANTIE QUANJER

Ek en my ma, Anna Kruger (74), het ’n bietjie gaan vakansie hou in die Krugerwildtuin. Dit was ons laaste dag in die park en ons was op pad van Mopani na die Phalaborwahek.

’n Jong toergids het ons die vorige dag by Mopani vertel dat hy jagluiperds op die H1-6 gesien het. Ek het besluit ons kan net sowel die kans vat en gaan kyk of hulle dalk nog daar is.

Presies halfpad Letaba toe op die H1-6 sien ons toe dié drie jong jagluiperds. Ek was vreeslik opgewonde, want dit was jare sedert ek laas ’n jagluiperd in die wildtuin gesien het.

Ons trek af en stop sodat ons mooi kan sien. Met die ruite afgedraai hoor ons hulle maak vreemde geluidjies. Skielik verskyn ’n yslike jagluiperd uit die bosse – ons het aangeneem dis ’n volwasse mannetjie. Die atmosfeer het onmiddellik verander.

Kyk: Die aanloop na die geveg...

VIDEO: Santie Quanjer

Die jonges het bly roep, maar anders geklink. Toe kom daar nóg een uit die bos – te oordeel na die jonges se reaksie kon dit hulle ma gewees het. Die volwasse mannetjie was spesifiek gefokus op een van die jonges.

Die ander twee het by die wyfie gaan staan, en teen haar aangeskuur. Die een jong jagluiperd het sy man gestaan teen die groot mannetjie. Dit was duidelik dat hulle gaan baklei: Ek het ’n kat by die huis wat geen ander katte naby haar verdra nie; dus ken ek die lyftaal en geluide voordat hulle aanmekaarspring.

Ek het nooit geweet dié kennis gaan eendag handig te pas kom in die wildtuin nie! Dis toe dat ek my kamera gryp en begin foto’s neem – ook net betyds, want toe bars alle hel los! Ek het ophou dink – maar aanhou foto’s neem – en net bly bid hulle beland nie in my kar nie, want hulle was baie naby!

Ek het die kamera stil gehou en seker gemaak ek doen niks simpels nie, want ek het omtrent gebewe van die adrenalien...

Als was binne 30 sekondes verby. Die mannetjie het eers ná die bakleiery wegbeweeg en toe weer teruggesirkel. Teen daardie tyd was my ma so ontsteld oor die spulletjie dat ek eerder gery het – maar met die wete dat ek ongelooflike foto’s en videomateriaal geneem het.

Santie Quanjer, Parys

Ek is ’n afgetrede onderwyseres en woon in die Vrystaat. Ek was ’n klompie jare in Nederland en het teruggekeer nadat my man oorlede is. Hy was eintlik die natuurfotograaf, maar ek het nou met sy kameras begin skiet.

Ek probeer nou so twee keer per jaar wildtuin toe gaan, veral die sentrale deel rondom Satara en noord van daar. My kar ken al die pad na die Orpen- en Phalaborwahek. My ouers het nooit gereis nie; dus het ek eers in die vroeë 1990’s in die wildtuin gekom. Die eerste paar keer was ’n bietjie teleurstellend, want jy verwag ’n leeu of ’n ding om elke draai. Dan besef jy skielik op ’n dag dis nie waaroor dit gaan nie.