Makwa is ’n piekniekplek in Hwange waar ’n mens mag kamp – een groep bespreek dit eksklusief vir die aand. Vir my en my man, James, is dit lekker om stoksielalleen in die bos te wees. Ons was in Junie 2019 daar met ons Hino 500 Camper.

Met die ry na Makwa vroeër die dag het ons drie wildehonde onder ’n boompie sien lê; dis nie ver van die piekniekplek af nie.

By Makwa is ’n mooi watergat, en ons wou in die koelte van ons voertuig sit en die watergat dophou. 

Ek het my driepoot opgestel, saam met my Canon 7D Mk. II-kamera en Tamron 150-600 mm-lens. Toe die son begin sak, kom ’n jong koedoekoei skielik reguit na die watergat gehardloop met drie wildehonde agterna. Dit was ’n hele gedoente: Sy is dadelik die water in, wat diep was. Sy moes swem, want drie krokodille het ook nader beweeg. Haar gesigsuitdrukking spreek boekdele!

Foto: Heleen Moulder
Foto: Heleen Moulder

Die honde én die koedoe was in ’n ongemaklike situasie. Die koedoe kon nie dieper nie, want die krokodille het haar afgesper. Op die oewer het die wildehonde haar afgesny, maar hulle was self lugtig vir die krokodille.

Sy moes swem, want drie krokodille het ook nader beweeg. Haar gesigsuitdrukking spreek boekdele!

Die honde het vergadering gehou en een het om die watergat gehardloop om die koedoe van die ander kant af in te wag. Die twee oorblywende honde het besluit hulle gaan hulle mater se voorbeeld volg, maar het na verskillende kante beweeg om alle moontlike ontsnaproetes te blokkeer.

Ek dink die koedoe se vrees was groter vir die wildehonde, want sy het in dié stadium die krokodille geïgnoreer en na die oorkantste oewer begin swem.

Foto: Heleen Moulder
Foto: Heleen Moulder

Die koedoe het uitgeklim, maar moes dadelik weer inspring en in ’n ander rigting swem. Daar was vir 30 minute ’n herwaarts en derwaarts en uiteindelik het die koedoe uitgespring en ontsnap.

Foto: Heleen Moulder
Foto: Heleen Moulder
Foto: Heleen Moulder
Foto: Heleen Moulder
Foto: Heleen Moulder
Foto: Heleen Moulder


Foto: Heleen Moulder
Foto: Heleen Moulder

Heleen en James Moulder, Pretoria

Ons toer al sedert 1986 elke jaar deur Afrika – ons was al so ver as Uganda, en reis altyd op ons eie. Ek het as kind baie in Hwange gekom – my ouers het destyds plase in Zimbabwe besit. Ek spog menigmaal met die feit dat ek die Victoriawaterval al omtrent 40 keer gesien het. Elke keer wanneer ons na Zimbabwe gaan, moet James eers stop sodat ek kan uitklim en die grond soen!

Ek hou van die régte bos waar ’n mens kan kamp sonder heinings, en waar mense die stilte waardeer en respekteer. Die Hwange- nasionale park is groot en veilig, en daar’s baie wild as jy geduldig is en weet waar om te soek.

Die personeel van Zimbabwe-parke is vriendelik en toegewyd aan hulle werk. Hulle gaan uit hulle pad om dinge vir jou aangenaam te maak. Hoewel dinge oud is, is alles skoon en blink. Ek het groot respek vir hulle.

Wat het jy al met jou eie oë gesien?
Stuur jou vertelling en reeks foto’s van iets ongewoons wat jy in die natuur gesien het na toast@weg.co.za.