Op ’n besoek aan die Chobe- nasionale park in Februarie 2015 het ons op ’n trop afgekom wat pas ’n buffel op die oewer platgetrek het. Van die pad af kon ons nie mooi uitpluis wat aangaan nie, maar besef toe dat die toneel van die rivier af onbelemmerd sal wees.

Ons het teruggery na Kasane en iemand betaal om ons met sy boot uit te neem. Dit was nogal ’n ent in die Choberivier op, verder as wat die meeste toeristebote gewoonlik vaar. Daar was dus g’n ander siel in sig toe ons daar aankom nie. (Nog ’n boot sou later opdaag, maar dié het gou weer verkas.)

Ons het omtrent ’n uur lank gebly – genoeg tyd om dop te hou hoe elkeen in die leeutrop hom in ’n spesifieke volgorde knuppeldik vreet.

Heel eerste was die ouer mannetjies aan die beurt, gevolg deur die hele trop, en toe die drie jong leeus en welpies. Teen dié tyd was daar nie meer veel van die buffel oor nie en die trop het stadigaan verkas, behalwe die jong leeus wat vir seconds gebly het. Ons het aanvaar die aksie is verby.

Foto's: Annica en Johan Van Rensburg
Foto's: Annica en Johan Van Rensburg
Foto's: Annica en Johan Van Rensburg
Foto's: Annica en Johan Van Rensburg

Maar net toe gee die tropleier ’n geweldige brul om sy teenwoordigheid op die rivieroewer aan te kondig. Sy hele lyf het saamgepraat en aan sy manier van stap kon ons aflei dat die ou taamlik iesegrimmig is. Die jongetjies het haastig padgegee, behalwe een mannetjie wat halsstarrig by die vangs bly talm het. Die beneukte oubaas – kom ons noem hom Scar – kon dit nie verduur nie en het die mannetjie bestorm!

Foto's: Annica en Johan Van Rensburg
Foto's: Annica en Johan Van Rensburg

Die skielike aanval het die snuiter onkant betrap en hy het skaamkwaad weggekoes terwyl hy homself van skone skrik natmaak. Scar was skynbaar tevrede met dié verskoning. Hy ’t nog een keer aan die karkas geruik, vlugtig daaraan gelek en die res vir die aasvoëls gelos.

Foto's: Annica en Johan Van Rensburg
Foto's: Annica en Johan Van Rensburg
Foto's: Annica en Johan Van Rensburg
Foto's: Annica en Johan Van Rensburg
Foto's: Annica en Johan Van Rensburg
Foto's: Annica en Johan Van Rensburg
Foto's: Annica en Johan Van Rensburg
Foto's: Annica en Johan Van Rensburg

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook


Annica en Johan Van Rensburg, Groblersdal

Ons gaan so gereeld as moontlik met ons kameras veld toe om natuurlewe vas te vang. Ons hoop om deur ons foto’s en vertellings (gaan gerus na lovenaturephix.com) natuurbewaring en ekotoerisme in Suider-Afrika te bevorder.

Vir die laaste 15 jaar gaan draai ons gemiddeld twee maal per jaar in die Chobe – spesifiek om foto’s te neem. Die reservaat se karakter verander saam met die seisoene, maar daar is áltyd diere en voëls in oorvloed.

Instagram: @love_nature_phix

WAT HET JY AL MET JOU EIE OË GESIEN?

Stuur jou vertelling en reeks foto’s van iets ongewoons wat jy in die natuur gesien het na toast@weg.co.za