Hierdie artikel is moontlik gemaak deur Outdoorphoto.

Die fotograaf Ben Cranke en sy groep was besig met ’n fototoer in die Elephant Plains Game Lodge in die Sabi Sands-wildreservaat toe hulle iets besonders sien. Terwyl hulle foto’s geneem het van Xidulu, die jong luiperdwyfie wat gewoonlik naby die Ingriddam voorkom, het ’n Badger Gear Snuggfit-boontjiesak* uit een van die voertuie tot op die grond geval – nie te ver van die luiperd af nie. Die boontjiesak het dadelik haar aandag getrek en die groep het haar doodstil sit en dophou. 

*Hierdie is nie ’n klein vierkantige boontjiesak soos dié waarmee ’n mens kindertyd gespeel het nie, maar ’n U-vormige sak wat ’n mens oor ’n motordeur met ’n oop venster sit om ’n platform te skep waarop jou kamera en lens kan rus. Dit werk ook goed vir grondvlak- of laehoekskote. 

VIDEO: Hendri Venter

© Ben Cranke, Tusk Photo.
© Ben Cranke, Tusk Photo.

Kort voor lank het die luiperd nuuskierig nader gekruip. Sy het haar poot versigtig uitgesteek, die sak met haar een poot nader gehark en tot by haar mond gebring. Toe hardloop sy volspoed daar weg.  

Die groep wou die boontjiesak probeer red en het nader beweeg, maar toe die luiperd hulle sien, het sy teen ’n digte tambotieboom opgeklim – met haar “prooi” steeds in haar bek! Daarna kon hulle nie veel sien nie… maar te oordeel aan die beweging in die takke het dit gelyk asof sy dié speelding terdeë geniet.

© Ben Cranke, Tusk Photo.
© Ben Cranke, Tusk Photo.

Ben en sy groep het later die middag weer teruggegaan om te kyk of hulle die sak kan opspoor. Die luiperdwyfie was steeds in die boom en besig om met die sak te speel asof dit ’n muis is. Toe val die sak skielik tot op die grond en die luiperd spring agterna die bos in. Sy het sowat 30 minute later uitgekom… met ’n leë bek. Die groep het ’n rukkie gewag vir haar om haar uit die voete te maak en die sak gaan optel – nog heel, maar met ’n paar littekens.

Merk jou foto’s met die hutsmerk #odpshutters op Instagram om dit met Outdoorphoto te deel.