WJ NORTIER: In Augustus het ons groep met vier voertuie by die Nyamepi-kampplek in die Manapoele- nasionale park gekamp.

Ek is ’n veldwagter by die Sabi Sand-wildreservaat en weet dat diere – dit maak nie saak waar jy is nie – altyd wild bly en versigtig benader moet word. Tog het ons Mana se olifante as rustig ervaar: Hulle het met hulle daaglikse lewe aangegaan asof ons nie daar was nie.

Mana se kampe is nie omhein nie en daarom loop die olifante gereeld deur op soek na sade van veral anabome. Ek het die olifante dopgehou en daar was geen tekens van spanning of onsekerheid terwyl hulle tussen die kampeerders gewei het nie.

Ek was die jongste in die groep en my ouers, wat van Mbombela af kom, was ook saam. Op die laaste middag van ons besoek het ek besluit om my kampbedjie buite die tent te sit vir ’n bietjie koeligheid. Ek het nie gedink ek sal aan die slaap raak nie, maar ek het.

RIANA NORTIER (WJ SE MA): Soos duidelik gemeld word by die ontvangskantoor, moet jy nooit die diere se beweging belemmer nie. Jy moet byvoorbeeld nie tent opslaan in seekoeipaadjies of onder bome waar olifante peule eet nie. Die olifante het elke dag ’n draai by die spesifieke boom naby WJ se tent gemaak, dus was hulle verskyning glad nie ongewoon nie.

Ons het elke keer na ons kameras gegryp, want die mense by die huis sal ons mos nooit glo dat olifante so naby jou verby stap nie.

WJ: Ek was sowat 15 minute aan die slaap toe ek wakker word van die gevoel dat iemand my aan my hemp van die bed af probeer optel. My eerste gedagte was dat iemand my geduld wil beproef met ’n “swak grap”…

RIANA: Ons het die bul sien nader kom en hy het vreedsaam aan die peule geëet onder die anaboom naby WJ se tent. Soos gewoonlik het ek foto’s met my Canon SX 60HS geneem. Ons het vir geen oomblik gedink WJ is in gevaar nie, daarom het ons hom ook nie probeer wakker skree nie – dit kon dalk die olifant ontstig.

WJ: Ek het op my maag gelê en my kop was weggedraai van die olifant af. Ek het in ’n splitsekonde besluit om stil te lê in ’n poging om die “grapjas” se krag te toets. Toe ek halflyf in die lug was, het ek besef hier’s moeilikheid.

Toe ek my kop draai en die olifant sien, het ek instinktief my regterarm opgelig ter selfverdediging, en iets soos “Nee!” geskree. Soos gesien kan word op die foto, was die olifant se slurp na my uitgestrek toe hy my probeer optel het.

Ná my beweging het die spasie kleiner geword.

WJ was aan die slaap toe hy wakker word van die gevoel dat iemand hom aan sy hemp van die bed af probeer optel
Foto: Riana Nortier
Foto: Riana Nortier
Foto: Riana Nortier

Ek onthou hoe sy voorbene teen die kampbed gestamp het. Ons het vir wat soos ’n ewigheid gevoel het, mekaar in die oë gestaar.

Hy was so naby dat ek slegs op sy regteroog kon fokus. Ek het besef dat die olifant my gaan doodmaak, en dat ek niks daaraan kan doen nie. Vlug was nie ’n opsie nie –hardloop sou die verkeerde ding wees om te doen.

Ek het stil bly lê en die olifant het ná ’n paar oomblikke wegbeweeg asof niks gebeur het nie. Daar was soveel gedagtes wat in daai stadium deur my gekop geflits het. As veldwagter het ek al gesien hoe soortgelyke situasies lelik eindig, maar dié spesifieke olifant was my genadig. Net hy sal weet hoekom.

RIANA: Toe WJ omdraai ná die getrek aan sy hemp en in die olifant vasgekyk het, het hy versteen bly lê.

Ek moet sê, al het ek dié foto’s geneem, was ek ook byna lam van skok. Dit het so vinnig gebeur en kon baie anders geëindig het.

WJ: Ek glo olifante kan aanvoel wanneer iemand gespanne is in sy teenwoordigheid. Dit het ’n groot uitwerking op hoe die olifant teenoor jou gaan reageer. Dis ook belangrik om te besef dat die dinamika en veiligheid dramaties verskil rondom ’n teeltrop teenoor ’n bul wat op sy eie is.

Dis ’n feit dat jy tot elke prys enige interaksie met teeltroppe moet vermy aangesien die koeie onverwags aggressief kan raak as daar kalfies in die trop is.

Daar is nie reëls as dit by die natuur kom nie. ’n Laaste bietjie raad: As jy jou in ’n situasie soos dié bevind, glo ek dis beter om passief te wees eerder as reaktief – maar elke situasie het sy meriete.

WJ & RIANA NORTIER

Riana: WJ het in ’n huis grootgeword waar ons lief is vir die natuur. Ons het gereeld wildtuin toe gegaan en elke jaar ’n 4x4-toer saam met vriende beplan. Die Manapoele was altyd nog op ons lysie.

Mana se kampe is nie omhein nie; dus is jy deel van die natuur en die diere kom na jou toe.

WJ: Dis beter om Mana in die geheel te vermy as jy weet dat vrylopende olifante in die kampterrein jou senuweeagtig gaan maak.

Omdat ek in ’n Groot Vyf-reservaat werk, waarsku ek gereeld ander mense om versigtig te wees en nie saans buite te slaap nie (hoofsaaklik as gevolg van leeus, luiperds en hiënas).

In dié geval het ek weer op die harde manier besef dat ’n wilde dier uiters onvoorspelbaar is en dat enigiets enige tyd moontlik is.