’n Wilde oggend in die Ngorongorokrater, Tanzanië  

In Mei 2019 was ek gelukkig om weer twee van Tanzanië se grotes – die Serengeti- nasionale park en die Ngorongoro-bewarea – te besoek. Ons het die Ngorongorokrater laaste besoek en die fotogeleenthede was uitstekend. Ngorongoro voel altyd soos ’n nagereg ná die Serengeti-hoofmaal.

Ná ontbyt het ons na die olifantbulle met die groot tande gaan soek. Op pad na die olifante het ons ’n tierboskat gewaar wat jag. Hierna het ons by die olifante stilgehou. Terwyl ons daar sit, hoor ons gids oor die radio dat ’n trop gevlekte hiënas besig is om buffelkalfies daar naby te jag. Ons het ons onmiddellik daarheen gehaas en kon die hele petalje waarneem.

Die buffelkoeie het alles gedoen om hulle kalfies teen die groot trop hiënas te beskerm en hulle eers verjaag. Die een koei het haar kalfie probeer beskerm, maar daar was te veel hiënas.

met my eie oe
9.39 vm. Die buffels verjaag die hiënas
met my eie oe
9.40 vm. ’n Buffelkoei beskerm haar kalf.
met my eie oe
9.40 vm. ... maar die hiënas beweeg weer nader.

Uiteindelik het die hiënas die oorhand gekry en die buffels het die aftog geblaas. Dit was ’n ongelooflike ervaring, maar hartseer om te sien hoe die kalfie gevang word. Terwyl die hiënas die kalfie vang, het ’n groep leeus ook nader beweeg en die karkas kom steel en daaraan begin vreet.

met my eie oe
9.46 vm. Die buffel gooi tou op.
oe
9.46 vm. Die hiënas trek 'n kalf plat.

Voordat ek nog dit kon afneem, het ons gids my aandag gevestig op iets wat aan die ander kant van ons voertuig gebeur.

Buffels was besig om leeus van die toneel af weg te jaag. Ek het onmiddellik my kamera na die leeumannetjie gedraai wat van die buffels af weggevlug het. Ongelukkig vir die leeumannetjie het die buffeltrop hom ingehaal en begin karnuffel.

foto
9.47 vm. Die buffels trek 'n leeu plat!
met my eie oe
9.47 vm. Die buffels gooi die leeu in die lug op.
met my eie oe
9.47 vm. Die buffels karnuffel die leeu.

Dinge het nie goed vir die leeu verloop nie. Later het dit gelyk asof die buffels staan en kajuitraad hou oor of hy dood is of nie.

met my eie oe
9.48 vm. Die leeu is op die planke.

Die buffeltrop het die leeu vir dood daar gelos. Intussen het die ander leeus voortgevreet aan die buffelkalfkarkas. Tien minute later het die gewonde leeu mank-mank opgestaan en in die bosse verdwyn.

Die hele episode het maar slegs 17 minute geduur!

met my eie oe
9.49 vm. Die buffels kyk of die leeu dood is.
foto
9.54 vm. Die ander leeus vreet voort...
met my eie oe
9.58 vm. Die leeu het oorleef

Pierre Jordaan, Trichardt, Mpumalanga

“Die Ngorongorokrater voel soos ’n groot dieretuin. Die krater is sowat 300 km² groot en as gevolg van die hoë minerale inhoud van die grond is daar baie gras en mooi koorsbome wat ’n ongelooflike verskeidenheid wildsoorte onderhou.

“Toe ek met my laaste besoek olifante afgeneem het, het ek van dieselfde punt af onder meer Thompson én Grant se gaselle, sebras en elande om my sien wei. Vir voëlliefhebbers is hier flaminke, mahems, pelikane, witborsjakkalsvoëls en kleinswart-ooievaars in die krater.

“Daar is geen plek ter wêreld waar jy soveel verskeidenheid in één dag kan sien én goeie foto’s van die diere kan kry nie.

“Vir hierdie foto’s (ek het in totaal omtrent 100 geneem) het ek my Canon EOS 7D Mk. II-kamera gebruik met ’n Canon EF200-400 mm-lens (met ’n verlengstuk). Die fokusafstand was 540 mm, die fokusdiepte f8 en ISO 800. Vir die eerste paar foto’s was my sluiterspoed 1/800ste van ’n sekonde en daarna 1/1 600ste van ’n sekonde.”