My dogter, Karlien, woon op ’n plaas naby Komatipoort, Mpumalanga, op die grens van die Krugerwildtuin. Sy het my eenkeer vertel die tiervisse in hulle besproeiingsdam vang swaeltjies. Ek kon dit nie glo nie! Ek het dit afgemaak as ’n oordrewe “vissermanstorie”, maar sy het my verseker dat sy dit sélf gesien het.

In Januarie 2018 kuier ek en my vrou, Alma, by hulle. Een middag gaan ons dam toe om ’n tiervis aan die hoek te probeer kry – maar ons lyne het nie veel aksie gekry nie. Dit was rustig by die dam, en toe byt ons maar vas.

Skielik roep Karlien opgewonde ’n tiervis het pas ’n swaeltjie gevang! Sy wys na die middel van die dam waar ’n duidelike roering in die water is.

Karlien moedig my aan om my kamera te gaan haal, maar ek is onwillig. Hoe gaan ’n mens die foto neem? Daar is dosyne swaeltjies wat vinnig – én in verskillende rigtings – laag oor die wateroppervlak vlieg om water te skep. Hoe weet jy waar die vangs gaan plaasvind?

Watter swaeltjie volg jy?

Buitendien is ’n mens se oog-handkoördinasie só stadig dat as jy die aksie sien en die sluiter druk, die aksie reeds verby is en jy net ’n gespat van water afneem. Ek laat my egter ompraat en tussen ons werk ons ’n sisteem uit om tog ’n paar skote te neem.

Die toneel is ver, die aksie vinnig en die gehalte van die foto’s dus nie wat ’n mens sou wou hê nie, maar ek het immers die bewys gekry dis nie net ’n vissermanstorie nie. Dié drie foto's wys hoe vang die tiervis ’n swaeltjie:

En die foto wys ’n mislukte poging waar ’n swaeltjie weggekom het:

Sedertdien het ons ’n paar soortgelyke tonele aanskou.

WAT SÊ ’N KENNER?

Die jag van tiervis (Hydrocynus vittatus) op Europese swaels (Hirundo rustica) wat water drink, is nie nuut nie. Tog ken die meeste mense dit glad nie. In die laat jare vyftig het die veldwagter T.B. Oatley reeds die predasie van tiervis op swaels by die Nyamiti-meer in die Ndumu-wildreservaat in die noorde van Natal aangeteken. Die gedrag is ook later deur kunsvlieghengelaars opgemerk in die Laeveld in die Komatipoort-omgewing.

’n Verslag oor dié gedrag is in 2014 in die Journal of Fish Biology aangeteken. Dié span navorsers het die gedrag waargeneem by die Schroda-dam in die Mapungubwe- nasionale park.

Oor ’n waarnemingsperiode van 15 dae het hulle tot 20 jagpogings per dag gesien.

Interessant genoeg word die gedrag tans slegs in klein opgaardamme waargeneem. Omdat die voedselvoorraad beperk is in sulke damme, moet die tiervisse dus uit nood ander moontlike prooi teiken.

- Lukas Niemand, ekoloog

Pietman Muller, Levubu

Ons familie boer met avokado’s, makadamias en koejawels.

My kamera gaan meestal saam as ons iewers in die natuur is. Gewoonlik is dit ’n pakkaas met kameraflitse, ’n driepoot en ekstra lense, net ingeval. Die ingeval realiseer egter meeste kere nie...

Ek gebruik deesdae ’n Nikon D4 met Nikon 500 mm-f4-lens, maar ek het my eerste SLR- kamera gekoop toe ek 21 was (44 jaar gelede, en hy werk nog!). Die bosveld was in my bloed van hoërskooldae af, maar toe was my kop meer vol van visvang en jag. Ons woon naby die Kruger en kuier baie daar.

Daar was ’n periode van 15 jaar in die laat 1990’s en vroeë 2000’s dat ek my kamera gebêre het, hoofsaaklik as gevolg van werkdruk, en die koste van ontwikkeling en druk van foto’s. Maar in 2007 het ek my eerste digitale kamera gekoop en dit het weer die passie laat herleef. 

WAT HET JY AL MET JOU EIE OË GESIEN?

Stuur jou vertelling en reeks foto’s van iets ongewoons wat jy in die natuur gesien het na toast@weg.co.za

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook