Krugerwildtuin

In Januarie vanjaar het ek 25 dae in Suid-Afrika deurgebring, hoofsaaklik in en om die wildtuin. Een oggend het ek van die Malelane-hek af met die H3 gery toe ek ’n stilstaande safarivoertuig langs die pad teëkom. In die middel van die teer was ’n verkleurmannetjie – duidelik in nood.

Die bestuurder van die voertuig het vertel dat die verkleurmannetjie deur ’n slang gebyt is. Sy aankoms het die slang in die lang gras langs die pad laat verdwyn en die verkleurmannetjie was in sy doodsnikke.  

Foto: Tom Latus
Foto: Tom Latus

Die safarivoertuig het vertrek en ek het gewag in die hoop dat die slang weer sou opdaag om die verkleurmannetjie te eet en ek dit sou kon afneem. Ná ’n paar minute het ’n slang (ek het vermoed dis ’n swartmamba) uit die gras verskyn. Hy het vinnig na die verkleurmannetjie geseil, hom opgetel en na die lang gras gedra waar hy waarskynlik sy ete in vrede geniet het.

Foto: Tom Latus
Foto: Tom Latus

Ek het geweet slange is vinnig, maar nie só blitsig nie! Ek het dié foto’s geneem met my Nikon D7200 en Sigma 150-600-zoemlens.

WAT SÊ ’N KENNER?

L.D. van Essen: Hierdie is ’n boomslang (Dispholidus typus). Selfs al gee die foto nie ’n duidelike profiel van die kop nie, is die tipiese “death smile” van die swartmamba (Dendroaspis polylepis) nie teenwoordig nie. Die kop is korter, die oog groter en die skubbepatroon nie dieselfde as dié van ’n swartmamba nie.

Die prooi is ’n flapnekverkleurmannetjie (Chamaeleo dilepis). Verkleurmannetjies en ander akkedisse is deel van die gewone dieet van ’n boomslang, tesame met paddas, voëls en eiers. Verkleurmannetjies is maklike prooi vir slange en ander roofdiere wanneer hulle in oop ruimtes beweeg met hulle tipiese agterwaarts-voorwaarts-bewegings. Ongelukkig beland hulle ook dikwels onder niksvermoedende motoriste se motorwiele.

Deel foto’s en besonderhede van reptiel- en padda-roofverskynsels met die Facebook-groep “Predation Records – Reptiles and Frogs (Sub-Saharan Africa)”. 

Tom Latus
Tom Latus

Tom Latus, Brittanje

Ek is ’n afgetrede Britse polisieman en woon nou op die Franse platteland. Ek besoek Suid-Afrika twee keer per jaar en bring baie tyd deur in natuurreservate in KwaZulu-Natal, Limpopo en Mpumalanga.  

Die wonderlike gasvryheid en verstommende natuurlewe – veral in die Kruger – laat my elke jaar terugkeer. Geen twee dae in die wildtuin is ooit dieselfde nie, en omdat ek toeristeseisoene vermy, is ek dikwels op my eentjie terwyl ek ’n dier dophou.

WAT HET JY AL MET JOU EIE OË GESIEN?
Stuur jou vertelling en reeks foto’s van iets ongewoons wat jy in die natuur gesien het na toast@weg.co.za