Hoe werk die toer? Dit is gegrond op ons gewilde Botswanatoere, met een belangrike verskil: Een van Weg se fotograwe reis vir 11 dae saam met jou.

Dit beteken jy het heeldag (en totdat die kampvuur se kole saans begin vaal raak) kans om dié professionele fotograaf te peper met al jou fotovrae. Jy kry ’n paar keer ’n informele “les” in die bos, waar jy fotowenke leer wat jou toerfoto’s dadelik beter gaan maak. Jy kry ook fotografienotas en padlangs kry jy terugvoer oor jou foto’s soos jy dit neem.

Watter soort kamera het ek nodig? Enige kamera is welkom, van mik-en-druk tot superzoem tot ’n D-SLR met al die lense. Ons leer jou hoe om die beste resultate te kry uit die toerusting wat jy reeds besit.

Watter plekke sien ek? Die Mahango-wildreservaat , Chobe- nasionale park, Kubu-eiland, Botetirivier, Okavangopypsteel, Tsodiloheuwels, BwaBwata- nasionale park, Zambesirivier, Kasane, Victoriawaterval. En als tussenin!

Hou ek darem vakansie ook? Glo my, ons gaan jou by party plekke uit jou tent moet skud om jou daar weg te kry! Die reisplan is oor die jare verfyn om seker te maak daar is ’n balans tussen die dae wat jy lang ente moet ry, en dae wat jy net kan niksdoen. Die toergids en sy span berei jou maaltye, en jou tent word op- en afgeslaan. Jy het dus meer tyd vir diep sit in die kampstoel.

Het ek ’n bakkie nodig? Hoewel die meeste van die toer se kilometers op teerpad afgelê word, is dit beter om ’n bakkie of sportsnutsvoertuig met goeie grondvryhoogte te ry. Skakel direk met Mpafa (sien onder) om te hoor of jou spesifieke ryding reg is.

Weg Botswanafototoere in 2018
  • 15-25 Maart
  • 15-25 Julie

Vertrekpunt: Letlhakane, Botswana

Koste R14 950 p.p.

Besprekings 044 535 0065; info@mpafa.com; mpafa.com 

Klik hier vir nog inligting oor die toer.